Ons het 'n paar weke gelede gesels oor die moontlikheid om direkte uitsendings (live streaming) te doen van jou erediens. Vir meeste mense is dit 'n reuse berg om eers oor te klim. Een gemeente het my vertel dat 'n goeie stelsel vir sulke uitsending tot R80’000 kan kos! Vandag het ek egter vir jou goeie nuus, want dis baie makliker en goedkoper as wat jy dink!

Daar is 'n paar noodsaaklikhede om dit te doen. Die eerste en belangrikste is 'n goeie, stabiele internetverbinding. 'n Vinnige optiese vesel verbinding is die beste, maar indien dit nie beskikbaar is nie, is 'n WIFI sein d.m.v. 'n selfoon ook 'n opsie indien die sein sterk en stabiel is.

Die tweede noodsaaklikheid is sagteware. OBS (Open Broadcaster Software) is die mees algemene sagteware wat gebruik word en kan gratis afgelaai word van die internet by https://open-broadcaster-software.en.softonic.com/download?ex=BB-1958.0

Met hierdie sagteware kan jy die uitsending uitstekend kontroleer. Jy kan selfs byskrifte soos bv die Skriflesing asook prente en selfs video’s byvoeg terwyl jy besig is met die uitsending.

Die tweede noodsaaklikheid is 'n kamera. Daar is baie verskillende opsies wat uiters duur kan raak. Weereens het ek goeie nuus, dat dit jou niks hoef te kos nie. Al wat jy nodig het is 'n selfoon met 'n redelike goeie kwaliteit kamera. Daar is 'n groot verskeidenheid van toeps beskikbaar om jou selfoon in 'n webkamera om te skakel. Meeste van hulle, soos bv. DroidCam bied jou egter slegs 'n lae kwaliteit video.

Die een wat wél 'n hoë kwaliteit bied is IRIUN. Installeer hierdie toep op jou selfoon asook op jou rekenaar. Laai dit af by https://iriun-4k-webcam.en.softonic.com/android? En installeer op beide jou selfoon en rekenaar.

Die derde hekkie wat jy moet oor is klank. Weereens is koordlose mikrofone 'n duur opsie. 'n Uitstekende alternatief is om 'n selfoon te gebruik. Om dit selfs meer effektief te maak, kan die stelletjie oorfone wat gewoonlik saam met 'n selfoon kom, gebruik word as mikrofoon. Jy kan selfs die oorfoon-gedeelte afknip en slegs die mikrofoon gedeelte los en dit so as 'n lapel mikrofoon gebruik. Installeer dan die toep: WO Mic op die selfoon en installeer WO Mic Client sagteware op jou rekenaar. Laai dit af by https://wolicheng.com/womic/

Met hierdie sagteware kan jy 'n volledige uitsending doen op Youtube of ZOOM deur die selfoon as kamera asook 'n ander selfoon as mikrofoon d.m.v. Wifi aan jou rekenaar te koppel.

Nou begin die harde werk om die OBS Sagteware onder die knie te kry. Sterkte daarmee! Maar kontak my gerus by 082 771 4925 as jy vasbrand.

Groete,

Louis Nel

Sinodale Kantoor Nuwe Ure

Neem asseblief kennis dat die Sinodale Kantoor in Pietermaritzburg se werksure verander het. Dit is nou:

Maandae tot Donderdae vanaf 07.30 tot 16:00

Vrydae vanaf 07:30am tot 13:00

Westville Faith Community

Die Durban Metropool Ring het twee jaar gelede besin oor die moontlikheid om 'n bediening te begin onder persone wat nie by 'n kerk betrokke is nie. Die Westville omgewing is geteiken aangesien daar 'n groot aantal jongmense is van alle taal- en kultuurgroepe.

Na baie beplanning, beraadslaging en gebed is besluit om Sbusiso Zondi aan te stel om die proses te dryf. Luan Martin, die jeugwerker in Krantzkloof gemeente moes hom help.

