More, die 13de November 2021 is dit sommer gróót fees in Durban-Wes gemeente. Hulle is ‘n volle tien jaar oud! Hulle is nou wel nie die oudste gemeente in KwaZulu-Natal nie maar die redaksie van POSDUIF wil hulle baie gelukwens met ‘n mooi tien jaar wat verby is!

Ds Franna Herselman skryf in sy boodskap aan die gemeente:

Kyk ek terug na die geskiedenis van hierdie 10 jaar is daar letterlik honderde stories wat geskryf kan word. In elke storie sien 'n mens hoe alles bymekaarkom en deur die geskiedenis is die fyn goue draad van God se ingrype en genade duidelik sigbaar. Amper soos die vyfduisend-vyf-honderd jaar van geskrewe mensegekiedenis ons van God se ingrype in die geskiedenis vertel, vertel hierdie gemeente se verhaal ook 'n klein deeltjie van die ewigheid. Ek dink, sonder om hoogmoedig te wees, kan ons dankbaar wees oor wat hier aangaan en wat nog in die toekoms hier sal aangaan.”

Gemeente en gemeenskap

Kyk gerus hieronder na die jongste videogesprek uit die Algemene Sinode se reeks met die tema So glo, leer en getuig ons... Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinode, gesels met Nioma Venter, ondervoorsitter van die Algemene Sinode Moderamen. As Voorsitter van die Taakspan Missionale Diakonaat vertel Nioma meer oor die NG Kerk se ryk geskiedenis van barmhartigheid. Sy verduidelik ook dat missionele diakonaat ('n wisselterm vir barmhartigheid) die verwesenliking van die Drie-Enige is en daar is om die lewegewende heerskappy van God in hierdie wêreld te herstel. Dit gaan oor praktiese uitreik en betrokkenheid nie net deur diensorganisasies nie, maar ook deur relevante bedieninge wat by die stukkend en die seer uitkom. Dit word ook beliggaam vanuit plaaslike gemeentes, gemeenskappe, binne kerkverband, die breër geloofsfamilie en ekumeniese verbintenisse, maar ook deur individuele gelowiges.

RASIONELE GODSDIENS

DAGSTUKKIES VIR DENKENDE CHRISTENE

DR ENRICO CASALEGGIO

Hierdie boekie bestaan uit 'n aantal kort bydraes in die apologetiek. Die oorspronklike betekenis van "apologetiek" word ontleen aan 1 Petrus 3:15, waar Petrus sê dat gelowiges altyd gereed moet wees om aan ander 'n antwoord te gee in terme van kwessies rakende die geloof. Dit kom uit 'n kulturele wêreld waar dit beteken het dat jy jou eie saak in die hof verdedig.

Hoeveel Christene kan in gesprek tree met Moslems, Hindoes, Ateïste en Jehowa se Getuies? Dit is tragies dat baie Christene tevrede is met die melkkos van die geloof. Mense in die kerk dra dikwels ook nie veel kennis van sektes en kultusse nie.

Hierdie boekie is meestal gegrond op die skrywer se eie ervaring en gesprekke met priesters en navolgers van ander gelowe, sowel as kultusse en sektes. Dit spreek vanself dat daar nie op volledigheid aanspraak gemaak word nie. Die doel is juis om die leerstellings van ander gelowe so kort moontlik saam te vat. Die hoop is dat hierdie boekie ander sal motiveer om in die eerste plek meer van die Christelike godsdiens te weet, maar dan ook van ander godsdienste, sektes en kultusse.

Geen wetenskap word beoefen sodat die beoefening daarvan die doel op sigself is nie. Dieselfde geld ook vir apologetiek. Dit word beoefen tot eer van God, maar ook om deur debat en gesprek die Evangelie aan ander te bring.
Formaat: Sagteband, A5.

Bladsye: 114 bladsye.

Prys: R110.00 (plus koerierskoste).

Bestellings en navrae:

enrico.casaleggio@absamail.co.za

ngfpark@xsinet.co.za

Opregte seënwense

Minette Jansen van Veuren

Verkoopsbestuurder
sales@biblesociety.co.za

Dankbaarheid? Hoop?

RSG het met dr Jannie le Roux oor dankbaarheid en hoop as inspirasie gesels:

Ek was vanjaar 'n tydjie uit aksie na 'n rugoperasie.

Die operasie het nogal as 'n verrassing gekom. Glad nie 'n aangename verrassing nie!

Ek het al hoe seerder begin word net bo my regterheup en die volgende oggend staan ek met 'n lam regterbeen op. Moet darem byvoeg dis nadat ek die vorige dag iets swaar opgetel het vanuit 'n skewe posisie.

