Ons het nie woorde nie – ons harte is seer! ‘n Vriendin, moeder, eggenote, kollega, sielsgenoot, leraar – en daarby kan ons nog baie woorde voeg – is van ons weggeruk!

Liezel het oor die afgelope paar jaar diep in ons harte gekruip. Ek het mooi herinneringe van Liezel. Sy was ‘n diep omgee-mens met ‘n aansteeklike glimlag en ‘n groot hart en sy het die liefde van Jesus uitgestraal na almal met wie sy in aanraking gekom het. Die skok van haar onsinnige moord eggo deur ons land!

Liezel, ons gaan jou baie mis!

Dominee (38) ‘weggeruk in fleur van haar lewe’

Helene Meissenheimer - Kerkbode

Die skoknuus van ds Liezel de Jager se dood het Woensdag 13 Oktober soos ’n golf van hartseer gespoel vanaf die Natalse suidkus tot aan die walle van die Oranjerivier in die Noord-Kaap.

Sy is ’n fenomenale jong vrou wat in die fleur van haar lewe weggeruk is,” sê dr Francois Neethling wat as voorsitter saam met De Jager as ondervoorsitter op die Ring van Durban-Suid gedien het.

Die 38-jarige Liezel De Jager is Woensdagoggend deur haar man Werner in die erf van hulle huis in Amanzimtoti gekry na sy vroeër soos gewoonlik saam met vriendinne gaan draf het. Sy was aangerand en reeds dood, het ’n diep ontroerde dr Neethling aan Kerkbode vertel. Die plaaslike polisie het bevestig ’n moorddossier is geopen, maar verdere besonderhede oor die gebeure was nog skraps.

Lees die volledige berig

HULDEBLYK

In ‘n huldeblyk aan Liezel skryf die Leierspan van die KZN Sinode:

Liefste Liezel,”

Vandag is ons hartseer om hierdie huldeblyk te skryf, want woorde kan nie reg laat geskied nie en kan onmoontlik jou karakter verwoord. Ons is vandag oorweldig deur die nuus van jou afsterwe. Daar is ‘n groot leemte in ons harte om te besef dat jy nie meer hier op aarde is nie. Ons vra vrae en worstel, maar ons onthou ook. En ons onthou jou. Liefste Liezel, ons onthou jou...

Die eerste ding wat ons onthou is jou glimalg – nie eens Julia Roberts kon naby kom aan jou sprankelende glimlag nie. Jou glimlag was eerlik en opreg. Jy kon met ‘n glimlag almal verwelkom en terselfdertyd kon jy daarmee jou “vrou”-staan en almal op hulle tone hou. Jy was ‘n mens wat iets gesê het soos dit is. En die kerk... nee, die wêreld, kort meer Liezels wat dinge so kan sê.

Jou passie en jou liefde het geskitter deur jou omgeehart. Jy het die ekstra myl geloop, selfs al het niemand jou daarvoor gevra nie. Jy het God gesien op plekke waar ons nie kon nie, in mense wat ons nie kon nie, en op maniere wat ons nie kon nie. En jy het ons hierdeur geïnspireer.

Jou sin vir humor en kinderlike vreugde het ons laat lag. Jy is die enigste mens wat ons ken wat ‘n hele kroos kon kry om op die pastorie-mure te teken.

Jy het daardie dag geskryf: “Die Skrif is teen die muur,” en ons het gelag. Nou, liefste Liezel, is die skrif teen die muur en ons huil. Ons huil saam met Werner en Ila en Lané. Ons huil saam met jou familie, vriende, gemeente en gemeenskap.

Die wêreld het vandag ‘n groot verlies gely.

Maar, soos ons jou geken het, het jy gedans in die lewe en dans jy nou ook in die ewigheid saam met God.

Ons onthou jou as die mens wat inklusief was en wat ‘n rolmodel was vir almal.

Ons kon by jou leer en het na jou opgekyk.

Ons onthou jou as die mens wat deelgeneem het.

Ons onthou jou as die kind van God wat nou in vrede rus, en dans, saam met die Drie-Enige God.

Liefste Liezel,

Ons onthou jou.

Tot wedersiens.

Amen.

Liezel de Jager (23 Julie 1983 – 13 Oktober 2021)

Sien die volledige huldeblyk HIER

Lees die CLF Nuusbief HIER

Kosbare Kampvriendin

Die kamp is om die draai!!!

n Woordjie van ds Nic Grobler

Wegbreek naweek: Ek sien baie daarna uit om die naweek saam met julle te delf na die skatte in die Woord rondom die Tema. "Die liefde oorbrug alles."