Aanvanklik het dit maar stadig begin met meestal 'n handjievol jongmense wat naweke in Sbusiso se huis in Chesterville bymekaar gekom het. Die entoesiasme het egter geblom en dit het al groter en groter begin word.

Die bediening het uiteindelik sodanig ontwikkel sodat daar nou vrouebyeenkomste, gebedsbyeenkomste, kerkdienste en werkswinkels aangebied word en met elke byeenkomsgroei die getal mense. Dit word al hoe duideliker dat daar 'n kerk nodig is in Chesterville waar Sibusiso woon, aangesien daar geen kerk in die onmiddellike omgewing is nie. Sbusiso se huis het nou uit sy nate begin bars en het dit heeltemal te klein geword vir die groot aantal mense wat elke keer opdaag.

Intussen het Sibusiso die groen lig gekry vir 'n kerk op 'n stuk grond naby sy huis. Ds Ngema help weekliks met sy bedieningstent en ander noodsaaklikhede, soos koeldrank en kos, om die bediening aan die gang te hou. NG Krantzkloof hou ook nog aan om donasies soos kos en klere aan hulle te skenk.

Nadat die mooi verhaal van die gebeure in Chesterville op sosiale media versprei het, is die groep verras met skenkings uit Polokwane om 'n tent, stoele en 'n luidspreker te koop.

Hulle het egter nog baie uitdagings aangesien hulle toerusting met elke byeenkoms lang afstande gedra moet word. Daar is 'n groot behoefte aan 'n vraghouer wat gebruik kan word as 'n stoorkamer vir die toerusting. Kontantbydraes sal ook baie verwelkom word om verversings aan te koop en baie ander kostes te dek. Dit is 'n baie arm gemeenskap.

Kontak gerus vir Luan Martin by luanmartin1717@gmail.com of 074 200 0100 vir enige besonderhede van hierdie wonderlike projek.

Ons loof die Here vir deure wat hier oopgemaak is in 'n wêreld wat honger is vir die evangelie!

Liewe Medewerker,

Die jaar spoed voort na sy einde toe. Verlede jaar het ons almal reikhalsend uitgesien na normaliteit, maar ongelukkig was dit net deels waar. Die positiewe vanjaar was dat talle die geleentheid gebied is om ingeënt te word en ook dat ons nou gemakliker by al die inperkings aangepas het.

Een feit wat opnuut uitstaan, is dat die Here vir ons by die Bybelgenootskap op verskillende wyse ryklik geseën het. Die woorde van Psalm 25:3 het weer vir ons nuwe betekenis gekry, “Niemand wat sy verwagting in U stel, sal beskaam word nie.”

Ons by die Bybelgenootskap kon ons nuwe lewensjaar ingaan met die wete ons gaan voortbou op die fondament wat in die vorige 200 jaar gelê is, die Woord van God. Ons sien met verwagting uit na die geleenthede om 'n verskil in mense se lewens te maak.

Baie dankie dat jy vanjaar die werksaamhede van die Bybelgenootskap finansieel ondersteun het. As ’n saaier van hoop, maak jou bydrae dit moontlik om die Bybel in die hande te plaas van mense wat dit die meeste nodig het. So kan ons saam lewens verander.

Elke bydrae van R100 wat die Bybelgenootskap ontvang, maak dit moontlik om een Bybel te versprei.

Seënwense

Francois Sieberhagen

Hoof: Kommunikasie & Bemarking

e biblia@biblesociety.co.za

t +27 21 910 8705

Liewe CLF-vriende

Die verhaal van die ongewone sendeling, Frank Jenner, is aan baie mense bekend. Frank het vir jare lank niksvermoedende voetgangers in Georgestraat, Sydney, met die volgende woorde voorgekeer: “Vriend, as jy vanaand doodgaan, sal jy na die hemel, of die hel gaan? Dit is ’n belangrike vraag, so jy moet mooi hieroor dink.” Dan het Frank weer weggegaan. Vir ongeveer 16 jaar lank het hy waarskynlik meer as 100’000 mense op hierdie manier bereik.