Natuurlik het ek eers gedink om dit kans te gee, maar toe raak die pyn te erg. Die erge pyn het eintlik my aandag afgetrek van my been wat nie so effektief wou funksioneer nie. Die gevolg was uiteindelik 'n operasie om 'n senuwee te bevry.

Dit was 'n tipe vreemde situasie waarin so baie mense hulle al bevind het of nog steeds bevind. Of dit nou met siekte of fisiese pyn te make het, daar kom situasies wat mense onkant vang.

Maar mense kan ook die psigologiese pyn ervaar van die langdurige effek wat Covid-19 en variante, asook die grendeltyd se reëlings op mense se vryheid en hoop het.

Ek moet bieg: My aanvanklike reaksie as iets slegs gebeur, is nie dankbaarheid nie. Ons is as mense ‘geprogrammeer” om as basiese reaksie eers die slegte raak te sien of die pyn te identifiseer.

En hoop? Jy hoop vir die mees basiese ding, en dis om bevry te word van wat jou nou pyn gee. Dis hoekom mense soms sulke eienaardige irrasionele goed aanvang, iets wat hulle normaalweg dalk nie eens sou dink om te doen nie.

Eers later het ek gedink aan die bekende fases wat dr Elisabeth Kübler-Ross beskryf het as proses van rou. Hierdie fases gebeur nie altyd linieer presies die een na die ander nie. Interessant sou dit ook die fases kan wees wat min of meer gebeur wanneer 'n mens verlies en verandering in jou lewe moet hanteer.

Die klassieke fases van hierdie verwerkingsproses is: ontkenning, woede, onderhandeling, hartseer of depressie, en dan aanvaarding.

Nou vir iets interessants: David Kessler is ook een van die wêreld se kenners op die gebied van rousmart (“grief”) en het saam met Elisabeth 'n boek geskryf. Toe skryf hy 'n nuwe boek wat 'n sesde fase van rousmart of die verwerking daarvan aandui.

Die sesde fase is om betekenis te vind.

Finding meaning’. Die kuns is om uiteindelik betekenis of sin te gee aan iets onaangenaam wat met jou gebeur.

David beweer dat ons ook antisipatoriese hartseer beleef. Dis die gevoel wat ons ervaar wanneer ons dink aan die toekoms en ons onseker is wat dit gaan inhou. Gewoonlik hou dit met dood verband. Dis die gevoel wat jy kry as jy dink daaraan dat iemand eendag moet sterf. Maar dis ook wyer as dit. Dis die gevoel dat daar iets slegs wag en gaan gebeur. Dis die gevoel van verlies aan veiligheid. Nie net ek of jy as individue voel dit nie, ons voel dit nou ook as mense saam. Kollektief.

Hierdie antisipatoriese hartseer is - as dit ongesond word - eintlik angs. Dan dink ons al hoe meer slegte scenario’s uit. (Vgl. https://hbr.org/2020/03/that-discomfort-youre-feeling-is-grief)

Die vraag is of dit nou 'n illusie is om te dink ons kan voortgaan met dankbaarheid en hoop? Moet ons nie nou maar eers daarvan vergeet nie?

Ek reken: Juis nie! Dankbaarheid en hoop is presies wat nou en tussendeur moet gebeur.

Kom ek vertel wat die aand in die ICU van die saal gebeur het na my operasie.

Ek is laataand nog wakker want ek het mos lekker geslaap onder narkose. Bowendien is dit 'n vreemde omgewing en kort-kort biep daar 'n monitor en dan weer blaas die bloeddrukband hier om my arm op. O ja, om my enkels is daar ook goed wat kort-kort op en af blaas vir bloedsirkulasie.

Ek kan nie my medepasiënt sien nie, maar ek kan hom hoor. So kom ek agter dat omtrent alles wat by hom moet in of uitgaan, moet deur pype gebeur. Hy mag net op sy rug bly lê.

Wel, daar is altyd gesê ‘tel jou seëninge’ en so begin dankbaarheid nommer een: Ek het nie so baie moeilikheid soos hy nie. En ek hoop dat die operasie my (en hom) sal laat herstel.

In 'n stadium kla hy vreeslik oor sy rug wat so seer en sensitief raak van op sy rug lê, en die verpleegkundige vra hom ewe besorgd of hulle sy rug met iets kan insmeer. Hy antwoord: ‘Asseblief!’

Hulle lig hom effens en smeer. Onmiddellik skree hy: ‘Eina! X*!@#’ (vloekwoord).

O nee, ons sal ophou,’ sê hulle besorg.

Nee, asseblief, smeer aan,’ pleit hy.