Begin solank delf in die Woord en haal vir ons Skrifgedeeltes uit waar liefde oorbrug het. Dink ook aan jou eie lewe waar dit gebeur het en kom ons deel dit met mekaar.

Ons gaan kyk "hoe" ons God se liefde kan ervaar en waardeer sodat ons dit in die alledaagse lewe kan toepas.

Nic

Sien die volledige pamflet HIER

Kerke span saam vir Bybelverspreiding namate inperking verslap

Met die inperkingsregulasies rondom Covid-19 wat verslap, is dinge besig om stadig weer terug te keer na normaal. Dit sluit kerkbywoning in asook die aktiwiteite wat kerke aanbied ter ondersteuning van Bybelverspreiding.

Een so 'n kerk is die NG gemeente Kenhardt, wat op 2 Oktober 'n Bak vir 'n Bybel-geleentheid aangebied het waar die gemeentelede pannekoek gebak het. Die geld wat met die pannekoekverkope ingesamel is, is aan die Bybelgenootskap gegee om te help om Bybelarmoede in ons land aan te spreek.

Die gemeente het vir hulself die doelwit gestel om genoeg geld in te samel sodat daar minstens R55 namens elkeen van die 189 gemeentelede aan die Bybelgenootskap oorbetaal kan word.

Op dié dag is daar omtrent flink gebak met meer as 700 pannekoeke wat verkoop is.

"Die Bak vir 'n Bybel-projek was 'n groot sukses met so 100 Bybels wat ons kon losbak. Ons het nou wel nie die doelwit behaal nie, maar ons is baie tevrede," het een van die organiseerders, Yulandie Nel, gesê.

Ds Gerrie van Dyk, organiserende sekretaris van die Bybelgenootskap, was baie in sy noppies. "Die jeug het die inisiatief geneem en onder leiding van Yulandie en die susters ingespring om te help. Ons is baie dankbaar teenoor die jongmense vir hulle bydrae tot Bybelverspreiding," het hy bygevoeg.

Op Alexanderbaai het past Christo Maree, ook 'n organiserende sekretaris van die Bybelgenootskap, by die Volle Evangelie Kerk van God aangesluit waar hulle 'n Stap en Trap vir Bybels aangebied het. Gemeentelede is ook genooi om deel te wees van 'n mark met 'n gedeelte van hul stalletjieopbrengs wat ook aan die Bybelsaak gaan.

"Die gemeente het die geleentheid aangegryp om iets vir Bybelverspreiding te doen. Die groter gemeenskap het betrokke geraak en verskeie organisasies en besighede het ingeskryf om op dié dag 'n stalletjie daar te hê," het past Maree gesê.

Met groot sportgeleenthede wat nou weer mag voortgaan, soos die Kaapstad Fietstoer wat die afgelope naweek plaasgevind het, is daar ook nou weer meer geleenthede vir atlete om aktief te raak vir Bybels. Indien jy jou sportdeelname of stokperdjie wil gebruik om geld vir Bybels in te samel besoek gerus ons Aktiwiteite vir Bybels-webblad. Hier kan jy 'n profiel skep wat jy met ander kan deel om só jou borgskappe maklik en vinnig in te kry.

Met jou hulp kan ons ’n bekostigbare Bybel in iemand se hand plaas. Wees 'n saaier van hoop.

God het ons gebed verhoor

Kan jy jou indink hoe dit moet voel om die Bybel te lees in 'n taal wat jy nie baie goed verstaan nie? Dit is die geval vir 70 000 Mwimbi Muthambi sprekers in die ooste van Kenia, naby Berg Kenia.

Mwimbi Muthambi is 'n dialek van Kimeru – 'n taal wat al sedert 1964 'n volledige Bybel het. Die Kimeru Bybelvertaling is egter op 'n ander dialek gebaseer. Die Mwimbi Muthambi Christene sukkel so om dit te verstaan, dat hulle verkies om die Bybel in ander tale soos Gikuyu, Swahili of Engels te lees.

Dit is om dié rede dat hulle so opgewonde was by die onlangse bekendstelling van die eerste vrugte van die Bybel in hul moedertaal. Die Evangelie van Lukas is op 1 Julie bekendgestel tydens 'n seremonie wat deur kerkleiers en lede van die gemeenskap van regoor die land bygewoon is.