Baie mense regoor die wêreld kan getuig dat hierdie ontmoeting, en hierdie vraag, vir hulle die begin van ’n pad met die Here was. Soldate, seemanne en besoekers aan Sydney, is hierdeur geraak. Hulle het oor hierdie vraag nagedink, en met ander gelowiges daaroor gepraat. Frank se vraag het hulle lewens verander. Baie het besluit om as gevolg daarvan self by sending betrokke te raak en nog dissipels vir Jesus te werf. Hiervan het Frank egter nie geweet nie. Hy het bloot aangehou met sy ongewone sending, biddend dat dit vrugte sal afwerp.

By CLF glo ons ook dat die Woord van God nooit leeg sal terugkeer nie. Daarom belê ons sedert 1957 in pamflette wat die evangelie versprei, en terselfdertyd ook geestelike waardes vestig en sosiale kwessies aanspreek. CLF se gratis pamfletbediening wil gemeentes en individue help om die evangelie na mense te neem, in hulle eie taal. Hierdie pamflette – ons ongewone sendelinge – bereik mense op onverwagse en ongewone plekke, en ons glo dat dit net soos Frank se boodskap, lewens aanraak en verander.
Duisende verhale vertel van mense wie se lewens deur hierdie pamflette aangeraak is. Ons pamflette bereik mense daar waar hulle beweeg en werk: by skole, spreekkamers, vulstasies, hospitale, hotelle, taxi staanplekke en vele ander plekke. En omdat hierdie pamflette reeds in 19 verskillende tale beskikbaar is, kan mens
e van verskillende wêrelddele hierdie boodskap in hulle hartstaal lees.

Saam met hierdie pamfletbediening het CLF met die hulp van getroue ondersteuners reeds ongeveer 111 338 verskillende Kinderbybels in sewe verskillende tale versprei.

CLF wil julle gemeente graag uitnooi om ons hande te vat en ons vennote in hierdie bediening te wees. Reik uit na ander met ’n boodskap van hoop. Wat die behoefte ook al mag wees - evangelisasie, geloofsgroei, gemeentetoerusting, maatskaplike kwessies of kinderbediening – CLF wil graag help. Ons het asseblief ook julle voorbidding en ondersteuning in hierdie bediening nodig. Ons vra daarom of julle kerkraad asseblief ’n deuroffer of spesiale insameling vir CLF in 2022 sal oorweeg. Bevestig asseblief die datum vir die dankoffer, en ons sal die nodige inligting wat op daardie dag gebruik kan word, deurstuur.

Vriendelike groete

Charmaine Stoffberg

BEDRYFSBESTUURDER

NS: Laai gerus CLF se jongste Powerpoint aanbieding
hier af. Dit is veral geskik om voor die erediens aan gemeentelede gewys te word. Dit verskaf nie net meer inligting oor CLF nie, maar ook hoe mense betrokke kan raak. CLF se elektroniese pamflette (e-pamflette) kan hier afgelaai word.

Getuienisse - Sending Tydens Covid

Maak seker dat jy nie die geleentheid mis om by ons aan te sluit vir die 'Sending Tydens Covid' Zoom vergadering met Ds. Loffie Schoeman nie. Loffie kom die week terug vanaf Kenia.

Wat om te verwag:

Hoe Loffie sedert 2008 elke jaar sendingreise onderneem

Hoe hy vreemdelinge met die evangelie konfronteer, dit sluit in Afghanistan en Irak Vlugtelinge na Europa, Siriese vlugtelinge na Lebanon en Jordanië

Die bou van jungle gyms in Midde Oosterse vlugtelingskampe

Sonkrag Klank-Bybels in mense se moedertaal

Uitreik na seemanne by SA hawens

Uitreik na Intern Verplaaste Mense in Oos-Afrika

Datum - Dinsdagaand 26 Oktober
Tyd - 19:00 - 20:00

Volg die skakel om te registreer - www.megavoice.co.za/MVZ009

Beste LiG-leser

Lindie Strydom, Milanie Vosloo, Wanda Bam en Melissa Swart is ons sprekers by vanjaar se digitale verskeidenheidsprogram op Saterdag, 30 Oktober van 10:00 tot 12:00.

