Sonder vrees vir teenspraak is dit duidelik dat die Ned Geref Kerk hom opnuut in stormagtige vaarwaters bevind. Die ervaringe van die pas afgelope Algemene Sinode sny na twee kante, positief én negatief. Wat egter soos ‘n paal bo water staan, is dat eerlike selfondersoek, selfkritiek, selfverootmoediging, ‘n nuwe gerigtheid op God, ‘n nuwe toekeer tot God, ‘n nuwe nadenke oor die roeping wat ons van God ontvang het, ‘n onverhandelbare aksioom blyk te wees. Eerlikheid oor onsself, met God, met mekaar, is noodsaaklik. Ons moet ons opnuut oopstel vir die werking van die Gees. Ons het behoefte aan ‘n nuwe aanraking, ‘n nuwe salwing deur die Gees van God. Dit sit gewoon nie in ons koue klere om dit in eie krag te bewerk nie. Die geestesklimaat wat die hele wêreld adem, dreig om ook die NGK mee te sleur.
Kortliks wil ek net op die enkele historiese bakens van die afgelegde weg wys. Wat ons hier te lande beleef, is nie iets wat geïsoleerd gesien kan word van die kultuur-historiese oorgange wat wêreldwyd aan die gang was en is nie. Dit staan in die nouste verband met ideologiese skuiwe wat wêreldwyd plaasgevind het. Die geweld daarvan tref ons gewoonlik ietwat later. Ook in ons dag moet gebeurlikhede in ons land teen die agtergrond van die universele geestes-historiese oorgange gesien word. Bygevolg is ons nie geïsoleerd met dinge wat met ons gebeur nie; ons is en bly deel van grondverskuiwings wat wêreldwyd aan die orde van die dag is. By historiese bakens waarby ons reeds verby is, om enkeles te noem, is: die agrariese tydpark, die Konstantynse era (Corpus Christianum), die Verligting (Renaissance), die tydperk van blanke oorheersing, die tydperk van die manne-heerskappy, ensomeer. Onder die kortste noemer tuisgebring het die groot wending na die Tweede Wêreldoorlog plaasgevind.
Die winde van verandering waai ook deur die kerk, op teologiese gebied. Die einde van die koloniale era het byvoorbeeld die tyd van die sogenaamde ‘politieke teologie’ ingelui. Vir meer as drie dekades sou dit die teologiese toneel domineer.
Die grootse geestesverskuiwing was die versekularisering van die hele lewe. Bygevolg het die geestelike dimensie uit die lewe van die mense begin verdwyn. Die lewe het wêrelds geword, aards, met geen dieptedimensie meer nie. Die behoefte aan godsdiens was aan die afneem. Die verwildering van sedes het hand oor hand toegeneem. ‘n Tydperk van normloosheid is aan die orde van die dag. Die gevoel van skaamte en skroom het soos mis voor die son verdwyn. Die grense van skroom en ordentlikhied is oorgesteek. Die sanksie van die samelewing as moraalskeppende grootheid het eenvoudig verdwyn. Tiperend hiervan is die verval van die huweliksmoraal. Die vlak van promiskuïteit het geweldig gestyg. Die huwelik het toenemend uit die mode geraak. Die ‘heiligheid’ wat die seksuele tradisioneel aangekleef het, het verdwyn. Mense woon saam sonder dat hulle bereid is om trou aan mekaar te sweer. Seksuele kuisheid het ‘n agterhaalde term geword. Die tradisionele huisgesin, waarin kinders vastigheid en beskerming vind, word lank reeds ernstig bedreig. Seks is losgemaak van trou en verbondenheid; die uitbuiting daarvan het na die benede menslike vlak gedaal; dit het wild en eksplisiet geraak; dit word op ‘n perverse wyse uitgestal. Wat egter eie aan die jongste verlede is, is dat die term ‘getrouheid’ tot dusdanige absolute verhef is, dat dít jou seksuele oriëntasie konstitueer; dít het nou die deurslaggewende norm geword. Die weg waarlangs die kerk hierdie denkwyse ten prooi geval het, is vir vele ‘n uitgemaakte saak.
Wat die roeping van die kerk betref: Een ding staan soos ‘n paal bo water, en dit is dat die verlede nie geïdealiseer moet word nie. Daar was nooit regtig ‘die goei ou dae’ waartydens letterlik alles net goed en wel was nie. Dit bestaan hoogstens in ons verbeelding. Die tye waartydens die kerk ‘n aanvaarbare, vanselfsprekende en belangrike rol in die samelewing vervul het, is, op enkele uitsonderings na, iets van die verlede. Vir dekades al het die proses van verwêreldliking, waarin lank nie meer met God rekening gehou word nie, sy duisende verslaan. Dit het die kerk al male sonder tal in groot onsekerheid gedompel. Die kerk is na die rand van die samelewing gedruk, na die sfeer van die persoonlike. Bygevolg ly die kerk in toenemende mate aan funksieverlies. Die een vermeende etnosentriese-gerigte kerk (volkskerk) na die ander het gekwyn. Dit in sigself kan nie betreur word nie; ‘n na binne-gekeerde kerk stuur kort voor lank op ‘n suurstoftekort, op bloedarmoede af. Ons bevind ons lankal in ‘n post-kerklike, post-Christelike era waar Christelike geloofsoortuigings, soos dit in die belydenisskrifte vervat is, deur die gewone mens prysgegee is. Die gebrek aan kerklike meelewing, sogenaamde “kerklike gedistansieerdheid”, vertel allesbehalwe ‘n prettige verhaal. Daar is weliswaar nog baie religieusiteit, maar dit dra in vele opsigte nie meer ‘n kerklike karakter nie. Dat die kerk nog kan getuig van ‘n sterk maatskaplike betrokkenheid, ly geen twyfel. Desnieteenstaande mag hierbinne ‘n groot stuk religieusiteit aanwesig wees, sonder dat dit noodwendig uitdrukking verleen aan die eg-Christelike geloof.
