Totsiens Alwyn!

Op 13 Oktober 2001 word ‘n jong Ds Alwyn Small ontvang as die 11de leraar van Noordkus Gemeente. ‘n Volle 20 jaar later, op 29 Augustus 2021 neem die gemeente weer afskeid van hom, en die trane van aandoening het vryelik gevloei! In sy afskeidspreek het Alwyn by die gemeente die gedagte gelaat dat ons moet besef dat God steeds in beheer is en dat ons ten volle op Hom kan en moet vertrou!

Ds Alwyn en Esna het diep spore getrap in die gemeente en diep in mense se harte ingekruip. Onder sy bekwame leiding het die gemeente ‘n totale transformasie ondergaan en die naam van die gemeente het onder meer verander na Ballito Gesinskerk om by die profiel van die gemeente aan te pas.

Esna is ‘n bekwame orreliste en sy het ‘n musiekgroep saamgestel om die lofprysing en aanbidding van Ballito Gesinskerk na nuwe hoogtes te voer. Sy het die Clavinova absoluut bemeester en Sondag-na-Sondag het sy die gemeente betower met hemelse musiek wat uit die instrument opborrel saam met hartroerende kitaarklanke en meevoerende sang deur die begeesterde musiekgroep.

Hulle twee kinders, Alwyn en Alana het sélf ook hulle spore diep gelaat in die gemeenskap. Klein Alana was maar ‘n skamele 18 maande oud toe sy gedurende Pa Alwyn se intreepreek teen die trappies van die liturgiese ruimte opgekruip het om haar plekkie daar bo af te kleim!

Alwyn, Esna, Alwyn en Alana, julle laat ‘n diep leemte in ons harte. Ons gaan julle mis! Parow-Panorama het ‘n groot aanwins gekry in hierdie leraarsgesin!

Hartlik Welkom!

Dit was ‘n hartseer totsiens aan Alwyn en Esna Small, maar gelukkig is daar ook ‘n pleister vir elke seer. Vir Ballito gesinskerk kom hierdie pleister in die vorm van Ds Gert Vorster!

Hartlik welkom aan Ds Gert Vorster, ‘n emeritus predikant wat al etlike jare in die gemeente woonagtig is. Hy is aangestel in ‘n kontrakpos vir 6 maande om te dien as leraar terwyl die proses van beroeping van ‘n nuwe leraar aan die gang is.

Ds Gert is welbekend in die gemeente en stap in die pos in alreeds as ‘n baie geliefde leraar. Hy lei ook reeds vir etlike jare weekliks die Bybelstudiegeleentheid en is ‘n ou bekende op die kansel. Hy is veral bekend vir sy asemrowende foto’s wat hy gebruik as illustrasie op Powerpoint aanbiedings sowel as sy deeglike kennis en liefde vir klassieke musiek, wat mildelik gebruik word om stemming te skep voor en tydens eredienste.

Jana, sy gade is ook al lankal ingeboesem in die gemeente, en boonop ‘n meester om stemming te skep met haar uitsonderlike blommerangskikkings. Vir etlike jare al pryk haar rangskikkings elke Sondag op die liturgiese ruimte om iets van die tema van die preek te weergee.

Ds Gert, die Ring van Durban Metropool sowel as die Sinode van KZN verwelkom jou en Jana in hulle boesem!

Huweliksgeluk!

Toe stap die trotse prins met sy stralende prinsessie uit op die trappies van die katedraal, en die skare juig opgewonde! Daar was nie ‘n droë oog nie!

Saterdag 28 Augustus was dit ‘n trotse Tinus van Staden wat met sy stralende prinsessie, Ds Marlize Malherbe van Richards Baai voor die kansel gestaan het. En nét daar word haar lewe vir ewig onherroeplik verander, want van nou af staan sy bekend as Ds Marlize van Staden!

Posduif, saam met die hele KwaZulu-Natal wil julle twee van harte gelukwens met julle huwelik, Tinus en Marlize! Ons gebed is dat julle waarlik ‘n huwelik uit die hemel sal beleef, dat dit gevul sal wees tot oorlopens toe met liefde, blydskap, vrede en vreugde!

Datums vir 2022

Ons het alreeds navrae gekry van gemeentes wat begin om beplanning te doen vir volgende jaar oor datums van vakansiedae en die kerkjaar. Dit is nog te vroeg vir die Sinode om hierdie datums op hulle webblad te plaas, dus gee ons hier die voorlopige datums vir 2022. Goedgunstiglik verskaf deur Kaapkerk.

Herwin en gebruik

jou vullis vir

'n skoner omgewing!

Volgens die EPA produseer die gemiddelde persoon meer as 2kg vaste afval of vullis per dag. Gelukkig kan jy baie alledaagse huishoudelike items herwin om 'n skoner, groener omgewing te bevorder.

Herwinning en hergebruik van items kan elke individu help om minder vullis te produseer wat op stortingsterreine beland, wat uiteindelik ons grond, lug en water benadeel.

