Meeste gemeentes, of is dit dalk eerder AL die gemeentes trek finansieel swaar en oral hoor ons van pogings om finansies te genereer op allerhande maniere. Laat weet gerus vir ons wat jou gemeente doen om te oorleef in ons moeilike tye.

Een gewilde manier het skielik in verskeie gemeentes opgespring: ‘n Kersmark! In hierdie nuusbrief berig ons van ‘n paar gemeentes wat oor die volgende twee naweke Kersmarkte hou. As hulle naby jou is, ondersteun hulle asseblief! So ‘n Kersmark is altyd ‘n baie gesellige en vrolike gebeurtenis, en ek is seker dat jy beslis nie teleurgesteld sal weggaan nie. Dis gewoonlik veral die eetgoed wat jou mond laat water!

Maar voordat ons oor die groot lekkerte berig, eers ‘n baie groot opgewondenheid van ‘n héél ander aard. In Hluhluwe gemeente heers daar groot vreugde want na ‘n tyd waar hulle herderloos was na ds Deserè de Beer se vertrek, is daar verlede Sondag, 21 November ‘n nuwe leraar bevestig, ds Ernst Gottschalk. ‘n Hartlike welkom aan Ernst in die Sinode van KwaZulu-Natal!

Sy bevestiging was ‘n baie besonderse geleentheid, aangesien hy bevestig is deur sy pa ds Franz Gottschalk van Vanstadensrus gemeente.

Ernst is in die Rosestad Bloemfontein gebore en het meestal in die Vrystaat grootgeword en op Brandfort sy matriek geskryf. In 2017 verwerf hy sy B.Th deur UNISA en in 2020 verwerf hy sy M.Div graad. Hy wil graag verder studeer in Sistematiese Teologie.

Een van sy groot passies is om te kamp, maar hy is ook baie lief vir enige sportsoort en hy speel graag skaak.

 

 

Ernst op

die kansel

 

 

Die ordening met

handoplegging.

Die leraars is

Ben van Dyk,

Franz Gottschalk,

Santel Malan en

Arno Louw.

 

 

 

Die seëenbede met

Ernst, Monique en

hulle ouerpare

NG Kerk Pietermaritzburg-Noord

die permanente aanstelling op ‘n deeltydse basis van Ds Annatjie Steyn

Dit is met groot vreugde dat ons die mededeling kan maak dat Ds Annatjie Steyn vanaf 1 November 2021 op ‘n permanente deeltydse basis as leraar van Pietermaritzburg-Noord aangestel is nadat sy voorheen deeltyds vir ‘n vaste termyn van 12 maande aangestel was. Ons gemeente het hierdie gebeurtenis paslik gevier op 31 Oktober 2021 en ons wens ons leraarspaar, Ds Annatjie en haar gade, Marthinus, alle seën toe.

Ds Annatjie het haar dankbetuiging afgesluit met die volgende versoek aan ons gemeentelede: “Ons is saam in die Here se diens! Kom ons sit alles in om werklik ‘n gemeenskap van Jesus se gestuurde dissipels te wees as ons onvoorwaardelik onsself bereid verklaar om Jesus, as hoof van ons gemeente, se uitvoerende amptenare te wees!”

 

 

Marthinus en

Ds Annatjie Steyn

lei die voorsang

Annaline & Pastoor Garland Sam (van Discover Church & Streeksdirekteur van Scripture Union in KZN), Marthinus & Ds Annatjie Steyn, Prop Pieter Nel & Joan Retief

NG KERK

PIETERMARITZBURG

-NOORD

Geloftediens 16 Desember 2021 om 09:00

Die Geloftediens van die NG Kerk Pietermaritzburg-Noord vind plaas op Donderdag 16 Desember om 9.00 te Beverleyweg 2 oorkant die Botaniese Tuin. Dit word gelei deur ds. Louis van der Walt.

Ds. van der Walt was vir baie jare die leraar van Scottburgh-gemeente voordat hy in 2012 sy emeritaat aanvaar het. Hy is 'n geliefde en dinamiese prediker.

Ons nooi alle gemeentes hartlik uit!!

NG Port Natal Kersmark

Diegene wat belangstel om ‘n tafel te bespreek kan my kontak. Huur van tafels is R50.

Daar is ‘n R5 hekfooi en klein inkopie sakkie wat gegee word.

