Vroue in die Amp

Iets wat ek dadelik opgemerk het op hierdie Sinode, is die groot aantal vrouepredikante. Een is selfs gekies as deel van die Moderatuur! Nogal een van ons nuwe jong dominees, Ds Nola Malan. En nee, sy is nie die eerste een wat die pos beklee as Skriba nie, haar voorganger, Ds Marlize Malherbe het daardie pos met groot waardigheid beklee die afgelope 5 jaar.

Maar dit was nie ‘n maklike pad vir die vrou om tot hier te vorder nie. Daar was oor die jare baie teenkanting. Dit was eers op 20 Maart 1994 wat die eerste vroue-predikant in die NG Kerk, Dr Gretha Heymans bevestig is. En dit na ‘n bitter worsteling van baie jare! Sy het alreeds in 1980 ingeskryf vir haar graad in BA Admissie. Een van haar medestudente het ‘n snedige opmerking gemaak teenoor haar: “Wat soek jy hier?”

Die stryd begin egter al lank voor hierdie tyd, en dit was eers in 1982 toe die Algemene Sinode goedgekeur het dat vroue tot die amp van Ouderling toegelaat kon word.

Maar terug by die huidige. Vandag is ons trots om ‘n groot span van nie minder nie as nege vroue as volwaardige, of eerder waardige predikante op ons KZN Sinode te kan hê!