"Ek is so gelukkig. Nadat ons vir só lank Bybels in Engels en Swahili gebruik het, het God ons gebed verhoor," het pastoor Patrick Micheni Mugo gesê. "Wanneer ek die Engelse Bybel lees, is daar sekere woorde wat ek nie verstaan nie, selfs nadat ek dit in 'n woordeboek opgesoek het. Hierdie nuwe Bybelgedeelte sal my prediking baie vergemaklik."

Die 14-jarige Blessing Kathure het 'n uittreksel van die Lukas evangelie voorgelees as deel van die toewydingsdiens. Sy sê die feit dat daar nou 'n Bybelgedeelte in haar taal beskikbaar is, sal dit vir haar en ander jongmense moontlik maak om meer betekenisvol met die Woord van God om te gaan.

Ek wil die mense van die Bybelgenootskap bedank dat hulle die Bybel in ons moedertaal vertaal het," het sy gesê. "Ek is so opgewonde dat ek nou die Bybel in my eie taal kan lees en dit meer verstaan. Ek het met die Engelse Bybel gesukkel. Dit sal mense van my ouderdom help om die Woord beter te verstaan en om geestelik te groei."

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika is saam met hierdie taalgroep verheug dat hulle ook nou die Goeie Nuus in hulle eie hartstaal kan lees.

Hiermee ‘n spesiale aanbod wat CLF gedurende Oktober het.

N GESKENK AAN 'N TIENER, MATRIKULANT OF KATEGEET

"You are good enough"

Koop 1 vir R20!

Koop 10 vir R15 elk! Gebruik die promosiekode “GOOD10”

Koop 20 vir R10 elk! Gebruik die promosiekode “GOOD20”

Koop dit aanlyn OF stuur ’n e-pos aan order@clf.co.za

https://shop.clf.co.za/product/you-are-good-enough/

Termes en voorwaardes:

Geldig tot 29 Oktober 2021

Terwyl voorraad hou

BTW ingesluit, posgeld uitgesluit

Dink nuut oor jou bediening

(Sertifikaatkursus in Bedieningsvernuwing)

Jy word uitgenooi na die volgende module in hierdie kursus gerig op predikante in die middelfase van hulle bediening:

Hoe lyk ons bediening en leierskap in ‘n missionale konteks?”

18 – 20 Oktober 2021

Om leiding in die gemeente te gee is nie die enigste ding wat ‘n dominee doen nie, maar dit is ‘n uiters belangrike ding. Ongelukkig het die meeste predikante bitter min opleiding hiervoor gekry. Predikante jonger as 40 dui leierskap die meeste aan as die een ding waarvoor ek nie opgelei is nie”.

In hierdie module poog ons om baie prakties te kyk na die soort leierskap en bediening wat teologies verantwoord is en wat ons kan help om die missionale roeping van die gemeente te vervul.

Plek: Aanlyn per Zoom

Tye: 18 – 20 Oktober 2021, 18/10 (9:00 – 16:00),

19/10 (9:00 – 16:00), 20/10 (9:00 – 13:00)

Koste: R95

VBO: 30 punte

Sluitingsdatum: 15 Oktober 2021

Inskrywing: https://forms.gle/gijwYnLc7JA6Y4TR6

(Inskrywings geskied deur middel van dié aanlynvorm)

Bankbesonderhede vir elektroniese betalings:

Bank: ABSA

Naam van rekening: TSO

Rekeningnommer: 142 0830 463

Takkode: 632005

Tak: PRETORIA

Verwysing: VBO naam en van

Bewys van betaling: e-pos na excelsus@up.ac.za

Navrae: Rika by excelsus@up.ac.za

Gratis Digitale Learning Community 4 November

Een lewe van Integriteit:

Die geheime én publieke lewe van ‘n gelowige

Ekerk bied graag ons laaste Digitale Learning Community aan vir 2021. Ons nooi jou graag na hierdie gratis geleentheid toe op Donderdag 4 November 2021.

Ons tema die oggend is "Een lewe van Integriteit: Die geheime én publieke lewe van ‘n gelowige".

Jy word uitgenooi na hierdie Digitale Learning Community toe die 4de November 2021 van 10:00 – 12:00.

'n Lewe van integriteit is van kardinale belang vir geestelike leiers asook vir elke gelowige. Die sinkronisering van ons publieke en geheime lewe volgens God se wil. Kom reis saam die oggend van die 4de November waar ons na verskeie geestelike leiers luister en kyk die oggend wat gesels oor hierdie tema.

