Ons gesprek van twee weke gelede het gegaan oor die gebruik van ‘n selfoon as kamera om lewendige uitsendings van jou erediens te doen op Youtube. Hierdie is die goedkoopste opsie en dit werk beslis! Maar.....

Die goedkoopste opsie is nie noodwendig die beste opsie nie en hierdie metode het natuurlik ook sy nadele. Alhoewel ‘n selfoon ‘n redelike goeie beeld gee wanneer die Iriun sagteware gebruik word, is die een groot probleem dat dit jou feitlik geen beheer gee oor die kamera nie. Jy kan wel die beeld inzoem, maar dit is basies waar dit eindig. Verder volg die kamera sy eie kop.

Omdat die selfoon se kamera outomaties sy lig en fokus stel, gebeur dit dikwels dat die beeld tussen lig en donker wissel en ook dat dit soms uit fokus gaan. Ongelukkig is daar niks wat jy daaraan kan doen nie!

Die enigste manier om dit te oorkom is om die selfoon te vervang met ‘n geskikte kamera. Die groot vraag is, watter soort kamera om te gebruik?

Jou eerste reaksie is om ‘n video kamera aan te skaf. Hierdie klink na die regte opsie, maar daar is ook ander opsies wat dalk baie beter is.

Kom ons kyk eerstens na video kamera’s. Daar is ‘n wye verskeidenheid video kamera’s beskikbaar, maar nie almal is geskik vir hierdie soort uitsendings nie. Indien jy dus hierdie roete wil volg, moet jy baie seker maak dat die kamera wel geskik gaan wees om die werk te kan doen. Eersteens moet ‘n kamera ‘n “skoon” beeld kan lewer. Dit beteken dan slegs dit wat jy afneem in die beeld gaan verskyn en nie ook ander prentjies van byvoorbeeld batterylewe, verstellings ens nie. Meeste goedkoop kamera’s het nie hierdie opsie nie.

Die goedkoop video kamera’s het verder ook ‘n relatief klein sensor wat veroorsaak dat video kwaliteit korrelrig raak in lae ligtoestande. Indien jy ‘n video kamera wil gebruik, sou die minimum wat ‘n redelike goeie beeld gee ‘n Canon HF G50 of iets soortgelyk wees. Dit kos sowat R18’000.

Daar is egter ‘n ander, beter opsie: ‘n SLR kamera. SLR beteken “Single Lens Reflex” en is die kamera’s wat meeste mense wat ernstig is oor fotografie gewoonlik gebruik. Baie mense skram weg van hierdie opsie oor die eenvoudige rede dat dit los lense het wat aangeskroef moet word. Maar voordat jy die kind met die badwater uitgooi, kyk eers wat hierdie opsie behels.

SLR kamera’s het gewoonlik ‘n heelwat groter sensor wat beteken dat dit steeds ‘n goeie beeld lewer in lae ligtoestande. Verder is daar volle beheer oor goed soos diepte van veld, wat jou ‘n baie beter beeld gee. Jou eerste gedagte is dat hierdie ‘n duur opsie moet wees want buiten die kamera moet jy ekstra lense koop. Dit is egter nie die geval nie.

Soos met video kamera’s, is daar ook ‘n wye verskeidenheid van SLR kamera’s beskikbaar. Ek het egter gevind dat Canon die beste opsie bied. Die Canon EOS M50 en Canon EOS M200 kom beide uit met twee lense, ‘n 15-45mm asook ‘n 55-200mm lens, wat jou die opsie bied om die kamera agter in die kerk op te stel en steeds ‘n goeie beeld te kry. Hierdie kamera’s kos sowat R14’000 wat heelwat goedkoper is as ‘n soortgelyke video kamera en steeds baie meer voordele bied.

Onthou dat ‘n video kamera asook ‘n SLR kamera ‘n “Video Capture Kaart” en HDMI kabeltjie nodig het om aan jou rekenaar te kan koppel.

Ek hoop hierdie inligting is vir jou die moeite werd. Kom ons lewer vir die wêreld daar buite ‘n boodskap van gehalte wat mense lus sal maak vir die Evangelie!