Indien jy nog nie geregistreer het nie, dit is GRATIS. As jy registreer ontvang jy die skakel waarheen LiGter gestroom word, én staan die kans om fantastiese pryse van meer as R100 000 te wen!

2693 Dames sluit reeds by ons aan en ons hoop jy en jou vriendinne kan ook saam met ons kuier, kyk en gesels!

Registreer hier

Ons gaan ook saam met Onbeskaamd die Here loof en aanbid.

Kom kyk na die hartroerende getuienis van 'n ma wat haar seun na dekades opgespoor het. Ander verrykende inhoud sluit in, ‘n kosdemonstrasie deur Heleen Meyer, ‘n skoonheids-insetsel deur Créme Classique en hoe om self essensiële olie te meng.

Indien jy 'n gelukkige trekkingkaartjie van R100 koop, staan jy die kans om pryse ter waarde van meer as R100 000 te wen! Koop jou trekkingkaartjie deur hier te kliek.

DIE JONA-KOMPLEKS

Die Jona-kompleks is 'n nuwe publikasie wat lesers help om die boodskap van Jona te ontdek soos wat jy die inhoud nog nie verstaan het nie. Die werk is op die jongste navorsing gebaseer en bied talle nuwe ontdekkings. Die inhoud is opwindend, lees maklik en is hoogs verrykend. Die boek is as Bybelstudiehandleiding geskryf, maar is terselfdertyd bedoel om as 'n waardevolle sleutel vir preekvoorbereiding te dien. Die werk bestaan uit 36 hoofstukke en beloof om 'n groot treffer te wees. As jy lief is vir nuwe ontdekkings in die woord van die Here, gaan jy beslis van hierdie publikasie hou.

Van die onderwerpe sluit in ... en het jy geweet?:

Jona se naam beteken: "Die wilde duif is die seun van die HERE wat getrou is".

Die vis wat Jona ingesluk en uitgespoeg het, was 'n mannetjie vis.

Met Jona in sy buik was dit 'n wyfievis.

Wat die betekenis van Nineve se veertig dae was.

Jona het dubbele standaarde gehad.

Jona se plant was nie 'n plantvariëteit nie. Kom, ontdek wat dit was.

Die reg om kwaad te word.

Die oop slot plaas jóú in Jona se skoene.

Jesus en die teken van Jona.

Waarom Jesus Petrus "Barjona" genoem het.

Verhale oor Paulus gebruik Jona-motiewe.

Die Hebreeuse teks is kundig en verstaanbaar uitgelê. Elke hoofstuk is van kantaantekeninge voorsien, 'n besondere begrip van die motiewe in die verhaal, 'n boodskap, besprekingsvrae en 'n gebed.

Formaat: Sagteband.
Bladsye: 158 bladsye.
Prys: R150.00 (plus koerierskoste; sal kwoteer).
Bestellings en Navrae: Selfoon: 072 633 3367,
of e-pos: nvtonder@vodamail.co.za

Ons nooi julle graag uit om in te skryf vir dié werkswinkel wat aangebied word op 11 en 12 November 2021. Hierdie werkswinkel hak aan by Week 1 van die Brugbedieningskursus.

Werkswinkel

Opleiding van Begeleiers van ‘n Bedieningsdiagnose in Gemeentes

Excelsus gaan in die volgende jaar ‘n reeks werkswinkels op verskillende plekke aanbied waar predikante en ander gemeenteleiers opgelei word as begeleiers van ‘n Bedieningsdiagnose in gemeentes.

Die werkswinkel berus op die werkboek “Bediening in en van Missionale Gemeentes” wat in 2016 deur Malan Nel en Kennon L Callahan gepubliseer is.

Prof Malan Nel wat die aanbieder van die werkswinkel is, gee die volgende agtergrond:

Sedert 1991 was dit my voorreg om by ongeveer 150 gemeentes in verskillende denominasies, maar hoofsaaklik in die NG Kerk, prosesse in die ontwikkeling of opbou van missionale gemeentes te fasiliteer. Deel van hierdie fasilitering was groepsdinamiese diagnoses van bedieninge en funksionering in hierdie gemeentes.

