Dis Erfenisdag!

Regdeur Suid-Afrika vier ons vandag ons erfenis. Maar wat beteken dit werklik en waar kom dit vandaan?

Oorspronklik was dit Shakadag, 'n dag waarop die Zoeloebevolking hulle koning, Shaka herdenk het. In 1994 is dit omskep in 'n dag waarop alle kulture hulle eie erfenis kan herdenk. Dit het egter gou as Nasionale Braaidag bekend geraak.

Maar wat beteken dit vir verskillende mense?Onder meer dat niemand moes vergeet wie en wat hy is en waar hy vandaan gekom het nie. Elkeen moet op dié dag sy eie kultuur, geskiedenis en kultuurgeskiedenis in ere hou. Party mense is egter kwaad oor erfenisdag. Een kêrel stoom dat ons nie meer ‘n erfenis het om te vier nie want ons het dit weggebraai en weggesuip!

Ek sien egter my erfenis in 'n totaal ander lig. In Hebreërs 9:15 lees ons van 'n testament waarin die Here van Jesus sê: “Hy (is) juis daarom Middelaar van 'n nuwe testament, sodat dié wat geroep is, die belofte van die ewige erfenis kan ontvang.”

God het ‘n Testament geskryf waarin Hy ‘n asemrowende nalatenskap beloof. Johannes 3:16 vertel onder meer wat hierdie testament behels. Die benoemdes in die testament kry die wonderlikste erfenis óóit: die ewige lewe! Hulle sal nie verlore gaan nie, en hulle spring die ewige verderf vry. Maar beteken dit dan dat God dood is? ‘n Testament tree mos net in werking by ‘n persoon se afsterwe? Inderdaad nee! Maar Jesus het wel gesterf aan die kruis, en op grond daarvan het hierdie testament in werking getree. Wat dit egter anders as alle ander testamente maak, is die feit dat Jesus weer fisies uit die dood opgestaan het, en aktief help met die uitvoering van die bepalinge in die Testament. Jesus is dus nie alleen die Testateur nie, maar tegelykertyd ook die Eksekuteur sowel as die Waarborg vir die uitvoering van die Testament.

My erfenis is dus nie iets waaroor mense kan verskil of vir mekaar kwaad raak nie, maar dit het ewigheidswaarde en dit is kosbaar! Ek wil jou dus uitnooi om saam met my vandag die wonderlikste erfenis te vier waaroor jy óóit kan draam!

Groete,

Louis Nel

Wanneer ons voel asof daar net slegte nuus en negatiwiteit is, bring God verhale oor ons pad wat vir ons weer hoop bring. Hier is die stories van mense wat getuig van God se goedheid, wat aanhou glo in moeilike tye en só vir ons krag gee om ook ons lewenspad met Hom aan te pak.

God leef!’ vertel ma ná aanneemseun haar opspoor

Wat is die naam van jou kind?” vra die dame agter die lessenaar vir my. “Wilhelm Louw,” sê ek met ’n bewerige stem. “Alles sal goed afloop,” sê sy. “Dankie,” antwoord ek. My oë is vol trane. Wilhelm Louw is op 2 Desember 1980 gebore. Die geboorte het goed afgeloop. Wat nie goed was nie, was dat ek Wilhelm vir aanneming moes afgee. Ek was 21 jaar oud.… Lees verder

Hier is nóg 'n sielsverrykende gedig van Eerw. W J Esterhuysen.

 

 

Nag en Dag

Eerw. W J Esterhuysen

Dis nag in die natuur

As skaduwees soos ‘n doodskleed hang

Oor berg en dal, oor stad en huis

En as die nagwind droewig bang

Deur die takke klaend ruis

As neuwel dampe kom en wyk

Soos geeste uit die doderyk

Dis nag in die natuur.

 

Dis nag ook in my siel

As liggaamspyn en harteleed

Soos messe deur my sny

Die vyand met ‘n grynslag wreed

Hom oor my angs verbly

As satan my met vuiste slaan

En vreemd sku van verre staan

Dis nag dan in my siel.

