Ja, ons het heerlik saam gekuier!” So vertel Ds Francois Maritz van die NG Gemeente Hayfields opgewonde oor hulle Kersmark wat verlede Saterdag plaasgevind het.

Gaan dit oor die inkomste wat só noodsaaklik is vir ‘n gemeente om te kan oorleef? Beslis ja! Maar daar is véél meer verbonde aan so ‘n markgeleentheid. Dit is veral die heerlik saamkuier met medegelowiges, nie alleen van jou eie gemeente nie maar ook mense van ander gemeentes en ander kerkgroepe. Dit is noodsaaklik dat ons na die lang tydperk van isolasie weer net gesellig kan verkeer en sodoende mekaar se geloof kan versterk.

As jy dalk Hayfields se Kersmark misgeloop het, moet jy beslis ‘n punt daarvan maak om more een van die ander Kersmarkte te gaan bywoon. Daar word een gehou by Ballito Gesinskerkasook by Port Natal Gemeente. Pietermaritzburg-Noord hou ‘n Wit Olifant verkoping en op 16 Desember hou Glenwood gemeente hulle Kersmark. Moenie dit hierdie slag weer misloop nie! Vir besonderhede, kyk na verlede week se POSDUIF by bit.ly/Duif-40

Groete,

Louis

 

NG Gemeente

Hayfields

Hou Kersmark

NG Gemeente Hayfields het die afgelope naweek behóórlik feesgevier en heerlik saam gekuier. Ds Francois Maritz berig dat dit goed was vir die gemeente en gemeenskap om mekaar weer in die oë te kon kyk en gemaklik in die buitelig sonder kommer saam te kon gesels en lag.

Ons plaas hier onder ‘n paar foto’s van die groot lekkerte. Daar was gehekelde bome (?!) gelaaide kostafels met melkterte en alles wat jou mond laat water en baie pret vir die kleinspan!

Dié naweek was dit ook die eerste Adventsondag en dit was net gepas om die naweek se fees af te sluit met ‘n Kerssangdiens die Sondagaand. ‘n Baie goeie geleentheid om Advent mee te begin.

Hayfields Gemeente hou Kerssangdiens.

Beste Vriende,

Kan twee lande meer van mekaar verskil as Japan en Suid-Afrika? Suid-Afrika is 'n warm, soms lawaaierige, onvoorspelbare mengelmoes van kulture van die Weste, Nabye Ooste en Afrika. Japan is stil, homogeen en voorspelbaar. Na 12 en ‘n halwe jaar in Japan en ons onlangse besoek aan Suid-Afrika na 'n besondere lang onafgebroke 4 jaar in Japan - boonop midde-in die derde golf van Covid-19 - was dit bykans onmoontlik om nie konstant melodramatiese vergelykings te tref nie.

Daar is reeds 'n magdom boeke oor Japan en sy uniekheid geskryf. Daarom wil ek hier bloot uit my onlangse ervaringe die twee lande deur ‘n meer persoonlike, en uiteraard subjektiewe bril bekyk.

Ons het in 5 maande duisende kilometers afgelê as familie (en Stéphan, nog 'n bykomende paar duisend). Paaie was lank en oop, verby skraal Karoobossies, en dan weer lowergroen graslande. Ons kinders het nog nie iets soos die Vallei van Verlatenheid gesien nie (want in Japan is niks meer weggesteek of verlate nie), en Zebra’s en Springbokke langs die nasionale paaie was 'n verrassing. Die kinders en ek was vir lang tye meer in die Suid-Kaap - tussen Stilbaai en die slapende berge van Swellendam met bottergeel Canola tussen die twee dorpe. Die natuur van Suid-Afrika is opwindend divers en ek is altyd gereed met die rooibos skatkis van die Wes-Kaap in my arsenaal van kommunikasie "starters" met Japanners. Orals is daar padstalle langs die pad - elkeen anders én met die lekkerste koffie en brood uit die oond. Selfs petrolstasies het deesdae smaaklike koffie. Op die nasionale paaie sien 'n mens fietsryers en voetgangers, al is daar wette wat daarteen maan.