Ek is op ‘n stadium in my lewe en bediening dat ek graag plaaslike predikante wil oplei om sodanige diagnoses te begelei.

My oortuiging is dat gemeentes wat trots is op hulle geskenkte identiteit in Christus byna logies begin vra: hoe gaan dit met ons? Die bedieningsanalise en -diagnose waarmee ek werk help gemeentes om te soek na die sterkpunte in hulle bedieninge.

Die nuwe werkboek waarmee ek werk (Nel en Callahan 2016) is gebou op teologies gemotiveerde nadenke oor wie ons is en wat ons doen. Daar is by my ‘n besliste keuse teen ‘n bestuurwetenskaplike verskraling van die gemeente tot ‘n organisasie wat met beplanning ‘reg gemaak’ kan word.

Dit gesê: hoe beter ons ons Godgegewe identiteit besef, hoe meer noukeurig onderskei ons waar ons is, hoe dit gaan en soek ons saam waarheen ons op pad is. Die verskil is dat dit nie ‘n leiergedrewe evaluering van gemeentes is nie, maar ‘n diagnose deur die gemeente self, ‘n gemeente wat weet dat die bediening hulle s’n is. Die verwagting is dat minstens 20% van die gemiddelde oggend erediens aan die diagnose deelneem.

 

Datum: Donderdag 11 November 2021 (14:00 – 17:00)

Vrydag 12 November 2021 (08:30 – 15:00)

Plek: NG Kerk Suidoos-Pretoria, (Stellastraat)

Koste R 390-00 wat die volgende insluit:

Werkboek: Bediening in- en van Missionale Gemeentes. Gemeentediagnose (word by die werkswinkel beskikbaar gestel).

Verversings en middagete

Inskrywing geskied deur middel van Google Forms: https://forms.gle/9KYtaWyM7xS9aQRW9

Aanbieder: Malan Nel

VBO-punte:10

Excelsus-groete

Rika

Die NG Gemeente Witrivier, ʼn plattelandse gemeente in die skilderagtige Laeveld van Mpumalanga met 1 100 belydende lidmate en 300 dooplidmate, nooi gelegitimeerdes van die NG Kerk uit om aansoek te doen vir 'n voltydse medeleraarspos.

Gemeenteprofiel:

Die gemeente se karakter en visie is om 'n Oase van Jesusliefde te wees.

Die gemeente het 'n sterk musiek- en lofprysingbediening en strewe daarna om tegnologie ten volle te benut in die bereiking van ons doelwitte.

Die gemeente het 'n aktiewe bediening van kleingroepe.

Vyf fokusareas waaruit verskillende bedienings en verskeie projekte aan lidmate die kans bied om hulle gawes onder leiding van bedieningsleiers uit te leef bestaan uit: Volg Jesus, Vind Vriende, Verdiep Saam, Vertel Verder en Verantwoordelike Rentmeesters.

Posprofiel:
Daar sal van die geskikte kandidaat verwag word om verantwoordelikheid te aanvaar vir alle fasette van gemeentewerk soos vervat in Artikel 9 van die Kerkorde. Daar sal verder van hom/haar verwag word om onder andere die volgende funksies te verrig:

Inspirerende effektiewe Skrifgetroue prediking vir verskillende teikengroepe;

Vaardig in interaktiewe bediening in 'n digitale wêreld en aanlynbediening;

Bewese leierseienskap- en bestuursvaardighede wat op visionêre wyse toegepas word en in spanverband kan saamwerk;

Die uitbou van 'n gasvrye atmosfeer en lidmate intrek en betrek in bedieninge;

Opbou en uitbou van dissipelskap deur middel van onder andere kleingroepe, effektiewe bediening aan gesinne sowel as werkende jong lidmate;

Toerusting van lidmate vir die uitleef van hul roeping teenoor mekaar en die wêreld;

Bou van verhoudinge met die breër gemeenskap waarbinne NG Witrivier funksioneer.