 

Dis dag in die natuur

As aan die hemel gloeiend rooi

Die son in glans verrys

Op veld en vloed sy strale gooi

Om my die pad te wys

As in die bos die voëls sing

En aan hulle Skepper hulde bring

Dis dag in die natuur.

 

Dis dag ook in my siel

As ek met moed en lewenslus

Deur Hoërhand gelei

Geduldig in my lot berus

Die stryd blymoedig stry

As hoop oor wanhoop seëvier

Geloof oor twyfel triomfeer

Dis dag dan in my siel.

Beste vriend van Geopende Deure

Ons is so opgewonde! Ons splinternuwe program, FAITHFLUENCERS, begin die 26ste September 2021. So skakel elke Sondagoggend om 08:00 saam met ons in, net op eTV.

Oor die volgende paar weke gaan ons stories en getuienisse ontdek van regoor die wêreld, waar God ongelooflike dinge doen deur die bediening van Geopende Deure. Vicky Kente gesels met verskeie vennote en personeel van Geopende Deure wat inspirerende stories oor die geloof van ons vervolgde familie gaan deel sodat dit jou ook sal aanspoor om jou lewe anders te leef.

Ons wil graag soveel as moontlik mense in Suid-Afrika bereik en vra daarom jou hulp om die boodskap te versprei deur die insetsel hieronder in jou kerk se nuusbrief, webwerf of sosiale media bladsye te plaas.

Ons kan nie wag vir die 26ste nie, en ons hoop dat jy sal inskakel.

Mag jy ʼn geseënde week hê, gevul met liefde.

Saam in Sy diens

Geopende Deure Suider-Afrika

 

Laai insetsel hier af ->

 

Missionale Kerkwees is die groot woord van die dag. Excelsus bied op 29 September ‘n aanlyn konferensie aan waar hierdie juis die onderwerp van bespreking is. Moenie dit misloop nie!

Om in te skryf stuur asseblief 'n epos na esters@ngkerk.org.za

Excelsus-groete

Rika

Die NG Gemeente Witrivier, ʼn plattelandse gemeente in die skilderagtige Laeveld van Mpumalanga met 1 100 belydende lidmate en 300 dooplidmate, nooi gelegitimeerdes van die NG Kerk uit om aansoek te doen vir 'n voltydse medeleraarspos.

Gemeenteprofiel:

Die gemeente se karakter en visie is om 'n Oase van Jesusliefde te wees.

Die gemeente het 'n sterk musiek- en lofprysingbediening en strewe daarna om tegnologie ten volle te benut in die bereiking van ons doelwitte.

Die gemeente het 'n aktiewe bediening van kleingroepe.

Vyf fokusareas waaruit verskillende bedienings en verskeie projekte aan lidmate die kans bied om hulle gawes onder leiding van bedieningsleiers uit te leef bestaan uit: Volg Jesus, Vind Vriende, Verdiep Saam, Vertel Verder en Verantwoordelike Rentmeesters.

Posprofiel:
Daar sal van die geskikte kandidaat verwag word om verantwoordelikheid te aanvaar vir alle fasette van gemeentewerk soos vervat in Artikel 9 van die Kerkorde. Daar sal verder van hom/haar verwag word om onder andere die volgende funksies te verrig:

Inspirerende effektiewe Skrifgetroue prediking vir verskillende teikengroepe;

Vaardig in interaktiewe bediening in 'n digitale wêreld en aanlynbediening;

Bewese leierseienskap- en bestuursvaardighede wat op visionêre wyse toegepas word en in spanverband kan saamwerk;

Die uitbou van 'n gasvrye atmosfeer en lidmate intrek en betrek in bedieninge;

Opbou en uitbou van dissipelskap deur middel van onder andere kleingroepe, effektiewe bediening aan gesinne sowel as werkende jong lidmate;

Toerusting van lidmate vir die uitleef van hul roeping teenoor mekaar en die wêreld;

Bou van verhoudinge met die breër gemeenskap waarbinne NG Witrivier funksioneer.