JONG PREDIKANTE SAMEKOMS

26 – 27 Oktober 2021 te Forest Lodge, St Lucia

Die bediening is sekerlik vir almal uitdagend, maar vir ons as jong predikante het dit die laaste jaar gevoel asof krisis-op-krisis ons oorweldig. Ons was en is steeds gekonfronteer met die Covid 19- pandemie; ons het die plundering beleef en ons harte was gebreek met die afsterwe van ons Sinodale kollega, Ds Liezel de Jager.

Maar ten spyte van al hierdie dinge, was dit ‘n seëning om saam die jong predikante samekoms by te woon. Dit het ons die geleentheid gegee om met mekaar te gesels en saam te droom oor die toekoms. Ds Marinda van Niekerk het ons geïnspireer met haar verhaal van PEN en het ons laat besef dat “kerkwees” op baie ander maniere uitgeleef kan word.

Alhoewel ons weet dat daar nog vir ons baie dinge voorlê, was hierdie twee dae ‘n herinnering daaraan dat God uiteindelik elkeen van ons op ‘n besonderse manier sal gebruik om deel te neem aan God se uitbou van die Koninkryk. Dit was ‘n kosbare ervaring om net weer, so met oop en bereidwillige hande, voor God te kom. Maar dit was net so besonders om met “oop gedagtes” voor God te kom en eintlik onsself toe te laat om saam met mekaar in die teenwoordigheid van God te droom oor ons gemeenskappe.

As jong predikante spreek ons ons dank uit teenoor die SBS wat hierdie geleentheid vir ons moontlik gemaak het. Dit het ons lewens verryk.

Hoe gaan ons om met ons verskille?

In hierdie videoreeks van dertien episodes plaas die Algemene Sinode die soeklig op die oortuigings, standpunte en werkswyse van die NG Kerk. Die volledige reeks van So glo, leer en getuig ons... kan hier besigtig word.

In die onderstaande video gesels Maartje van der Westhuizen (lid van die ASM dagbestuur) met Bernice Serfontein, predikant van NG Kerk Waterkloof, oor hoe gelowiges met mekaar kan verskil.

EKOLOGIE

COP26
Tans is wêreldleiers besig om te besin oor die toekoms van ons planeet. Die COP26-byeenkoms wat in Glasgow plaasvind van 31 Oktober tot 11 November is ‘n poging deur lande om in meer konkrete terme ‘n aksieplan teen klimaatsverandering en ekologiese verweer vas te lê. Maar wat kan elkeen van ons doen in ons eie gemeenskappe? Ons Groenspan deel ‘n paar idees in die video onder!

Lees Matteus 11:25-30

Die laaste strale van die Laeveld wintersonnetjie maak sulke nostalgiese ver-verlangkleure op die spieëlgladde poele van die Krokodilrivier. Dis die mees verruklikerooi, oranje en geel, alles met ‘n titseltjie blou en groen. Die reuse Rooiessenhout- en Trosvybomeop die oorkantse oewer weerkaats donkergroen skaduwees op die blink watertjie. Twee pikswart rietduikers sweef doelgerig stroomop soos skimme met afgemete vlerkslag net-net bokant die kleurvolle spieël na ‘n slaapplek iewers wes, daar waar die son hard besig is om ‘n kombersie oor sy bloedrooi gesig te trek. ‘n Reusereier staan in die middel van die stroom, sy lang, maer kieriebeentjies tot by sy kniekoppe in die ysige water. Sy veredos gloei rooi-roesbruin as die son nog ‘n laaste maal met een oog oor die kombers se randjie loer en ‘n straaltjie rooi op die reier laat skitter. Nie ver van Meneer Reier af nie sit Mevrou op ‘n reuse rots. Twee kuikens, reeds ‘n meter of watin hulle sokkies, loer half aan die slaap oor die rand van ‘n yl riet-en-stokkies nes!

Op ‘n sandbank in die middel van die rivier staan ‘n eensame kolgans verveeld rond, baie hard besig om niks te doen nie. Hier loop die Groot Krokodil maklik tagtig meter wyd, besaai met poele, stroompies, sandbanke en reuse rotse. Tussendeur groei hier en daar ‘n groot klos riete.

Die rustige toneel word skielik verbreek as ‘n tarentaal oor ‘n strook oop water hardloop-vlieg om op Kolgans se eiland haar ankers uit te gooi. Kort op haar hakke volg nóg ‘n tiental susters.

Kolgans kyk versteurd op!