Daar is lekker eetgoed, drinkgoed en handgemaakte items.

Daar is karwagte gereël vir die dag.

Dawn van Graan

N.G. Kerk Port Natal

Kantoorbestuurder

Cell: 078 268 2601

Port Natal Musiek Konsert:

Besprekings is belangrik om teleurstelling te voorkom.

Melany (Mel) kan gekontak word vir besprekings. Hulle is ook welkom om my te kontak vir besprekings.

Dit is professionele kunstenaars in ons area wat ons kom vermaak.

Daar is ook ‘n pouse tussen die Klassieke optrede en Jazz optrede waarby elkeen dan sy piekniek kan geniet in ons tuin area.

Dawn van Graan

Ballito Gesinskerk hou

Kersmark vir oud en jonk!

Saterdag 4 Des 8:00-12:00

Die Kersmark beloof om iets vir almal aan te bied. Wat kan jy verwag: Eet-goed, mooi-goed, kers-goed, speel-goed, huis-goed, lekker-goed.

Geniet die heerlike verversings in die teetuin terwyl die kinders op die springkasteel spring of besig gehou word met speletjies. Vul jou kerskouse met oulike kersgeskenkies, handwerkitems en kerskaartjies. Die uitstallers is met sorg uitgekies en daar is te kies en te keur tussen plantjies, juwele, houtitems, kersversierings en baie meer. Maak die spens vol met al die heerlike tuisgebakte koekies, beskuit, broodjies, koeke, terte, lekkers ens. Die beste van alles is dat die pryse in vergelyking met ander markte regtig bekostigbaar is. Vir die onmiddellike hongerte is daar baie om van te kies – heerlike gebakte poeding, koeksisters, worsrolle, vetkoek, pannekoek en moenie die teetuin vergeet nie.

Koop genoeg voorraad boeke vir die lui Desember dae. Daar is ‘n groot verskeidenheid christelike boeke asook nie-fiksie te koop teen belaglike goedkoop pryse.

NG Gemeente Hayfields

in Pietermaritzburg

hou Kersmark.

Saterdag 27 November van 08:00 tot 14:00

Drydenweg 41 Hayfields.

Kom ondersteun hulle asseblief!

Die Gemeente Dienste Netwerk (GDN)

Ontmoet op Donderdag 2 Des en wil graag belangstellendes uitnooi. Aangeheg is die program, aanbieders en zoom-skakel.

SKENK R100 of meer en kry 'n geskenkpak ter waarde van R600!

* Slegs 300 pakke beskikbaar.
* Poskostes uitgesluit.

SKENK HIER!

JOU SKENKING BEVORDER ONS LiGLAND-PROJEKTE

NG Kerk Pietermaritzburg-Noord

(deeltydse besoldigde pos)

Gemeentekoördineerder

Ons nooi alle belangstellendes uit om aansoek te doen vir hierdie nuutgeskepte pos. Die suksesvolle kandidaat sal verantwoordelik wees vir die koördinering van aktiwiteite en funksies van die gemeente. Hy/sy sal ook ‘n ondersteuningsrol vervul ten opsigte van die leraar. Goeie kommunikasie- en organiseringsvermoëns, vaardigheid in sosiale media en ‘n geldige bestuurslisensie is vereistes.

Sluitingsdatum vir aansoeke: 10 Januarie 2022. CV’s en navrae aan Ds Annatjie Steyn: annatjie@greytown.co.za en 082 871 7074.

NG Gemeente Garsfontein

Vakature: Musiekleier (Oggenddienste)

Aansoeke word ingewag vir 'n vakante Musiekleierspos vir oggenddienste. Ons erediensbeleid maak voorsiening vir begeleiding by wyse van pyporrel, klawerbord en orkes.

KANDIDAAT SE PROFIEL:

Leef die visie, waardes, kultuur en etos van die gemeente uit.

ʼn Persoon van integriteit wat in ‘n opregte lewende verhouding met die Here leef.

Toepaslike musiekkwalifikasie en bewese ondervinding.

Veelsydige musiekvaardigheid ten opsigte van sang, klavier, pyporrel, en ander musiekinstrumente.

Vermoë om die oggenddiens orkes en musiekbediening as geheel te bestuur.

Vorm deur die musiekbediening ‘n netwerk met ander diensgroepe om ‘n ruimte te skep waarin erediensgangers van oggenddienste ʼn dieper verbintenis met God kan beleef.