En in Japan? Jy sien NOOIT 'n voetganger of 'n fietsryer op 'n nasionale pad nie. Die spoedbeperking is 100 km/h en dit is 'n direkte weerspieëling van die versigtige Japanese nasie. Die landskap is meestal eenvormig - met groen Sederbome en berge in die agtergrond en swael- en miswolke wat onderskeidelik uit warmwaterbronne en valleie hemel toe drentel. Langs die snelweë is daar halfwegstasies wat almal deur die Nasionale Verkeersraad bestuur word. Hier kan jy Soba of Ramen of Japanese kerrie by 'n elektroniese betaalpunt koop en dan jou nommer by die toonbank ingee. Hierdie halfwegstasies lyk min of meer almal dieselfde. Die enigste verskil is die omiyage – pasklaar geskenke wat jy kan (en behoort) te koop vir jou werksmense en andere wat jou goedgunstig was. Dié geskenke is uniek en herkenbaar volgens die streek waardeur jy ry.

Japanese mense neem besluite op ‘n fyn afgemete manier. Geen kortpaaie of kanse vat nie. Reëls word nie gebuig nie. Uitvoerige reëlboeke dien as verwysing en risiko word vermy. Ek vermoed die pioniersgees is baie sterker in Suid-Afrika. Soepelheid is juis soms ál manier hoe jy in SA kan oorleef tussen die verskillende kulture en opvoedingspeile. En as iets nie sin maak nie, is daar absoluut geen rede om dit uit te voer nie.

'n Goeie voorbeeld van hierdie verskille was die onderskeie lande se reaksie tot Covid-19. In Junie vanjaar land ons in Johannesburg, gemaskerd en reg om kontak absoluut te vermy. Ek en Stéphan beraadslag ernstig in die kar of dit wyser sal wees om eerder met maskers vir twee weke saam met my ouers te bly in Stilbaai. En natuurlik geen drukkies nie - al was ons vir so lank weg van mekaar. Ons kom immers met ons Japanese ingesteldheid en dit is wat ons in Japan doen. Natuurlik was dit sommer dadelik duidelik dat geen kwarantyn verwag word of nodig is nie. Al word Gauteng gesluit vir reise en die bereik Covid-gevalle rekordgetalle.

Vergelyk dit nou met ons terugkoms na Japan in November. Japan het op die oomblik van sy laagste infeksiekoerse. Hulle is heeltemal verby die 5de vlaag. Maar met ons terugkoms het ons letterlik vyf Covid toetse in 7 dae gedoen. Alles gelukkig met ‘n negatiewe uitslag. By ons aankoms op die lughawe-in-die-see (in Osaka) word al die passasiers geskei - skape en bokke. Die wat van gevaarlike lande kom; en die wat vertrou word. Ons gaan deur 'n hele proses van vorms invul, toetse word geneem, ons moet 'n belofte aflê en teken dat ons vir twee weke sover moontlik kontak sal vermy (met die dreigement van deportasie indien dit nie gebeur nie).

Die kinders kap om by elke "stasie" in 'n diep-diep slaap (want hulle het gekies om die laaste been eerder op die vliegtuig se speletjies te fokus as op 'nuttelose' slaap). Twee ure na die vliegtuig geland het is ons uiteindelik klaar. Al is al ons toetse negatief moet ons 3 dae in baie streng kwarantyn in 'n hotel bly - 'n wag is buite ons deur gestasioneer en ons kan net ons vullis vinnig voor ons deur uitsit. Niks anders nie. Kos word klokslag drie keer per dag voor ons deur neergesit - 'n klokkie lui, maar nooit sien ons 'n mens nie (behalwe die wag wat ons gang oppas). Na die derde dag van vier kinders en twee volwassenes in 'n hotelkamer (met YouTube oefeninge - sien foto's hieronder - en skoolwerk net sodat almal emosioneel behoue bly), doen ons weereens 'n toets. Negatief. Ons word deur drie amptenare begelei na ons privaat vervoer. Toe begin 11 dae van isolasie by die huis - twee kere per dag kry ons lukrake video oproepe en 'n opdrag om ons ligging te bevestig - alles word met satelliete gekontroleer. Baie versigtig en deeglik, terwyl amptenare vriendelik en hoogs gemanierd en verskonend bly buig op die video oproepe.

