Ons Fokus

In Christus is ons HOOP

Die NG Kerk in KZN bestaan tans uit 50 gemeentes met ongeveer 18 800 belydende lidmate en 4, 150 dooplidmate.
In 2012 het die Sinodevergadering van die NG Kerk in KZN gesê dat die waarheid waarop ons vir die volgende vier jaar gaan fokus, is: In Christus saam op pad. Nie dat hierdie waarheid nie ook voor Oktober 2012 waar was en dat dit nie meer na Oktober 2016 waar gaan wees nie, maar ons wou daarop konsentreer om dit prakties te maak.
Ons het! (Iets waarmee die Emmausgangersverhaal, Lukas 24:13-35, ons begelei het). Daarom wil ons die ‘In Christus Saam op Pad’ wees van die afgelope vier jaar tydens hierdie sinodevergadering vier en, inderwaarheid, herbeleef.
In Christus saam op pad wees, so het ons mos agtergekom, was nie sonder hardepad- en sweettye nie én dit gaan ook vorentoe so wees. Ons leef in ‘n gebroke werklikheid.

Hoe lyk die pad dus nou saam vorentoe?

Die soort van gedagtes en vrae was op die tafel van die Sinodale Visionêre Leierspan (SVL), wat as Ontwerpspan van die sinodevergadering dien. Toe lees ons verder in die Bybel, spesifiek die gedeelte net ná die Emmausgangers se saamstap-verhaal, Lukas 24:36 – 53. Onmiddellik gryp dit die groep aan die hart! Jesus leef! Hy het opgestaan en kondig sy immer-teenwoordigheid by ons, soos vir die dissipels, steeds aan met “Vrede vir julle!” In Christus is ons hoop, so besef die groep, in die verlede, nou en in die toekoms.

Die dissipels was, ondanks Jesus se teenwoordigheid en vrede-aankondiging, steeds verskrik en twyfelmoedig. Om hulle te help, wys Jesus vir hulle “prente”/goed van sy kruisdood en opstanding om die twyfel en verskriktheid te verdryf en hoop by hulle te bring.

Die Ontwerpspan/SVL besef toe net dat ons in die afgelope vier jaar ook ‘n hele “In Christus saam op pad – album” van prente en gebeure het waarin Jesus self, deur die kerk se lewe, vir ons wys dat Hy leef, dat Hy regeer en dat Hy ons hoop is.

Hierdie album van hoop het meer prente en gebeure in as net dit wat in KZN gebeur het. Dit sluit, onder andere, prente en gebeure in van wat Jesus die afgelope vier jaar binne die hele NG Kerk gedoen het (Soos dit verslag is in twee Algemene Sinodevergaderings in 2013 en 2015).

Die tema vir die sinodevergadering, Oktober 2016, was toe ‘n gegewe! – In Christus is ons hoop 

Die Ontwerpspan kon nie miskyk dat Jesus vir sy geloofsversterkte dissipels sê dat hulle die getuies van die Goeie Boodskap van Jesus Christus, vanaf Jerusalem en al verder, is nie. Die hoop moet gedra word, die Goeie Nuus versprei en geleef word – deur dissipels, die NG Kerk in KZN en al die volgelinge van Jesus. Dit is wat kerkwees beteken; missionaal wees. Daarom moet het ons dit verantwoord in die sinodevergadering van die NG Kerk in KZN.

Die sinodevergadering het nie net agtertoe gekyk, om so versterk te word in geloof en hoop nie, maar ook vorentoe. In Christus is ons hoop moet in die NG Kerk in KZN praktyk wees, en gedra word vanaf Pietermaritzburg en verder.
Die Ontwerpspan het ‘n logo laat ontwerp om dit wat gehoor is in Lukas 24:36 – 53 en wat ingebou is in die vergadering-ontwerp, sigbaar te verantwoord:

Hierdie logo wil beklemtoon dat Christus die middelpunt is wat sy kerk rondom Hom vergader en vir ons hoop gee – ‘n alternatiewe gemeenskap. Maar Hy stuur ons ook uit om hierdie HOOP met ander te deel, en daarom is die NG Kerk in KZN nie ‘n eksklusiewe gemeenskap nie, maar een wat met die liefde van Christus uitreik na ander en hulle innooi (‘n gebroke sirkel).

Die SVL is nou deurlopend besig om hierdie tema verder uit te pak aan die hand van 6 fokusse, naamlik:

  • Ekologie
  • Missionale DNS
  • Die bring van hoop in ons sinode
  • Publieke getuienis
  • Die Christelike lewensstyl en waardes
  • Ekonomie

Daar sal ook in die tweede kwartaal van 2018 ‘n Bybelstudieboekie wat deur die SVL geskryf word deur Bybelmedia uitgegee. Hierdie boekie sal ‘n klompie oordenkings oor hoop bevat en sal in dieselfde formaat as die “In Christus saam op pad” boekie wees.