Ons sprekers vir hierdie geleentheid is:

Louie Giglio (Leier, Passion City Church, Atlanta) en hy gaan gesels via 'n video opname die oggend oor sy nuutste boek "The enemy at the table." Tydens hierdie sessie gaan hy 'n uiteensetting gee van maniere om in vrede en veiligheid 'n lewe van integriteit te leef in enige uitdagende omstandigheid of situasie.

Nelis Janse van Rensburg: (leraar: Welgemoed Gemeente) gesels die oggend met ons regstreeks oor "Die geheime lewe van ‘n Christen(leier)".

Lettie Buchner (leraar: Wellington Moederkerk) se tema vir die oggend is "'n Lewe van integriteit: Van agter die skerms tot voor die skerms vir Christus".

Laastens gaan Stephan Joubert (Ekerk) vir ons 'n paar riglyne gee van 1 Petrus en sy tema is "Om heilig te leef in ‘n onheilige lewe: Lesse uit 1 Petrus".

Tema: Een lewe van Integriteit: Die geheime én publieke lewe van ‘n gelowige.

Plek: Regstreeks deur middel van video (sodra daar geregistreer is sal 'n e-pos gestuur word met die skakel in asook jou unieke wagwoord om in te teken en saam te kyk die oggend. Indien jy nie die e-pos gekry het nie, kyk asb in jou spam of junk folder. So sal daar ook die oggend van die 4de November 'n sms gestuur word met dieselfde inligting om in te teken en saam te kyk die dag.)

Jy het net ‘n internet-konneksie nodig waar jy saam gaan kyk op video na die regstreekse uitsending van die dag. Die geleentheid is REGSTREEKS en die OPNAME GAAN SLEGS VIR 7 DAE NA DIE GELEENTHEID BESKIKBAAR WEES om weer daarna te kyk. Ongelukkig gaan die VBO punte slegs toegeken kan word indien die regstreekse uitsending die oggend bygewoon word. Neem asb kennis dat alhoewel dit 'n gratis geleentheid is, jy asb moet registreer om die skakel na die geleentheid te kry en so ook na die opname te kyk. Geen registrasie, geen toegang.*

Tyd: 10:00 – 12:00

Datum: 4 November 2021

Koste: Gratis. Neem asb kennis dat registrasie vir die geleentheid sluit 4 November 2021 om 07:00.

* Reg van toegang voorbehou deur Ekerk direksie

Registreer by hierdie skakel:

https://www.ekerk.org/digitalelc4nov2021

NG GEMEENTE PE-SHERWOOD

VAKATURE : GEMEENTELERAAR

(ONBEPAALDE TERMYN)

Sluitingsdatum: 18 Oktober 2021

Die NG gemeente PE-Sherwood, 'n voorstedelike gemeente in Nelson Mandelabaai, nooi gelegitimeerdes van die NG Kerk uit om aansoek te doen vir 'n voltydse predikantspos.

Profiel
Die gemeente bestaan uit 1175 belydende en 226 dooplidmate. In ons gemeente word vreemdelinge vriende en geloofsgenote.

Sherwood is in 'n groeiende deel van ons stad geleë met voortdurende nuwe residensiële ontwikkeling. Beide woonhuise en meenthuiskomplekse kom voor. Die gemeenskap bestaan onder meer uit 'n groot hoeveelheid jonger gesinne. Die omgewing beskik oor goeie laer- en hoërskole, met groot winkelsentrums.

Sherwood-gemeente besit 'n ekonomiese lewensreg-aftreeoord met 116 eenhede. Ouer lidmate is 'n groot bate. Ons het ook aktiewe jeugkategese en bedienings. 'n Kleuterskool benut ons jeuglokale. Uitreik met die evangelie oor grense lê na aan ons hart, plaaslik en internasionaal.

Ons beskik tans nie oor 'n aktiewe kleingroepbediening nie, wat vir ons 'n leemte is.

Leraar
Ons leraar is verbind aan die Kerk se lewende geloof en belydenisbasis, en help ons om die evangelie uit te leef en te groei in ons geloof. Skrifgetroue, dinamiese en aktuele prediking is 'n prioriteit.

Die leraar is vaardig in die digitale wêreld en met aanlynbediening. Hy/sy bedien interaktief, funksioneer goed in spanverband en hou van ons ander se deelname in die bediening.