Nóg twintig of wat van die banale kolletjieshoenders skuur oor die water oppervlak in ‘n lang reguit ry. Hulle rem dat die sand in die arme kolgans se oorblufte oë spat.

Sy stresvlakke styg merkbaar.

Die tarentale is uitgelate en baie luidrugtig. In wye sirkels jaag hulle mekaar op die beknopte sandbank rond, heen en weer, dán diékant toe, dán dááikant toe!

Gans se kop draai. Hy raak duiselig van al die rondomtalie!

Die een streep kolletjiesvlugte op die ander stroom intussen steeds die eilandjie binne. In hierdie al-hoe-beknop-wordende omstandighede raak die tarentale al hoe uitspattiger totdat almal mekaar naderhand in ‘n dolle deurmekaarspul rondjaag.

Kolgans vererg hom blóédig vir die onwettige grondbesetting. Of is dit dalk grondonteiening sonder vergoeding? “Stóóóóóóóp!!!!!” gil hy histeries, “Af! Af van my eiendom af! Gee pad! Skoert! Voertsêk!!!!!”

Hy voeg sommer die daad by die woord en begin wild en woes die gekkespul van sy eilandjie verwilder. Die tarentale dink dat dit ‘n nuwe speletjie is en tart hom net nog verder uit. Uiteindelik slaag hy tog daarin om ‘n handjievoltarentale van die eilandjie af te skop, maar so vinnig as wat hulle verdwyn na die volgende eiland, so vinnig streep ‘n ánder lot van oorkant die water af weer in!

Kolgans is nou nie juis oorbedeeld met grysstof tussen sy oortjies nie. Hy verbeel hom ál dis dieselfde klomp wat hy afjaag wat weer terugkom. Dan besluit hy om hulle heeltemal landuit te jaag. As hy ‘n bondel kolletjieshoenders van sy eiendom af boender, jaag hy hulle sommer dwarsoor die volgende eiland totdat hulle totaal wég, ver, ver weg is!

Maar helaas! Wanneerhy blaas-blaas op sy stukkie sand aanland, dan is dit maar net weer kolletjies wáár hy ookal kyk en dan moet die moedelose gans maar weer van vooraf skoonmaak. Arme meneer Reier spring-spring op sy maer stelte om uit almal se pad te probeer kom, en besluit dat dit dalk veiliger saam met Mevrou indie nes op die groot klip is.

Intussen het die voorhoede van die mal hoenders met die swart sykouse streep-streep van sandbank na sandbank na sandbank gehardloop-vlieg, verby die sluimerendereusereier kuikens op hulle nes, en kom hulle in ‘n groot woelende, wriemelende massa bymekaar op ‘n reuse hoop rotse naby die oorkantste oewer, regoor die Rooiessenhout en Trosvy.

Genadiglik droog die stroom toeriste op Kolganseiland op. Verwese sit hy daar en staar uitgeput die verdwynende moeilikheidmakers agterna.

By die rotse is daar intussen die grootmamma van alle verkeersopeenhopings. Uiteindelik skraap ‘n klompie tarentale genoeg moed bymekaar om die boomtoppe in te vaar. Nóg ‘n bondel volg, en nóg een. Naderhand lyk dit na ‘n swerm rooibekvinke in ‘n koringland soos honderde kolletjieshoenders in groot wolke opstyg en die Rooiessenhout binnevaar om daar veilig, hoog in die takke te sit, weg van die kriepiekrôlies wat in die donker daar onder rondkruip en nét dalkies lus kan wees vir ‘n sappige tarentaalsosatie.

Op die sandbank vou die nag vir Kolgans knus toe in sy donskombersie en ‘n rustige stilte sak toe oor die bos. 

Saggies sug hy: “Dankie tog! Spitstyd is verby!”

Ek voel ook soms soos daardie arme kolgans - sat vir al die geharwar om my! Ek kan wegvlug van dit alles af, moontlik na die stilte van die laeveld of dalk een of ander eksotiese eiland. Dit is egterslegs ‘n tydelike oplossing! Daar is egter ‘n permanente oplossing, een wat te enige tyd tot jou beskikking is.

In Matteus 11:28 het Jesus die oplossing gegee toe Hy gesê het: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Kom ons neem Hom op Sy Woord, en soek rus by Jesus, die enigste Een wat ware rus kan gee!

Louis Nel

Uit: Ons Dag se Brood