Vergoeding:
’n Mededingende vergoedingspakket sal onderhandel word. Behuising word voorsien of 'n alternatiewe behuisingsubsidie is onderhandelbaar.

Aansoeke:
Aansoeke geskied deur middel van 'n CV, met 'n dekbrief waarin die motivering vir die aansoek uiteengesit word. Name en kontakbesonderhede van drie referente. Kandidate moet beskikbaar wees vir 'n onderhoud tussen 4 en 10 November 2021 en om vir 'n preekgeleentheid genooi te word. Die kandidaat moet ook bereid wees om psigometriese en gawetoetse te ondergaan. Diensaanvaarding so vroeg as moontlik in 2022.

Rig asseblief u aansoek en navrae aan: Thabo Pienaar (Uitvoerende bestuurder)
bestuur@ngwitrivier.co.za of 083 349 6588

Die kerkraad behou hom die reg voor om geen aanstelling te maak nie.

NG GEMEENTE BURGERSDORP

Vakature: Voltydse Leraarspos

Sluitingsdatum: 6 November 2021

Gemeenteprofiel

NG Gemeente Burgersdorp is ‘n plattelandse gemeente in die Oos-Kaap, ±260 km vanaf Bloemfontein en 60 km vanaf Aliwal-Noord.

Lidmaattal: 470 belydend, 141 doop wat in 20 dorpswyke en 6 plaaswyke woon.

Die dorp beskik oor Laer- en Hoërskool, asook tehuis vir bejaardes.

Ons gemeente beskik oor alle ouderdomsgroepe.

Sondae word dienste op Burgersdorp en Venterstad (60km vanaf Burgersdorp) waargeneem.

Leraarsprofiel
Ons gemeente sien uit daarna om ‘n herder te ontmoet wat aanklank vind by die volgende profiel:

n Leraar wat erns maak met die pligte soos omskryf in Artikel 9.

Ons is op soek na ‘n leraar wat betrokke is in die gemeenskap en die gemeente kan help om aktief ons Christenskap uit te leef.

Jeug, jong volwassenes en bejaardes lê ons na aan die hart.

Die gemeente se behoefte is Skrifgetroue prediking wat prakties leefbaar is.

Om verhoudinge te bou en pastorale versorging is vir ons baie belangrik.

Die leraar moet gemaklik wees met die gebruik van multimedia en ander sosiale platforms.

Vergoeding

Volgens die Oos-Kaap se sinodale riglyne tot op Posvlak 5.

Behuising en ander voordele is beskikbaar.

Aansoeke
Stuur ’n verkorte CV met ‘n dekbrief wat meer vertel oor jouself, jou gawes en passies. Sluit ‘n
Myers-Briggs Profiel in, asook die kontakbesonderhede van drie referente.
Stuur na: ngkburgersdorp@vodamail.co.za met verwysing: Vakature: Leraar.
U moet beskikbaar wees vir ’n onderhoud en moontlik ’n preekbeurt.

Navrae
Georg Putter (Leierouderling) 082 826 2826.
Ansa Brittz (Skriba) 051 653 1743 - Ma tot Vry: 08:00-13:00.

Sluitingsdatum: 6 November 2021

Diensaanvaarding: So gou as prakties moontlik na suksesvolle onderhandelinge.

Die kerkraad behou die reg voor om nie noodwendig ’n aanstelling te maak uit die aansoeke wat ontvang is nie.

NG BLOEMFONTEIN-NOORD KLIPKERK

VAKATURE: VOLTYDSE LERAARSPOS

Sluitingsdatum van aansoeke: 10 November 2021

Diensaanvaarding: 1 Februarie 2022

Ons nooi gelegitimeerdes van die NG Kerk uit om aansoek te doen vir hierdie voltydse leraarspos.

Profiel van gemeente en gevolglike vereistes waaraan leraar moet voldoen

Ons kerkgebou en kantore lê aan die rand van die middestad Bloemfontein. Gemeentelede kom vanuit randstad woonstelle, asook voorstedelike woonbuurte met meenthuise, huise en enkele plase. Ons het ongeveer 1500 belydende lidmate en 300 dooplidmate.