Dit alles in ag genome, verbaas dit dan vir een oomblik dat die missionaliteit van die kerk opnuut so hoog op die kerklike agenda geplaas is? Dit moet uiteraard van harte verwelkom word, omdat dit per definisie met kerkwees saamhang. Hoedanig hieraan al die verlangde stukrag verleen is, sal die tyd nog wel deeglik leer.
Nader aan huis: wat staan die NGK te doen? Ons bevind ons dag-in en dag-uit voor die aangesig van God (coram Deo). Die grootste denkfout denkbaar wat ons kan maak, is om eenduidig die steeds verswakkende bywoning van eredienste, die toenemede kerklike onbetrokkenheid, aan die gees van die tyd, die massamedia, ensomeer toe skryf. Insgelyks is die afskilfering na charismatiese kerke en groepe nie uitsluitlik aan ervaringshonger lidmate toe skryf nie. Soos die kruispaaie waarvoor die NGK in die verlede te staan gekom het, bevind ons ons opnuut by ‘n kruispad wat opnuut ‘n hartgrondige inkeer tot God , ‘n eerlike soeke na sy Ryk en wil, van ons vra.
Hoe vanselfsprekend dit ookal mag klink: Is ons verhouding tot God nog in harmonie met Christus se heilige wil vir die kerk? En: Wat is ons eie skuld aan die situasie soos dit tans die geval is? Ons het onlangs Hervormingsfees gevier: Leef ons nog genoegsaam uit die evangelie van die genade? Hang baie van ons probleme nie hiermee saam nie? Dra ons dit nog genoegsaam aan ons lidmate oor? Het die kerk nie, met die beste bedoelinge denkbaar, net soos baie ander kerke in die wêreld, aangepas by die samelewing en homself daarmee tevrede gestel om religieuse sanksie te verleen aan die waardes en aspirasies van die gemeenskap wat hy dien, sodat die vreemdheid van die kerk as teken en instrument van die Koninkryk verlore geraak het nie? Verbaas dit dan nog as so baie lidmate hulle heil elders gaan soek, of gewoon aan geen kerk meer wil behoort nie?
Die ergste ding wat met die kerk kan gebeur, is dat hy die evangelie van die verlossing uit genade, die evangelie van die redding van sondaars, nie meer duidelik genoeg deurgee nie. Die gevolg? Natuurlike religieusiteit, met sy werkgeregtigheid sluip die kerk binne. Dan kan die kerk nie meer verwêreldliking buite sy deure hou nie. Dit is gewoon ons eie skuld as so baie lidmate nie meer die evangelie van genade ken nie, ervaringshonger raak en dit dan elders gaan soek. As ons ons werklik tot God inkeer, sal ons ons geestelike onmag voor God in diepe ootmoed bely. Hiérdie boodskap van sonde en genade moet weer met krag gepredik te word – óók in die kategese; as die skeefgroei hiér al begin, wag nóg groot probleme op ons. Die regverdiging deur die geloof moet so verkondig word dat dit duidelik blyk hoe innig die belofte en eis van die Woord van God, die vryspraak en die oproep tot totale lewensoorgawe, regverdiging en heiliging met mekaar saamhang. Verlossing van sonde, ja, maar verlossing tot navolging van Christus (imitatio Christi). Dit is eenvoudig hartverskeurend as ‘n soort goedkoop genade verkondig word. Moralistiese prediking, prediking van goedkoop genade, kom teen ‘n baie duur prys. Vir sover lidmate nie die sáák ken van met Christus te sterf en op te staan nie, dreig hulle om, al ons groot organisasie en ondernemingsgees ten spyt, in ‘n diepe ongeestelikheid te verval…
Die ware kenmerke van ons tyd word al duideliker sigbaar. Ons sal onsself moet afvra wat die Here in hierdie tydsgewrig van ons verwag. Niks is so belangrik nie as om terug te keer na basiese Christelike waardes; die hart hiervan is dat ons ons voor die aangesig van God lewe, dat Hy naby is, dat ons verantwoording aan Hom verskuldig is, dat ons sy koninkryksbelange voorop sal stel. Hierdie wysheid en nugterheid kan net die Gees van God aan ons skenk. Hiersonder word ons maklik die prooi van die gees van die tyd. Kom, o Skeppergees! (Veni Creator Spiritus!)
Indien die NGK in die huidige situasie aan sy doel wil beantwoord, sal hy dit vir homself opnuut moet uitmaak wat hy as sy eie identiteit beskou én onwrikbaar daaraan getrou bly, al sou dit op aanstoot stuit; sou dit wel die geval wees, is dit noodsaaklike aanstoot. As die NGK kies om ‘n gereformeerde kerk te bly wat met die Woord van God alle mense wil aanspreek, sal hy moet waak teen allerlei vorme van aanpassing met die subtiele doel om sy aanhang te bewaar. Die kwelvraag by sommige predikante, teoloë en lidmate is of die NGK, by name wat omstrede besluite betref, nie besig is om hom hieraan skuldig te maak het nie….
Seënwense,
Dr. Dawie Oosthuysen
Emeritus
Ned Geref Gemeente Margate.