Een van die dinge waarvoor ek BAIE dankbaar was deur die kwarantyn tyd, was koffie. Om die waarheid te sê, selfs sonder kwarantyn is dit my ‘sanity’. Maar, koffiewinkels is duur in Japan. En die goedkoop koffie brand jou keel en gee jou sooibrand. Brood is meestal net sag en wit soos koek. Een appel kos R15 en al bly ek in Kobe het ek nog net een keer Kobe Beef (Wagyu) geëet - want dit was by 'n troue en ek het nie self daarvoor betaal nie. Elektronika is verbasend bekostigbaar hier en natuurlik van hoë kwaliteit. Sushi in Japan op 'n vervoerband kos ongeveer R15 vir twee stukkies. In die 5 maande in Suid-Afrika was vars vrugte en groente soveel meer bekostigbaar as in Japan, terwyl klere en ander items verrassend duur was.

Op 'n Vrydagmiddag is daar 'n merkbare verskil in die pas van Suid-Afrikaners. Min antwoord nog 'n epos, of 'n telefoonoproep. Dis naweek! In Japan is Vrydae en Saterdae net 'n verlenging van Maandag, Dinsdag, Woensdag en Donderdag. Die enigste dag wat ‘af’ is, is 'n Sondag, maar natuurlik as jy 'n skoolkind is het jy heel moontlik skoolaktiwiteite en as jy 'n Christen is, gaan jy kerk toe.

Om 'n Christen te wees in Japan is 'n 100% commitment. Jy is dadelik anders, buite die boks. Jy het 'n daadwerklike keuse gemaak om die Boeddhistiese familie altaar in jou huis te vernietig. Om een, lewende God persoonlik te aanbid. En daarom is 'n Sondag, te midde van 'n besige ses-dag week, gewy aan God en die kerk. Lidmate maak beurte om die kerk skoon te maak en toilette te skrop. Kerkies van 30 lidmate (wat heeltemal gemiddeld is) dra meestal die salaris van ‘n predikant deur hulle dankoffers. Oor die algemeen is daar 'n besadigdheid in die Japanese kerk. 'n Erns. Miskien ook omdat almal so vreeslik ernstig is oor hul toewyding aan God. Hulle ken die prys. Nie dat daar nie ook vrolikheid en lag kan wees nie - alles is net 'n paar tone laer as in ons tuisland.

In Suid-Afrika het ons Christene se oop arms en spontane warmte en simpatie deeglik ervaar. Ons het beskuit en koffiekoekies en vlakoekies en ... en ... ontvang. Natuurlik eerder wyn by Kaapse kerke! Ons kon selfs 'n basaar bywoon en braaivleis en slaptjips en basaarpoeding eet.

Hierdie paar voorbeelde van verskille is deel van 'n magdom ander. En as gebore en getoë Westerlinge is dit altyd 'n uitdaging om Oosterse logika en gedrag en gewoontes volkome te aanvaar. Die default is om daarteen te stry en dit te probeer verander met die ‘beter’ Westerse idees (vanuit ons perspektief).

Maar hoe bevoorreg is ons dan nie om te leer om te buig en te buk en volronder te groei nie? En vanuit 'n geestelike hoek beskou, juis na 'n verrykte en heler beeld van die liggaam van Christus (Efesiërs 4). Al is daar frustrasies en verskille, is daar ook soveel wat die kerk in Suid Afrika in gemeen het met haar broers en susters in Japan. Ons glo immers aan een, algemene (ekumeniese) Christelike Kerk. Dieselfde (Apostoliese) kernbelydenis van geloof word getrou elke week hardop in albei wêrelddele bely.