Die leraar is georganiseerd. Hy/sy lei en dien deur voorbeeld en help ons ons gawes ontsluit en aanwend in God se koninkryk.

Hy/sy beskik oor empatie, 'n fasiliterende leierskapstyl, goeie luistervermoëns, 'n positiewe lewensuitkyk, uitstekende menseverhoudinge (alle ouderdomsgroepe), en 'n sin vir humor.

Hy/sy is 'n sosiale entrepreneur wat mense bymekaarbring, netwerke vorm en geleenthede om te dien raaksien. Die leraar is innoverend, kyk wyer as die gemeente en help ons om die gemeenskap te dien.

Ouers met jong kinders is vir ons baie belangrik en behoort tot die hart van ons bediening. Die leraar het 'n gawe en passie vir jeug en kinderbediening, maar is ook gemaklik met verskillende bedieningstyle en ouderdomsgroepe.

Opdrag
Artikel 9 van die Kerkorde soos ooreengekom met die kerkraad, gerig op ons konteks.

Vergoeding
Volgens sinodale skaal. 'n Reistoelaag en ander voordele word ook gebied.

Die gemeente voorsien gratis huisvesting met telefoon en internet vir amptelike gebruik.

Diensaanvaarding: 1 Januarie 2022 of so gou moontlik daarna.

Aansoeke
Aansoeke bestaan uit 'n dekbrief wat motiveer waarom jy jouself as leraar van PE-Sherwood sien, 'n CV, asook die voltooide vraelys beskikbaar by

www.ngkok.co.za/gemeentes/sherwood.doc.
E-pos aansoek aan: sherwood@ngkok.co.za

Aansoekers moet beskikbaar wees vir evaluering.

Navrae
Dewald Grundling, 083 270 4865

Danie Mouton, 082 9234 178

Sluitingsdatum: Maandag, 18 Oktober 2021 om 16:00.

Die kerkraad behou die reg voor om nie 'n aanstelling uit een van die aansoekers te maak nie.

Op 'n Ligter Noot

Gebed is 'n intieme gesprek met God. Hy is ons liefdevolle Vader en daarom mag ons maar eerlik en opreg-kinderlik met Hom gesels. Ek het hierdie kosbare stukkie raakgeloop van juis so 'n eg-kinderlike gebed in 'n boek van Hennie Aucamp getiteld “Borde Borde Boordevol.” Die toneeltjie speel af gedurende 'n ernstige droogte 'n paar jaar gelede. Die boere het bymekaargekom en gebid vir reën.

Oom Jacob het eerste gebid. Dit was die langste gebed wat ek ooit (voorheen en daarna) moes aanhoor, maar ek het nie aan die slaap geraak soos ek dikwels voorheen het nie. Ek het geluister. En bietjie skuldig gevoel. Want dit was asof ek agter die deur gestaan het en die argument afgeluister het.

Oom Jacob het die droogte-posisie baie netjies vir die Here uiteengesit. Hy het by die vorige jaar se reënval begin, die winter se droogte geskets en die situasie toe op datum gebring deur oorsig te gee van die skade wat die droogte tot op hede veroorsaak het.

"Here," het oom Jacob gesê, "hierdie lemoenboompies onderkant die tweede dam - die boompies wat ons laaste jaar geplant het - ag, daar leef omtrent nie meer een van hulle nie. En selfs die ou boorde. Ek stap vanmiddag juis deur die nartjies - nie die by die rivier nie, Here, hulle kan nog gaan - maar die nartjies bokant die klipplate, U weet? Hulle lyk sleg. Ek sê vanaand vir die vrou, Here, ek sê vir haar as daar nie hierdie week nog uitkoms is nie, dan weet ek nie. Here, ek wens ek kan U saam met my vat môre vroeg oorkant die rivier toe. Daardie arme avo's daar. Daardie avokado's moes nou dra. En hoe kan hulle dra as hulle nie water het nie? Daardie bome kyk heeldag vir my. Ek wens U kon sien hoe kyk hulle na my. Ek moet juis weer môre daar laat skoffel. Ek sien amper nie kans nie. Nou vra ek vanaand - ek vra reguit hoekom? Wat het ons dan vir U gemaak? Ek meen, ons praat hierdie slag reguit."

Daardie nag het ek wakker geword van die reën op die dak. As dit nie vir die reën was nie sou ons nie kos gehad het nie.