Sensitiwiteit vir die musikale belewenis van die erediensgangers van die oggenddiens.

Beskik oor goeie interpersoonlike kommunikasievaardighede en menseverhoudinge.

Die vermoë om in spanverband te werk.

POSBESKRYWING:

Die Musiekleier (Oggenddienste) is verantwoordelik vir musiekbegeleiding tydens oggenddienste.

Die Musiekleier is leier van die oggenddiens orkes en skakel in by Netwerk Aanbidding.

Skakeling geskied met die prediker om te beplan, liedere en musiek te kies, musiek voor te berei vir die oggenddienste en spesiale geleenthede.

Begeleiding geskied deur middel van die pyporrel,  klawerbord en orkes by oggenddienste en spesiale geleenthede.

Gemeentelede word betrek wat hul musikale gawes wil uitleef as deel van die musiekbediening.

Keuring en reël van waarnemende aflosbegeleiers wat dieselfde styl en kwaliteit van begeleiding sal handhaaf.

Koördinering en uitvoering van doelmatige oefeninge ter voorbereiding van dienste.

Werk saam met die Aanbiddingsleier / Sangleier wat verantwoordelik is vir die sangleiding tydens oggenddienste.

Verantwoordelik vir begeleiding tydens begrafnisse, huweliksbevestiginge en ander gemeentelike byeenkomste bv Pinksterdienste, Kerssangdienste, Paassangdienste en Gemeentekampe.

Verantwoordelik vir die beplanning, voorbereiding en uitvoering van alle musikaal-verwante aktiwiteite wat met die oggenddiens verband hou, in oorleg met betrokke leraars, multimediaspan en kerkkantoor.

Die afrigting van die voorsangersgroep, asook ‘n gemeentesanggroep wat tydens spesiale geleenthede kan optree.

SALARIS EN ANDER VOORDELE:

R5500 – R7000 per maand, onderhandelbaar.

Geregtig op 7 af naweke per jaar.

AANSOEKE:
Aansoeke word ingedien aan die hand van die nodige aansoekvorm (verkrygbaar by Bedryfsbestuurder). Kandidate moet beskikbaar wees vir psigometriese evaluering, elektronies, ‘n speelgeleentheid / oudisie tydens ‘n erediens en ʼn onderhoud.
Aansoeke moet per e-pos gerig word aan: Die Bedryfsbestuurder, NG Garsfontein, bestuur@nggars.org.za

NAVRAE:
Mnr Neels van Heerden bestuur@nggars.org.za / 012-3613618.
Volledige plig
testaat beskikbaar op aanvraag.

SLUITINGSDATUM: 31 Desember 2021

DIENSAANVAARDING: 1 Februarie 2022

Die Boskonsert

Lukas 8:4-8

Die boskonsert begin vroegoggend al. Met eerste lig begin die voëltjies opwarm met hemelse musiek, terwyl die laaste klanke van die vorige aand se groot konsert nog wegsterf as leeu brom dat hy nou genoeg gehad het vir een nag, en dat hy nou gaan slaap. Hiëna sê: "Amen!" en duik sélf ook in sy kooi in.. Die spreeus en tiptolle is eerste op die toneel om te kom kyk of die nagapies en vrugtevlêrmuise so 'n ou ietsie oorgelos het van die vorige aand se piesang, maar al wat hulle kry is 'n leë skil. "Iemand het die piesang gesteel!", skree Spreeu, "Hy's weg, hy's weg, hy's weg!", beaam Tiptol. Half deur die slaap strompel ek kaalvoet uit om 'n paar appels in die bome te sit, net om die spul se bekke stil te kry, en in die proses trap ek op 'n baie-eina-doring. Hinkepink op een been, gooi ek sommer 'n paar mieliepitte uit, net vir die wis en die onwis. Skaars tref hulle grond, of 'n paar tarentale raap hulle gulsig op.

'n Rooibeklyster kom aangetrippel. Hy hardloop vinnig vyf treetjies, stop skielik, gaan staan kiertsregop. Dan hardloop hy weer vyf treetjies, stop en staan weer kop in die lug. Laat my altevol baie dink aan Charlie Chaplin. Sy koddige, rukkerige lopies word oor en oor en oor herhaal, tot vervelens toe.