Vergoeding:
’n Mededingende vergoedingspakket sal onderhandel word. Behuising word voorsien of 'n alternatiewe behuisingsubsidie is onderhandelbaar.

Aansoeke:
Aansoeke geskied deur middel van 'n CV, met 'n dekbrief waarin die motivering vir die aansoek uiteengesit word. Name en kontakbesonderhede van drie referente. Kandidate moet beskikbaar wees vir 'n onderhoud tussen 4 en 10 November 2021 en om vir 'n preekgeleentheid genooi te word. Die kandidaat moet ook bereid wees om psigometriese en gawetoetse te ondergaan. Diensaanvaarding so vroeg as moontlik in 2022.

Rig asseblief u aansoek en navrae aan: Thabo Pienaar (Uitvoerende bestuurder)
bestuur@ngwitrivier.co.za of 083 349 6588

Die kerkraad behou hom die reg voor om geen aanstelling te maak nie.

Bladmusiek is slegs vir die ingewydes wat musieknotasie ken. Klanke wat deur instrumente voortgebring kan word, word op en tussen vyf lyntjies en vier spasies “geskryf”. Hierdie musiekskrif wat uit sekere note, simbole en tekens bestaan, word deur musikante gebruik om die komposisies te lees en ook te interpreteer. Elke noot, simbool en teken op die bladsy van die musiekstuk word gekodeer met betekenis. 

So het note ‘n bepaalde nootwaarde en toonhoogte en word ook gegroepeer om walse en marse, mazurkas en polonaise voort te bring op ‘n klavier en viool of op ‘n dwarsfluit of enige ander instrument. Dit is juis hier waar díe fassinerende aspek van musiek ter sprake kom. Sommige note word vervang met tekens wat stilte aandui. Ons noem dit ook rustekens. Elkeen met sy eie nootwaarde.  

Ja, jy verstaan dit reg … note van stilte, word die klank van stilte, wanneer die musikant die komposisie uitvoer. 

Die immergewilde Amerikaanse musiekduo, Simon & Garfunkel, se lied getiteld The Sound of Silence, het my nog altyd aan hierdie aspek van musiek laat dink.

Stilte en spesifiek die klank van stilte. 

Hoe kan iets wat ons nie hoor nie, tog betekenisvol op die oor val? 

Aktiewe musiekbeluistering is ‘n geoefende luistervaardigheid. Dit kan definitef nie vereenselwig word met lyfswaai op die “beat” van die musiek wat met braaivleisvure en skreeuende kindertjies op die grasperk gepaard gaan nie. Aktiewe musiekbeluistering het alles te make met fyn gestemde ore wat met tyd heen geleer het om nie nét na die algemene klank of gevoel van musiek te luister nie, maar na elke aspek daarvan. Dit beteken onder andere dat ‘n mens na die elemente van musiek luister en in die analise daarvan ‘n diepe vreugde ervaar. Selfs al sou die musiek - wat in ‘n mineur-toonaard geskryf is - die melankoliese of hartseer emosies opwel in die hart. 

My getemde intuïse maak my wys dat beide predikante en lidmate daarvan oortuig is dat die erediens gevul moet wees met “note”. Hoe harder die “note” uitbasuin word en hoe meer majeur-toonaarde uitgevoer word, hoe meer intens is die spirituele belewing. Asof stilte ‘n onwaardige noot sou wees in die komposisie van ‘n Sondag-erediens. 

Gun my die geleentheid om die idee van stilte in ‘n erediens te ondersoek, aan die hand van die metafoor van ‘n manjifieke komposisie. Ek wil die wye spektrum van Woordnote in ‘n erediens noem en die belang en betekenis van die klank van stilte bespreek. My betoog handel daaroor dat oomblikke van stilte die noodsaaklike medebepalers van ‘n geslaagde eredienskomposisie is. 