Dit is miskien juis hierdie verskille tussen die twee lande wat die bou van brûe tussen hulle terselfdertyd meer uitdagend, maar ook meer verrykend maak. Japan en Suid-Afrika bly onwaarskynlike vennote. Tog is die Bybel vol van onwaarskynlikhede en op die oog af onoorbrugbare klowe. Is dit nie reeds oorgenoeg rede om sterker hande te vat nie?

Ons waardeer jou ondersteuning!

Groete,
Carina van der Watt (cvdwatt@gmail.com), namens die Van der Watt-gesin

MAAK 'N BYDRAE VIR MISSIE JAPAN

GEBEDSVERSOEKE

Ons is dankbaar vir Here se sorg en voorsiening t.o.v.:

Baie ondersteuners se praktiese, emosionele en gebeds-ondersteuning tydens ons afgelope besoek aan SA.

Almal se gesondheid, ons veilige aankoms en hervat van werk en lewe in Kobe.

Ons RCJ geloofsfamilie wat ons tuiskoms hier met oop arms en harte verwelkom en ons betekenisvolle bedieninge gee om te doen.

Vra asb. vir sy leiding en beskikking in:

Nuwe studente vir 2022 by KRTS.

Ons bedieninge en aanbiedings tydens Kersfeestyd t.m.v. Covid-19 inperkings in kerklike aktiwiteite.

Beplande besoek aan RCJ Tokushima gemeente (26 Des.) wat die doop van 'n kleuter insluit.

Alle RCJ gemeentes in Japan se getuieniswerk t.m.v. die sesde golf van infeksies hier.

Geseënd is jy!

Baie dankie vir jou ondersteuning van LiGter in 2021.
Die projek was ongelooflik geseënd in soveel opsigte en die belangrikste is en was die aanraking van mense se lewens deur 'n boodskap van hoop!

 Jy is meer as welkom om die boodskap van hoop en inspirasie met familie en vriende te deel en graag lig ons 'n paar van ons sprekers se videos uit:

 

Lindie Strydom -

Sê ja vir LiGter lewe

 

Milanie Vosloo -

"Die lewe is hard maar"

 

 

Wanda Bam en Melissa Swart

"Veg… Vrede… Vergelyk… Vry"

 

Onbeskaamd

My God veg vir my!

 

Heleen Meyer

Kook uit die boks

 

Michele Louw

Puik skoonheidswenke

 

Die voorreg van 'n Bybel!

 

Versprei die

evangelie maklik!

 

Meng jou olies

van oorvloed!

 

'n Tegniese toekoms

vir jou kind!

Ons het reeds met die projek meer as R30,000 ingesamel vir ons LiGland-projekte.
Jy kan die inisiatief ondersteun deur die onderstaande skakel te volg!

Click here to add a title or text.

Hoogtepunte uit Kerkbode

n Netwerk dagstappe rondom Clarens, geselsies met ’n verskeidenheid plaaslike inwoners en sakelui asook – in pelgrimstradisie – die eet en uitspan na ’n lang dag. Lees hiermeer oor die nuwe Clarens Hermitage pelgrimservaring wat in die Oos-Vrystaat beoog word.

Bid met hulp van ’n aflaaibare Adventkalendervanuit die spreekwoordelike stalle van Betlehem, wat oral oor Suid-Afrika aangetref word. Die kalender is op Kaapstad geskoei, maar vat wat jy daar kry na jou eie dorp of stad.

Julle ma en julle is kosbaar’ is die boodskap wat ‘n groep leraars met ‘n video en ‘n brief wil oordra aan die dogtertjies van die vermoorde leraar Liezel de Jager sodat wanneer hulle eendag hul ma se naam google daar nie net ‘lelike’ nuusberigte is nie.

ProKurio Boeke is ‘n webwerf om

·leraars te help met toerusting materiaal in hulle gemeentes asook

·materiaal wat leraars of gemeentes gebruik het beskikbaar te stel vir ander leraars en gemeentes.

