Ons Storie

Die NG Kerk se ontstaan in Natal

Die NG Kerk in Natal het begin met die aankoms van die eerste Voortrekkers uit Kaapland. In die Maritz-geselskap wat in September 1836 uit Graaff-Reinet vertrek het na Natal, was die Trekkerpredikant, eerw Erasmus Smit. Hy het grootgeword in ‘n weeshuis in Amsterdam, opgelei as sendeling in Amerika en het in 1804 in Suid-Afrika aangekom.  Saam met hom op die trek was sy vrou Susanna (van die faam ‘Kaalvoetvrou’), een van hul twee seuns en ‘n aangenome kleurlingmeisie. Erasmus Smit was 58 jaar oud en Susanna was 36. Susanna was die suster van Gert Maritz en die geselskap was dus grotendeels verwant aan mekaar. Onder hul aangetroude familie was Retiefs en Scheeperse, en later het ander familielede by hulle aangesluit, nl. Oosthuizens, Rudolphs en Jansen van Rensburgs. Die Smits is 7 dae uitmekaar oorlede, in 1863.

Die Voortrekkers se lang tog oor die Oranjerivier en die Drakensberge het meer as twee jaar in beslag geneem. Hulle het in ‘n Noord-oostelike rigting, naby die latere dorpe Middelburg, Steynsrus en Burgersdorp verby na Sanddrif in die Oranjerivier getrek, en van daar na die hedendaagse Oranje-Vrystaat. In November het hulle Thaba Nchu bereik; deur die trekkers Blesberg genoem. In Maart 1837 begin eerw. Smit die eerste doopregister vir die Trekkers op Modderrivier naby Blesberg en gee dit die opskrif: “Doop Register van de Gereformeerde Kerk Reizende door Z.O. Afrika”.

Met die aankoms van ‘n verdere trekgeselskap onder leiding van Piet Retief, in April 1837, het daar tussen 1400 en 2000 trekkers Noord van Thaba Nchu gestaan. Dit is ook daar waar die Smits se 21jarige seun oorlede is.

Min trekkers was ingenome met Erasmus Smit as hul leraar. Nietemin het hy sy beste gedoen as leraar en op reis het die trekkers dus al ‘n eie kerk gehad – kinders  is gedoop, lidmate aanneem en huwelike bevestig. Die Maritz-geselskap het teen Erasmus gekant geraak en so het die Smits hulle by die Retief-trek aangesluit. Daar het ‘n meningsverskil omtrent die verdere trekroete ontstaan en Maritz en Potgieter met hul mense het besluit om noordwaarts te trek en die Smits is saam met die Retief-geselskap ooswaarts langs die Sandrivier. Gedurende die winter en lente van 1837, trek hulle verby die huidige dorpe Senekal, Paul Roux, Bethlehem en Kestell.

19 Oktober 1837 het Piet Retief se trekgeselskap stuksgewys met die Oliviershoekpas die Drakensberg begin uittrek. Die trekgeselskap het links van die Oudebergspruit die berghelling uitgetrek tot by ‘n fontein, naby die huidige Retiefklip, waar hulle uitgespan het.

Erasmus Smit het die rant Kerkenberg genoem omdat dit hom aan ‘n kerk of ‘n plek van godsdienstige byeenkomste herinner het. Piet Retief het gedurende dié tyd sy eerste besoek aan koning Dingane afgelê, om oor grond vir die Voortrekkers te onderhandel; wat later so tragies anders uitgedraai het. Op sy 57ste verjaarsdag (12 November 1837) het sy dogter, Debora Retief, haar vader se naam en die datum hier op ‘n oorhangende rots met groen verf geskryf.

Die Retief-trekgeselskap het tot 13 November 1837 by Kerkenberg vertoef en op 14 November het hulle daarvandaan met die kort, steil Retiefpas die berg af getrek tot in Natal.

Op 24 November 1837 het die Trekkers tydelik tot rus gekom binne die grense van die latere Winterton-gemeente.: “Na zeer veel moeite”, skryf Erasmus, “meer dan 20 remhoogten (sommige met 2 ketenen aan een voor-en aan een achterwiel der wagens geremd) kwamen wij met 18 wagens tegen zonsondergang in de laagte aan den voet van dien grooten Drakensberg, alwaar wij bij water en zeer goed gras uitspanden.”

Die eerste baba is daardie dag in Dingaan se land gebore. Johannes Hendrik de Lange.

Die eerste vier Kerkraadslede is gekies op 3 Des 1837 deur eerw Erasmus Smit. Die eerste kerkraadsvergadering is op die volgende Sondag gehou wat op versoek van die kerkraad deur die goewerneur as kommissaris-politiek bygewoon is. Die Natalse Kerk was dus ’n staatskerk tydens die aanlê van die kolonie deur die Voortrekkers. Hiermee was die NG Kerk in Natal amptelik gevestig en sigbaar in aksie.

Op 23 Oktober 1838 te Zooilaager naby Loskop, gee die “Trekkersraad” die naam Pietermaritzburg aan hulle stad van die toekoms.

Vroeg in 1839 is die regulasies opgestel en is erwe kosteloos uitgegee aan die inwoners van die dorpie. Philip Rudolph Nel was die eerste Landdros van Pietermaritzburg.

Pietermaritzburg (Voortrekker gemeente) was die eerste gemeente wat die Voortrekkers buite die destydse Kaapkolonie, in 1839 gestig het. Saam met gemeentes in Vrystaat en Transvaal het dit die Transgariepse Ring gevorm. Trouens die hele gebied noord van die Grootrivier (Oranje) is Transgariep genoem en Pietermaritzburg het dus onder die Kaapse kerk sorteer.