Die volgende ruk is die proses: hulle lig hom effe op, smeer, hy skree eina en vloek, en sê dan dankie. Dan gebeur dit weer op dieselfde manier tot hulle uiteindelik klaar is.

Dit het my laat besef: in intense pyn kan die streling van salf en omgee dankbaarheid bring, al skel jy so tussendeur. Terwyl die salf die hoop versterk dat dit beter gaan voel.

Die punt is: waar jy nou is, kan jy seer hê, maar hoop en dankbaarheid kan ook daar wees en help verligting bring.

Wel, ek het gelag – darem nou nie so dat hy my kon hoor nie. Maar ook hier was dit 'n lag wat my seergemaak het – onthou ek was pas geopereer, maar pyn en genot het saamgevloei soos hoop en dankbaarheid saam met seer.

In die lewe is dit meesal nie óf-óf’s nie. Dis meer én-én.

Dis die situasie van én seer én dankbaar én hoop wat op 'n manier vermeng sodat jy kan doen wat Jakobus noem: ‘...julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom, want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard.’ (Jakobus 1:2-3)

Dis 'n manier om betekenis te vind en te gee...”

Dink nuut oor jou bediening

(Sertifikaatkursus in Bedieningsvernuwing)

Jy word uitgenooi na die volgende module in hierdie kursus gerig op predikante

in die middelfase van hulle bediening:

Hoe bevorder ons gemeenskap in en deur ons gemeentes?”

22 – 24 November 2021

Gemeentewees gaan nie net oor die geloofsvorming van individuele persone nie, maar gaan ook oor gemeenskap: aan die een kant die onderlinge gemeenskap tussen gelowiges binne ‘n gemeente, en aan die ander kant gemeentes se roeping na buite in die groter gemeenskap waarvan hulle deel is. In hierdie module word daar gekyk na die manier om albei sake te bevorder – gemeenskap in én deur ons gemeentes, sodat die koninkryk al meer sigbaar kan word in ons leefwêreld.

Plek: Aanlyn per Zoom

Tye: 22/11 (9:00 – 16:30), 23/11 (9:00 – 16:30),

24/11 (9:00 – 13:00)

Aanbieder: Dr André Bartlett

Koste: R95

VBO: 30 punte

Sluitingsdatum: Vrydag 19 November 2021

Inskrywing: https://forms.gle/1gcfvNA3AMsuCJqA7

(Inskrywings geskied deur middel van dié aanlynvorm)

Bankbesonderhede vir elektroniese betalings:

Bank:ABSA

Naam van rekening:TSO

Rekeningnommer: 142 0830 463

Takkode: 632005

Tak: PRETORIA

Verwysing: VBO naam en van

Bewys van betaling: epos na excelsus@up.ac.za

Navrae: Rika by excelsus@up.ac.za

Jy word uitgenooi na:

die vierde van vanjaar se kreatiewe werkswinkels oor

die viering van die kerklike jaar

Die jaar van God se genade (Jaar B)

17-18 November 2021

Advent en Epifanie

Daar word saam gedink en saam gewerk aan die viering van:

Advent en Kersfees

Epifaniefees en die Sondae ná Epifanie

Plek: Aanlynaanbieding

Tye: 09:00 – 17:00

Aanbieder: Dr André Bartlett

Koste: R75

VBO: 20 punte

Sluitingsdatum: 14 November 2021

Skakel om in te skryf: https://forms.gle/VUbEUQ8yFy8GZgqq9

Bankbesonderhede:

Bank: ABSA

Naam van rekening: TSO

Rekeningnommer: 142 0830 463

Takkode: 632005

Tak: PRETORIA

Alle navrae kan gerig word aan Rika van Rensburg by excelsus@up.ac.za

NG Gemeente Universiteitsoord

Vakature – Orrelis

Samesang en musiek is ’n belangrike komponent van ons eredienste en aanbiddingstyl in Universiteitsoord. Aansoeke word ingewag van persone vir die funksie van Orrelis.

Musiekbediening by Universiteitsoord

In Universiteitsoord speel musiek ‘n baie belangrike rol in ons aanbidding tot God. Ons wil deur ons mooi musiek ons lidmate begelei om werklik verplaas te word tot in ‘n verhouding met God. Ons begeleiding is vry en ons volg ‘n spanwerk benadering. Ons glo musiek in die erediens beklee ’n integrale plek in die liturgie om sodoende ’n ontmoeting met God en medegelowiges aan te help en te versterk. By Universiteitsoord is die orrel met sy menigvuldige moontlikhede binne ’n gepaste estetiese milieu gevestig.