⏩ Bybelstudies oor DISSIPELMAKING https://prokurio.co.za/product-category/gebed/?lang=af

Ds Deon Loots is landwyd bekend vir sy suksesvolle kursusse in Dissipelmaking.

 

Kleingroep / Bybelstudies / Omgeegroepe:

⏩ TOERUSTING vir LEIERS van KLEINGROEPE - https://prokurio.co.za/product-category/kleingroepe/toerusting-vir-leiers-van-kleingroepe/

 

⏩ 6 Weke van Bybelbespreking oor seerkry en gesondword...https://prokurio.co.za/.../seerkry-kan-gesond-word.../...

 

⏩ Materiaal van NG Moreleta - https://prokurio.co.za/.../kleingroepe/ng-moreletapark/...

Ds Dirkie vd Spuy se lekkerlees materiaal oor 'n Christelike Lewensstyl

 

⏩ Ds Kobus May se materiaal in NG Nooitgedacht - https://prokurio.co.za/.../kleingroepe/ng-nooitgedacht/...

'n EENJAAR gebedstoerusting vir leraars en gemeentes

 

* Drie 40dae reekse met aktuele tema's deur NG Elarduspark - https://prokurio.co.za/.../ng-elarduspark-kleingroepe/...

 

* Bybelstudies oor die HEILSORDE (Roeping, wedergeboorte, bekering, geloof ens.. - https://prokurio.co.za/product-category/kleingroepe/die-heilsorde/

 

* Eeue-oue Lewensvaardighede - https://prokurio.co.za/product-category/kleingroepe/eeue-oue-lewensvaardighede/

 

* Prof Jan du Rand se hedendaagse kommentaar oor die boek Johannes - https://prokurio.co.za/.../9781928481904-johannes.../...

Ideaal vir n egpaar om so saam deur die boek Johannes te kan wandel...

 

Inspirasie

 

* Om in die donker te vlieg van Dr Johan Pienaar -https://prokurio.co.za/product/om-in-die-donker-te-vlieg-boek/

Genesing

* Dr Wentzel Coetzer help leraars met toerusting aan slagoffers van verkragting - https://prokurio.co.za/product/heiling-na-verkragting-molestering-boek/

Stuur gerus vir my ook van jou materiaal om beskikbaar te stel vir ander gemeentes!

Ds Jurgens de Jager kommunikasie@ngkzn.org.zakommunikasie@ngkzn.org.zaNatal sinodekommunikasie@ngkzn.org.zaTel. 0792929545

NG Gemeente Valleisig


Vakature:

Finansiële Beampte

(Deeltydse Pos)


Aansoeke word ingewag vir die vul van ʼn 6/8ste pos as Finansiële Beampte by
NG GEMEENTE VALLEISIG

GEMEENTEPROFIEL:

Valleisig is ‘n NG Gemeente in die Ooste van Pretoria met ongeveer 2000 lidmate.
Valleisig leef haar roeping uit deur heeltyd bewus te wees van en te vra waar God besig is in die wêreld. Valleisig doen dit deur die Bybel baie ernstig op te neem en nie gemaklik te wees met eenvoudige antwoorde nie.
Die personeel van Valleisig leef die “familie” metafoor uit deur middel van hul gasvryheid en vriendelikheid aan besoekers/lidmate, bedieninge en medepersoneel.

KANDIDAAT SE PROFIEL:

Gesonde geestelike lewe.

Toepaslike tersiêre finansiële kwalifikasie en verkieslik professionele registrasie.

Beskik oor goeie organisatoriese en administratiewe vaardighede.

Vermoë om in spanverband te werk en goeie interpersoonlike vaardigheid.

Begrip vir die visie, waardes, kultuur en etos van die gemeente en verkieslik ‘n lidmaat van Valleisig gemeente word/is.

POSBESKRYWING:

Beleid: Verseker dat alle finansiële transaksies volgens neergelegde finansiële beleidsvoorskrifte geskied.

Verslaggewing: Finansiële verslaggewing aan Finansiële Bediening en Gemeenteraad soos versoek.