Die eerste  kerkdienste was in die ‘Rietekerk’ gehou. Dit was ‘n struktuur van houtpale waaroor seile getrek is. Die eerste drie dopelinge is daar in 1840 deur eerw. Erasmus Smit gedoop.

Die ‘Rietekerk’ was gou te klein en bouwerk is begin aan die Geloftekerk, oftewel Voortrekkerskerkie – vanwaar die gemeente ook sy ander naam, die Voortrekkergemeente gekry het. Die Geloftekerk is opgerig na aanleiding van  Sarel Cilliers se plegtige gelofte op Danskraal op 9 Desember 1838. In April 1841 is die Geloftekerk ingewy en het vir ruim 20 jaar as aanbiddingsplek gedien. Vandag is dit deel van die Voortrekker Museum.

Behalwe Erasmus Smit het twee ander sendelinge die Voortrekkers bedien voor die aanstelling van ‘n vaste predikant. Die Amerikaanse sendeling Daniël Lindley het op 1 April 1841 die aanstelling as predikant van die Voortrekkers aanvaar. Sy gemeente het van Port Natal (nou Durban) tot oor die Drakensberg, tot aan Winburg en Potchefstroom gestrek en verskeie kere het hy die hele gebied deurreis. Ds. Lindley het die Hollandse taal heeltemal magtig geword. Hy het selfs vir president Kruger as lidmaat aangeneem! Van Maart 1847 tot 1849 het eerw. Jakob Ludwig Döhne van die Berlynse Sendinggenootskap die pligte van herder en leraar behartig. Döhne het onder andere die Nuwe Testament in Zoeloe vertaal.

In 1843 is Natal tot ‘n Britse Kolonie verklaar. Die Kaapse Goewerneur het die Republikeinse Regering se reg om ‘n onafhanklike staat te vorm, ontken en verklaar dat hulle Britse onderdane bly. Ontevredenheid het onder die Natalse Voortrekkers geheers en die Goewerneur het dit goedgedink om aan hul godsdienstige behoeftes te voorsien en dus ‘n welbekende Kaapse predikant, Abraham Faure, tydelik na Natal gestuur in 1843. Faure was egter onsimpatiek teenoor die Voortrekkers en het aanstoot gegee. Hy was uit voeling met die Trekkers se vryheidsgees en het Britse onderdanigheid voorgestaan. Sy seun, dr. HE Faure, het later uit Holland in die Kaap aangekom en is in Junie 1852 aangestel as die eerste gevestigde predikant in Natal. Hy het 5 jaar lank as enigste predikant hom goed van sy taak gekwyt, voor hy terug is na Holland as gevolg van swak gesondheid.

In 1854 is die 2de gemeente afgestig, naamlik Ladysmith – waar ds. DPM Huet bevestig is.  In 1859 is Weenen en Greytown ook afgestig en die koms van ds. LGF Biccard as predikant van Greytown in 1861.

Die Ring van Transgariep het net 10 jaar bestaan toe dit in 1862 ontbind is en oorgegaan het in 2 ander Ringe naamlik die Vrystaatse en Natal-Transvaalse Ringe.

Op die Ringsvergadering te Utrecht in 1864 is besluit dat die Natalse Ned. Geref. Kerk ‘n afsonderlike Sinode sou vorm en om die band tussen die vier Natalse gemeentes en die Transvaalse gemeentes (Utrecht en Lydenburg) amptelik los te maak.  Op ‘n spesiale Ringsvergadering te Pietermaritzburg in Oktober 1864 onder voorsitterskap van ds. F. Lion Cachet, is ‘n eie Sinode gekonstitueer.  Die eerste Natalse Sinodevergadering is op 7 Junie 1865 in Pietermaritzburg gehou met ds. DPM Huet as moderator.

Die groei van die kerk in Natal was stadig maar seker. Die eerste 2 Ringe is eers in 1940 gestig, naamlik Pietermaritzburg en Ladysmith. Toe reeds was die lidmate 1150 in totaal. In 1984 was daar 69 gemeentes en dit sou nie meer word nie.  Op die huidige stadium, 2018  is daar 53 gemeentes in KZN se Sinodale gebied.

Met die druk van die eerste NG Kerk Jaarboek in 1885 was daar reeds vyf gemeentes: Pietermaritzburg, Ladysmith, Greytown, Weenen en Newcastle.  In hierdie tyd het Vryheid en Utrecht gemeentes ook bestaan, maar was toe deel van die Vrye Republiek (later Transvaal). In 1952 word ‘n buitengewone Sinodesitting gehou vir die plegtige oordrag van die gemeentes Vryheid, Utrecht, Paulpietersburg, Babanango en Louwsburg na die Natalse Sinode. In 1979 volg die oordrag van die gemeentes Cedarville, Matatiele en  Kokstad uit die Oos-Kaap.

Die saak van ‘n eie kerkseel is vir die eerste keer aangeroer in 1887 deur die predikant van Weenen, ds. G A Döhne. Sy voorstel dat dit ‘n driehoek met een duif en een olyftak moet wees, is met volstrekte meerderheid tydens die 21ste Sinode sitting in 1889, amptelik aanvaar. Met die amptelike ingebruikneming van die seel in 1889 het die Natalse kerk uit vyf gemeentes bestaan.

Die kerkseel sou hierdie jaar in 2019, 130 jaar oud wees. Die Argiefwerkgroep het besluit dat die nuwe Kerkseel aan die Moderamen voorgelê moet word vir goedkeuring. Die verandering na ‘n blou kerkseel en na NG Kerk in KwaZulu-Natal is aanbeveel. Tydens die Moderamen vergadering in Februarie 2019 het die vergadering die nuwe weergawe daarvan goedgekeur.