'n Vlakvark kom opgewonde aangehardloop om te kom kyk wat die kospotte van Egipte opgelewer het. Maar hy is bitter teleurgestel - hierdie slag was die tarentale voor hom daar. Vyf koedoes tree te voorskyn: "Ons is hier vir ons rantsoene", sê die ou koei se bedel-ogies. Ek reageer nie, en sy stap 'n wye draai en pluk al die appels wat ek vir die voëls uitgesit het van hulle spykers af. Sy kom staan nou reg voor my en staar my stip in die oë: "Ek soek kos", sê haar oë kwaai, "Nou!". Ek ignoreer haar. "Ek voel soos 'n wurm!", bieg Mosbolletjie. Sy (dis nou die koedoe) draai om en stap weg, gevolg deur haar meelopers.

Die tarentale is terug vir nog pitte. Ek kyk rond - daar is nêrens 'n vark in sig nie. Ek gooi 'n paar handevol mielies, en dit skarrel om elkeen 'n paar pitte te kry. Skielik uit die bloute is die vlakvark ook daar. Die tarentale is so honger dat hulle tussen die vark se bene deur pik. Hy vererg hom en swaai sy slagtande wild rond, en jy sien net vere spat. Maar hulle kom vir nog. Ek gooi nog pitte op 'n ander plek, en die hele lot, vark inkluis, hardloop in daardie rigting. Die tarentale kom naderhand agter dat daar mos nog pitte oor is op die eerste kolletjie, en hulle skarrel daarheen. Vark hardloop agterna en verjaag hulle. Hulle hol terug na die tweede hopie toe, en vark is weer agterna. Heen en weer maal die malle spul totdat daar nie meer 'n enkele mieliepit oor is nie.

Die tarentale beweeg veld-in, maar hulle sorg dat hulle binne maklike reikafstand bly, net vir ingeval hier dalk weer ‘n ou meevallertjie kom. Twee vlakvarke kom parkeer hulleself ook binne trefafstand, en grawe hulleself deeglik in onder ‘n blaarlose ou boompie. Styf teen mekaar lê hulle lepel, en die hele tyd koer-koer hulle mooi woordjies vir mekaar. Ek begin half bekommerd raak dat dit hier pornografies kan raak. Soos wat die dag aanstap, begin die tarentale al hoe meer ontspanne raak. Teen twaalfuur lê hulle rond op hopies, vlerke oopgesprei, plat op die grond. Een van die twee vroetelvarke staan elke halfuur of so op en kom maak ‘n draai voor die stoep, net om seker te maak dat hier nie dalk intussen kos gebeur het nie. Dan draai hy maar weer teleurgesteld om en gaan wurm hom langs sy maatjie in met ‘n groot gesteun en gekoer. En dan vat dit weer amper ‘n halfuur voordat hy uiteindelik sy lê kry, maar dan is dit al klaar weer tyd om te kom kosinspeksie doen. Intussen kom bedel ‘n halfdosyn varke, paar sebras, nog varke, ‘n kwêvoël en weer ‘n slag varke. Drie kameelperde kom verby gestap op stelte en kyk ons uit die hoogte aan, en die kwêvoël kom kerm dat die appel te skeef sit na sy smaak.

En dan wil jy nog sê dat daar nie boskonsert in die dag is nie!

Uiteindelik, teen half-vier is die konsert verby. Die tarentale het een-vir-een koers gekies en die voëls is almal weg (die appels het opgeraak). Dis nog net die twee vroetelvarkies wat in mekaar se ore lê en koer. Skielik is die bos stil, doodstil.

Ten spyte van hoe dit dikwels vir ons lyk of voel, is die wêreld vandag honger vir die Woord. Die probleem is egter dat daar so min gelowiges is wat bereid is om die Woord te saai - dalk is ons bang! Dit is veral in moeilike tye soos nou, dat mense soek na standvastigheid. En nóú is die tyd ryp vir ons as gelowiges om daardie wonderlike hoop en standvastigheid wat die Woord gee uit te deel aan diegene met wie ons in aanraking kom. As ek mielies strooi in die bos, is die diere daar. As ek die Woord uitdeel, is die mense wat honger is daarvoor ook daar.

Vra vandag vir die Here op watter manier jy die Woord kan saai - Hy gebruik elkeen op sy eie unieke manier. En strooi dan jou geloofspitte mildelik uit. Iemand sal dit wél met groot dankbaarheid oppik.

Louis Nel