Laat ons begin deur te stel dat ‘n erediens ‘n Woorddeurdrenkte geleentheid is. Die Handleiding vir die Erediens beskryf die erediens as volg: “Die God wat sy gemeente in die erediens ontmoet, is die God wat deur sy Woord met mense praat.” Die Woord wat klink in al sy vorme. Die geïntoneerde Woord wat vanaf die kansel gelees word en wat uit bekende en geliefde dele sag op die ore val. Die gesonge Woord wat melodieus en op gevleuelde vlerke emosies wek en harte versterk. Die simboliese Woord wat deur doopvont en nagmaaltafel die geloof versterk en die oog rig op die Gewer van goeie gawes. Die rituele Woord van geloofsbelydenis en die sluit van oë tydens gebed wat die siel verhef en fokus bring in die harwar van die lewe. 

Maar waar is die plek vir die klank van stilte?

Stilte klink verkeerd! 

Dit klink so anti-Woord! 

Ons is so gewoond daaraan dat dit woorde en klanke is wat vir ons betekenis oordra. Daarom seker ons ongemak met stilte in die erediens. Ons is gewoond aan baie “note”. 

Tog is daar vele tradisies wat stilte as ‘n belangrike en selfs die hoofmoment van die erediens en die bepaler van die liturgie voorstaan. Ons, in die Gereformeerde tradisie, is dalk net nie so bekend daarmee nie. Daarom is ons ook meer ongemaklik met die rustekens in ‘n erediens. Weliswaar sou ‘n Gereformeerde erediens seker nie maklik verdedig kon word deur algehele stilte in te voer nie. Net soos geen komposisie net uit rustekens bestaan nie. Dan was daar geen klank en geen musiek nie. 

Mens sou wel kon redeneer dat konteks die aard, duur en kwaliteit van stil oomblikke binne die erediens kan bepaal. Nie elke erediens behoort ‘n groot stilkomponent te dra nie. Maar dat stilte die klank van die Woord sou versterk en meer hoorbaar maak, kan voorsien word. Is daar nie die teks wat sê dat God in die stilte Homself bekend gemaak het nie? 

Ek is daarvan oortuig dat stilte ook in die erediens ‘n geloofsdissipline is wat deur deelname en inoefening ryker ervaring en dieper dimensie kan toevoeg. In ons liturgiese beplanning behoort ons, as liturge, soos die musiekkomponis die ideale verhouding te vind tussen klanke en stilte.   

Geneem uit Vrypos, nuusbrief van die Vrystaat Sinode

Die Testament

Hebreërs  9:15-22

Ou Oom Herklaas het nooit enige nasate gehad nie. Ja, hy was eenmaal verlief en selfs verloof, en toe loop sy weg met sy beste vriend so kort voor die troue. Dit het bitter seer gemaak, gevolglik het Oom Herklaas toe nooit getrou nie. En eksentriek! Boonop stinkryk en so oud soos die berge. En toe sit almal net en wag dat hy moet doodgaan, want sy sakebelange beloop miljoene. En wie weet, dalk kan 'n man so 'n ietsie erf as jy mooi is met Oom Herklaas!

Sy testament was veilig by sy prokureur, en niemand, buiten die regsman kon ooit 'n oog daarop lê nie. Maak nie saak hoe die mense by hom vlerksleep nie - sy lippe bly geseël. En niemand durf vir Oom Herklaas vra nie, want almal is vrek bang vir die ou man. Intussen gaan Oom Herklaas sy gewone ou gang, sonder om hom te steur aan al die gefluister agter sy rug. Heimlik lag hy vir die spul skattejagters - dit gee hom groot genot, want hy weet dat slegs sy dood sy testament in werking kon stel, en daar wag ‘n paar baie groot verrassings op die klomp wat hom so doodwens!

Die Griekse woord, Diathê-kê, wat ons met “testament” vertaal kan ook “verbond” beteken. Daar is twee baie belangrike elemente in ‘n testament: Iemand gaan iets erf van die persoon wat die testament opgestel het, maar die persoon moet ook eers sterf voordat die testament in werking kan tree.