Eenheid van die verskeidenheid. Verskillende spiritualiteite, liedere en ouderdomgroeperings moet in die eredienste akkommodeer word. Ons leuse is nie óf-óf nie, maar én-én.

Eredienssentriese gemeente. Skrifgetroue, aktuele en dinamiese prediking is ‘n vereiste om lidmate in eredienste toe te rus om die Woord van God in die breëre samelewing uit te leef.

Ons kerkgebou se ligging (randstad/middestad) word deur ons as ‘n geleentheid beskou om ‘n multikulturele missionale bediening te realiseer. Dis tans ‘n leemte by ons.

Rekenaarvaardigheid en die vermoë om digitale projeksies in die erediens te doen, is belangrik. Die leraar moet in staat wees om eie preekvideo’s op Whatsapp groepe, YouTube en Facebook blad te plaas.

Ons Sorg en Omgee bediening is een van die hoofpilare van ons gemeente. Ons het baie lidmate wat geweldig arm is en versorg moet word. Ons leraar moet ‘n hart en passie hê vir behoeftiges.

Pastoraat en berading aan mense van alle ouderdomsgroepe, individueel en in gesinsverband, is wesenlik.

Ons kategese (voorskool tot graad 11) is vir ons uiters belangrik. Die Covid inperkings het ons sterk geknou op hierdie vlak. In samewerking met die kategesehoof moet ons kategese weer opgebou word. Die leraar gee leiding en toerusting aan kategete, verstaan kinders en tieners se ontwikkelingsfases en weet hoe om hulle te bereik, en kan die finalejaars begelei tot belydenisaflegging.

Ons is nie ‘n dolerende gemeente nie.

Weens die Covid inperkings is ons finansiële posisie onder druk en gevolglik ‘n groot uitdaging. Ons is egter nie in ‘n finansiële krisis nie en ons glo dat God sal voorsien en dat ons sal oorleef.

Die leraar is ‘n ‘all-rounder’ wat in noue skakeling met die kerkraad en al die diensterreine werk.

Vergoeding
Volgens sinodale skaal/byvoordele riglyne. ‘n Pastorie word nie voorsien nie, wel ‘n verblyftoelaag. Al hierdie inligting is op aanvraag beskikbaar.

Jou aansoek
Jou CV met 2 referente moet gestuur word aan die Voorsitter van ons Gemeentebediening, Danie Janeke, epos danie.janeke@gmail.com. Indien jy preke op digitale media het (bv. YouTube), stuur vir ons die link.
Vir verdere inligting skakel Danie 082 453 5446 of dr. Wollie Grobler 082 829 8718 (epos wollie992@telkomsa.net).

Die kerkraad behou die reg voor om nie ‘n aanstelling uit die aansoeke te maak nie./em>

Net in Indië: 'n Orrel-bakkie!


Indië het vir ons joga, skaak, die konsep van nul, geheuestafies en knope uitgedink en nou wil die land se minister van vervoer, Nitin Gadkari, nog ‘n item by hierdie lys voeg: musikale toeters. “Ek ondersoek tans en beplan binnekort om 'n wet te maak dat toeters van alle voertuie vervang moet word met die klanke van Indiese musiekinstrumente sodat dit aangenaam is om te hoor,” het Gadkari onlangs aan plaaslike media gesê.

Hierdie veldtog is ‘n poging om die geraasbesoedeling in Indië te verminder. Die land se groeiende bevolking, toename in die hoeveelheid voertuie op die pad en verkeersknope is van die hoofredes waarom Indië een van die wêreldleiers is van klankbesoedeling. Gadkari hoop dat toeters met die salige geluide van die sitar, fluit, tabla en viool hierdie kwessie sal aanspreek. Hy vertel verder dat hy die irriterende sirenes van ambulanse en polisievoertuie wil vervang met strelende deuntjies.

Klik op die video bo om te hoor hoe so ‘n musikale toeter klink.