Begroting: Stel jaarlikse konsepbegroting aan die hand van die insette van die bedieninge op en bestuur begroting saam met die Finansiële Bediening/ Gemeentebestuurder en pas begrotings beheer toe.

Salaris: Verantwoordelik vir die berekening van salarispakkette volgens riglyne. Betaal statutêre betalings oor en reik jaarliks IRP5 sertifikate uit.

Maandelikse-Inkomste/Uitgawestate: Kontrolebeheer ooreenkomstig finansiële beleidvoorskrifte. Kontroleer deurlopend die kontantvloeiposisie van alle rekeninge. Pas begrotingsbeheer op alle inkomste/uitgawe lyne toe.

Finansiële Oudit: Verantwoordelik om toe te sien dat Finansiële State ge-oudit word en versprei word ooreenkomstig finansiële beleidvoorskrifte.

Bates: Hou in samewerking met die Gemeentebestuurder 'n bateregister by en gereelde interaksie met Korttermyn versekerings maatskappy.

Kontant: Kleinkas en kontantbeheer ooreenkomstig finansiële beleidvoorskrifte.

Pligtestaat: Detail pligtestaat is by die Gemeentebestuurder op aanvraag beskikbaar.

ALGEMEEN:

Allesinsluitende vergoedingspakket sal met die suksesvolle kandidaat bespreek word.

24 kalenderdae verlof per jaar en kerkkantoor sluiting tussen Kersfees en Nuwe Jaar.

Werksure: 6 ure per dag (Maandae tot Vrydae tussen 08:00 en 14:00) en die bywoon van Finansiële Bediening/Begroting vergaderings.

AANSOEKE:

Bondige CV met onlangse referente (minstens drie) en gewaarmerkte afskrifte van kwalifikasie/registrasies.
Kandidate moet beskikbaar wees vir psigometriese evaluering en ‘n onderhoud.

Aansoeke moet per e-pos gerig word aan:
Die Gemeentebestuurder, NG Gemeente Valleisig,
kantoor@valleisig.org.za

Die Gemeenteraad behou die reg voor om nie ‘n aanstelling te maak nie.

NAVRAE:

Mnr Johann Vermeulen,
kantoor@valleisig.org.za,
012 9911542

SLUITINGSDATUM: 17 Januarie 2022
DIENSAANVAARDING: 01 Maart 2022

NG KERK MARIENTAL

VAKATURE:

Voltydse termynpos van drie jaar

met wedersydse instemming tot verlenging.

GEMEENTEPROFIEL:
Die gemeente vorm deel van ‘n dorp in die Suide van Namibië en bestaan uit 192 belydende en 51 dooplidmate. Die hoofbedryf is die Hardap besproeiingskema, asook vee- en wildboerdery wat goed integreer met die sakegemeenskap. Daar is ook ‘n paar nabygeleë Lodges binne die gemeentegrense.

BEDIENINGSFOKUS:
Die geestelike versorging van ons gemeentelede. Die gemeente is in ‘n herstelfase waaroor ons huidig baie positief is. Huisbesoek, siekebesoek en jeugbediening is baie belangrik.

LERAARSPROFIEL:
Die kandidaat moet beskik oor goeie menseverhoudinge.

BESONDERE VEREISTES:
* Moet beskik oor goeie fisiese gesondheid
* Moet rekenaarvaardig wees
* Verkieslik ‘n jong tot middel ouderdom

VERGOEDING:
Vergoeding is onderhandelbaar.

AANSOEKE:
Kandidate wat hulself in hierdie profiel sien is welkom om hulself beskikbaar te stel vir beroeping. Stuur asseblief ‘n kort CV, met drie verwysings en twee kort video-preke na:
Die Voorsitter, Kerkraad NG Kerk Mariental:
ngmama@afol.com.na

Kontakpersone:
Izak van Schalkwyk +264 81 129 8720
Mia Kirsten +264 81 386 2231

Sluitingsdatum: 14 Januarie 2022

NG Kerk Mariental behou die reg voor om geen aanstelling te maak nie.