Orrelisprofiel
Die ideale kandidaat sal minstens die volgende vaardighede en ondervinding hê:

Die nodige orrel kwalifikasies, -vaardigheid en vorige ondervinding of tans ingeskryf vir die voltooiing van ‘n erkende kerkorrelis diploma, die vyfde eksamen van die Raad vir Kerkmusiek of soortgelyke kwalifikasie.

Gemeentebegeleiding met pyporrel en klavier by eredienste en spesiale geleenthede;

SAKOV lidmaatskap en bywoning van byeenkomste word aangemoedig en sal in die aansoeker se guns tel, maar is nie ’n voorvereiste vir die pos nie.

Entoesiasties en passievol oor musiek in die algemeen, met die klem op geestelike musiek en beskou dit as ’n roeping om deur middel van musiek die Here te dien en die gemeente te bedien.

Omarm die diversiteit van die gemeente.

Selekteer toepaslike liedere uit die klassieke en hedendaagse liedereskat vir die gemeente se aanbidding en lofprysing.

n Bereidwilligheid om saam met ander musikante Flam, Vonkk-, Liedboek en Engelse liedere te leer.

Vergoeding
Vergoeding sal met die suksesvolle kandidaat beding word.

Aansoeke
Aansoekvorms is per e-pos by Petra@universiteitsoord.co.za beskikbaar. Die sluitingsdatum vir indiening van voltooide aansoekvorms is Dinsdag 30 November 2021. Die kandidaat moet beskikbaar wees vir ’n speelbeurt. Die kerkraad behou hom die reg voor om nie ‘n aanstelling te maak nie.

Navrae by

Flip Erasmus erasmuspm.pvt@gmail.com of tel: 082 922 4422.

NG KERK ARANOS: NAMIBIË

VAKATURE: VOLTYDSE LERAAR

GEMEENTEPROFIEL:
Die gemeente is geleë in die Sentrale Oostelike deel van Namibië in die Kalahari, en bestaan uit 295 belydende en 81 dooplidmate. Die hoofbedryf in die omgewing is veeboerdery.

BEDIENINGSFOKUS:
Die begeleiding van die onderlinge geestelike versorging en opbou van die gelowiges om hulle in staat te stel om as Christene in die wêreld te kan leef en getuig.

Die prioriteite van hierdie fokus is die gevolg van 'n langdurige en intense droogte, asook die gevolge van die Coronavirus-krisis.

LERAARSPROFIEL:
'n Ten volle opgeleide predikant, wat by een van die erkende geregistreerde opleidingsfasiliteite van die Nederduitse Gereformeerde Kerk opgelei is, en gelegitimeer is in die Nederduitse Gereformeerde Kerk.

Beantwoord aan die bedieningsvereistes van Art 9 van die KO van die NG Kerk

BESONDERE VEREISTES:

Besondere geestelike en persoonlike volwassenheid in die hantering van menseverhoudinge en spanwerk

Die vermoë om jonger mense te bereik.

Goeie fisiese gesondheid om die bediening oor groot afstande te kan hanteer.

Kandidate wat hulleself in hierdie profiel sien is welkom om hulle beskikbaar te stel vir beroeping.

Stuur asb 'n kort CV, met twee verwysings en twee video preke na:

Die voorsitter: Bedieningskommissie
NG Kerk Aranos
aranosng@iway.na

Sluitigsdatum: 13 Desember 2021

Dis winter, en my oë vee oor die geraamtes van doringbome wat waghou oor die maangebaaide bos. Dis oorverdowend stil. Nie ‘n kriek nie, nie ‘n motor wat ry nie, nie ‘n TV wat blêr nie - niks - nie ‘n geluidjie nie. Dan fluister ‘n naguiltjie iewers - te bang om die stilte te verbreek, en dan maar weer die heilige stilte. En so sit ons tweetjies, te bang om iets te sê, ons en verlustig aan die stilte wat so dik is dat jy dit met ‘n mes kan sny. In die maanverligte landskap voor ons, is daar nie eers die vaagste teken van ‘n roering nie.

En dan skielik, uit die bloute brul hy. Sy brulle weergalm oor die veld, so hard dat ek die bewerasies in my binneste kan voel. Ons hou asem op en luister in verwondering as die leeu se brul al sagter en sagter word om met ‘n hugge-hugge-hug weg te sterf in die nag. En dan weer die doodse stilte.