God het ‘n Testament geskryf waarin Hy ‘n asemrowende nalatenskap beloof. Johannes 3:16 vertel onder meer wat hierdie testament behels. Die benoemdes in die testament kry die wonderlikste erfenis óóit: die ewige lewe! Hulle sal nie verlore gaan nie, en hulle spring die ewige verderf vry. Maar beteken dit dan dat God dood is? ‘n Testament tree mos net in werking by ‘n persoon se afsterwe? Inderdaad nee! Maar Jesus het wel gesterf aan die kruis, en op grond daarvan het hierdie testament in werking getree. Wat dit egter anders as alle ander testamente maak, is die feit dat Jesus weer fisies uit die dood opgestaan het, en aktief help met die uitvoering van die bepalinge in die Testament. Jesus is dus nie alleen die Testateur nie, maar tegelykertyd ook die Eksekuteur sowel as die Waarborg vir die uitvoering van die Testament.

Toe Oom Herklaas uiteindelik die dag die emmer skop, sit die hoopvolles soos vlieë om die prokureur gekoek om te hoor wie sy fortuin sou erf. Die regsgeleerde het die spul lang gesigte oor sy leesbrilletjie sit en deurkyk, en toe kondig hy plegtig aan dat slegs die troue bediendes wat hom so liefdevol versorg het, iets erf. Verder word alles nét so bemaak aan kinderhuise en welsynsorganisasies. Nie ‘n enkele familielid kry ‘n sent nie - wat ‘n reuse teleurstelling! ‘n Paar manne wou net daar en dan prosedeer, maar die testament was finaal, dit kon nie verander word nie. Wat geskryf is, is geskryf!

Jesus se Testament is ook absoluut onveranderlik - wat geskryf is, is geskryf! Nou klink daar ook stemme op van mense wat wil prosedeer, want dis mos nie regverdig dat slegs iemand wat in Jesus glo gered sal word nie. Selfs uit die kerk uit hoor ons vandag hoogsgeleerdes wat wil hê dat Moslems, Hindoes, Harikrishnas en Bhuddiste dieselfde aanspraak op die ewige lewe moet kry. In die praktyk sou dit beteken dat die ganse Bybel herskryf sou moes word! Dit is totaal onmoontlik! God het Sy Testament geskryf, en dit is finaal! Iemand wat nie aan die vereistes van die Testament voldoen nie, mag nie deel hê aan die voordele van die Testament nie.

Maar daar is ‘n kinkel - ‘n skuiwergat. In Oom Herklaas se testament was alles finaal verlore vir die hoopvolles. In Jesus se Testament werk dit ’n bietjie anders, want niemand hoef ooit finaal uitgesluit te wees nie. Anders as enige ander testament, is daar ‘n bepaling in hierdie een, dat enige mens wat nie aan die bepalings voldoen nie - maak nie saak watse geloof jy aanhang nie - nog steeds kan deel in die onmeetlike ryk skat van daardie Testament. Ja, selfs uitgesproke Sataniste het al deel gekry in Jesus se Testament. Die sleutelwoordjie is: Glo in Jesus! Dis al!

Wat beteken dit om in Hom te glo? Is geloof in Sy bestaan genoeg? Nee - selfs die duiwel glo dat Jesus ‘n werklikheid is, en hy is verlore. Geloof beteken om jou volle, onvoorwaardelike vertroue alleen op Hom te plaas, met ander woorde, 'n lewende verhouding met Jesus.

Beteken dit nou dat jy in Jesus kan glo en terselfdertyd ook byvoorbeeld Bhuddisme aanhang? Nee, baie beslis nie. Wanneer jy jou geloof in Jesus plaas, dan is daar geen plek vir enige ander gode nie. Dan beteken dit dat jy afstand moet doen van alle ander idiologieë. In Afrika beteken dit ook dat die verering (aanbidding?) van voorvadergeeste wat dikwels hand-aan-hand met geloof in Jesus loop, nooit kan werk nie. In Eksodus 20 maak God dit baie duidelik dat jy Hom alleen mag aanbid, en geen ander gode nie. Maar daar is slegs een manier om by God uit te kom: “Ek is die Weg en die Waarheid en die Lewe.”, het Jesus gesê in Joh. 14:6, “Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Is jy ‘n begunstigde in Jesus se Testament?

Groete,

Louis Nel – Ons Dag se Brood