Ons wonder hoe naby daardie kêrel is - dit kan nie te vrek ver wees nie, want dit was darem bitter hard! En so sit ons in stilte, elkeen met sy eie gedagtes. In my verbeelding sien ek hierdie manjifieke dier - vors en fier, sy amper-swart maanhare wat trots oor sy skouers hang en ‘n digte serp maak wat sy bors toevou tot tussen sy voorbene. Trots-parmantig staan hy in die helder maanskyn en bulder dit uit vir enige ander leeumannetjie wat dit sou waag om sy gebied binne te kom: “Bly hier uit! Vir jou vreet ek lewendig op!”

Minute later weergalm sy brulle weer - dié slag nog harder as die eerste keer, en wanneer hy sy brul afrond teen die einde, dan hoor ek duidelik hoe sy lippe op mekaar klap. ‘n Rilling gaan deur my liggaam, en ek voel half kriewelrig om nog hier op die oop stoep te sit. Hierdie leeu is ongemaklik naby. As hy die derde keer dit uitbulder, is daar nóg ‘n leeu ‘n ent rivier op wat sy brulle eggo. Met die volgende sarsie is daar nie minder nie as ‘n halfdosyn stemme wat bykom, en dit klink kompleet asof hulle sê: “Groot Meneer! Jy is ons baas en meester, en ons sal jou eerbiedig!”. In stereo hoor ons die brulle kom van alle kante af, en dit laat jou piepklein voel in die geselskap van die ou grotes. Dit laat jou net opnuut weer besef dat hier in die groot bos, jy maar net ‘n toeskouer is - leeu is hier grootbaas!

Later die aand, as die brulle bedaar, moet ons maar net vir onsself sê dat ons eintlik verniet so skrikkerig is, want daar is mos ‘n wildheining tussen ons en die Kruger Wildtuin, en dat hierdie vuilbaarde tog maar anderkant die draad raas. Maar sê nou maar net hulle het dalk deurgebreek uit die Wildtuin uit en dat hulle iewers in die bosse tussen die huise rondsluip? ‘n Koue rilling gaan langs my ruggraat af - hoe naby was daardie leeus werklik? Het hulle dalk iewers uit die bos vir ons lê en loer?

Dis twee aande later. Dis volmaan, en skemeraand as ek en Mosbolletjie langs die Krokodilrivier uitspan, hoor ons al die brulle rivieraf na Komatipoort se kant. Half kriewelrig pak ons op en verkas huistoe. Ek slaan ‘n vuurtjie aanmekaar, en dan, terwyl ek nog die stompies opgooi, begin die brulle van daardie Grootmeneer alweer oor die bos weergalm. Haastig maak ek dat ek op die stoep kom, want ‘n man weet mos nooit..…! Die klomp wat ons by die rivier gehoor het, antwoord met ‘n salvo omgekrapte brulle. Grootmeneer en sy meelopers brul ongedurig, want nou is daar kompetisie - érnstige kompetisie. Baie bekommerd “hugge-hugge-hoeeee” ‘n seekoei iewers tussen die twee troppe leeus. Dinge raak vir hom half ongemaklik.

Dan breek daar ‘n almintige kabaal los by die rivier-af trop. Dit klink of iemand op die tropleier se liddoring getrap het en nou is die duiwel behóórlik los! Verwoede brulle weergalm deur die droë sekelbosse deur terwyl ‘n klein oorloggie daar iewers woed. Senuweeagtig giggel ‘n hiëna daar iewers in die bos. Is dit bang-geit, of lag hy hom ‘n papie vir daardie klomp bakleiers? Ek sal nie weet nie. Grootmeneer hier naby ons gee ‘n oorverdowende, baie outoritêre sarsie brulle, en skielik raak dit stil daar op die bakleiers se werf.

Stilte sak toe oor die geraamtes van doringbome, gebaai in die sagte lig van die volmaan. Iewers koer ‘n naguiltjie: “O Heer, vergewe my....”

Wees nugter, wees wakker!”, skryf Petrus in sy eerste brief (1 Pet 5:8). “Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind.” ‘n Leeu se verwoede gebrul hier naby jou, sal jy mos nie ligtelik opneem nie. Net so durf ons ook nie die duiwel onderskat nie. Ja, die duiwel is ‘n werklikheid, en as ons heul met die okkulte, dan trap ons in die brullende duiwel se slagyster.

Bly standvastig in die geloof en staan hom teë,” sê Petrus. Ja, Jesus het die duiwel oorwin, en elkeen wat sy vertroue in Jesus stel, kan aanspraak maak op Sy beskerming teen die duiwel. Dit is egter wanneer jy afvallig raak, dat jy binne bereik van die duiwel begin beweeg. En glo my: hy kan gevaarlik wees!

Wees dus paraat in die geloof, en werk gedurig daaraan deur te oefen en geloofsfiks te bly.

Louis Nel

Uit: Ons Dag se Brood