Ons het 'n paar nuttige wenke opgestel vir ‘n “groen” leefstyl om te wys hoe jy jou vullis kan herwin, asook watter items herwin kan word en watter nie. Daar is ook 'n paar kreatiewe idees wat jy kan probeer om jou gesin besig te hou en die planeet skoner te maak, lees dus DIE ARTIKEL om meer te wete te kom.

Die publikasie “Angry Love”, geskryf deur Jenni Kirby is nou by CLF beskikbaar.

Hiermee ‘n kort beskrywing. Sien aangehegte aanbevelings, die voorblad en bemarkingsinligtingsblad.

Angry love – Memoirs of a fellow Seeker for a Better Country is the autobiographic recollection of an exceptional life journey. Jenni Kirby grew up in Apartheid South Africa. As young Coloured girl she had been adversely impacted by Apartheid; she vividly recalls profound experiences. She angrily joined the Struggle. During the 1970’s she met a fellow white activist and they fell in love. The young couple experienced rejection from all sides; it had still been against the law to be in relationship across the colour bar. They eventually found themselves exiles in Britain, but there they encountered new challenges. IN the UK Jenni entered into the ministry as a Methodist minister, but she could never detach from her mother country. These memoirs are about her pilgrimage in seeking a better country, it is about relationships and being connected, about identity and rejection, the struggle between anger and love, and about the inner journey towards grace. It is a remarkable story, captivating and brilliantly written.

 

Ons bring graag die volgende EKERK

Digital Learning Community

geleentheid onder julle aandag:

Gratis Digitale Learning Community 9 September

Nie die duiwel se tyd nie, maar die Here S’n:
dink reg en leef reg in die eindtyd

Ekerk bied graag 'n volgende Digitale Learning Community aan vir 2021. Ons nooi jou graag na hierdie gratis geleentheid toe op Donderdag 9 September 2021.
Ons tema die oggend is:

"Nie die duiwel se tyd nie, maar die Here S’n:

dink reg en leef reg in die eindtyd"

Ons sprekers vir hierdie geleentheid is Jana Marx, in-diepte verslaggewer by Media24 en skrywer van Afspraak met moord. Sy is te sien in die Showmax reeks, Devilsdorp, waar sy haar ervaring as verslaggewer deel asook die verhaal vertel van die Krugersdorp kultusmoorde. Tydens hierdie Digitale Learning Community vertel sy ons van haar ervaring as teoloog en verslaggewer tydens die maak van Devilsdorp.
Prof Marius Nel is Nuwe Testament Departementshoof by Stellenbosch Universiteit. Hy gaan vanuit verskeie tekste uit Matteus en Markus kyk na die eindtyd.

Prof Stephan Joubert is teoloog, skrywer en prediker by ekerk en hy gaan tydens die oggend vanuit verskeie tekste vanuit Paulus en die res van die Nuwe Testament ook kyk na die eindtyd.

Ds Jampie Nel, leraar by NG Kerk Oostersee, en Dr Pierre Engelbrecht, operasionele hoof by ekerk gaan ook tydens die geleentheid refleksies gee oor hoe ons as gelowiges hoop kan vind vanuit die Bybel in die tye waarin ons tans onsself vind.

Tema: Nie die duiwel se tyd nie, maar die Here S’n: dink reg en leef reg in die eindtyd.

Plek: Regstreeks deur middel van video (die skakel sal gestuur word na registrasie per epos, asook per sms die oggend van die 9de September)

Jy het net ‘n internet-konneksie nodig waar jy saam gaan kyk op video na die regstreekse uitsending van die dag. Die geleentheid is REGSTREEKS en die OPNAME GAAN SLEGS VIR 7 DAE NA DIE GELEENTHEID BESKIKBAAR WEES om weer daarna te kyk. Ongelukkig gaan die VBO punte slegs toegeken kan word indien die regstreekse uitsending die oggend bygewoon word. Neem asb kennis dat alhoewel dit 'n gratis geleentheid is, jy asb moet registreer om die skakel na die geleentheid te kry en so ook na die opname te kyk. Geen registrasie, geen toegang.*

Tyd: 10:00 – 12:30

Datum: 9 September 2021

Koste: Gratis.

Neem asb kennis dat registrasie vir die geleentheid sluit 9 September 2021 om 07:00.

Sprekers vir die oggend:

Jana Marx (in-diepte verslaggewer by Media24 en skrywer van Afspraak met moord)

Jana Marx het in 2013 ’n graad in teologie behaal en tussendeur kerkverwante nuus op ’n vryskutgrondslag geskryf. Ná haar studies werk sy as handelsmerk-redakteur by Finesse-tydskrif. In 2015 word sy aangestel as nuusverslaggewer by Netwerk24. Sy fokus veral op kerkverwante nuus en hofsake. Sy berig oor die Krugersdorp-moordsaak sedert dit in Mei 2018 in die hooggeregshof in Johannesburg begin het en doen direk verslag uit die hof vir Netwerk24, asook die Afrikaanse koerante Beeld, Die Burger en Volksblad.

Prof Marius Nel (Nuwe Testament Departementshoof by Stellenbosch Universiteit)

Prof Stephan Joubert (teoloog, skrywer en prediker, ekerk)

Ds Jampie Nel (leraar by NG Kerk Oostersee)

Dr Pierre Engelbrecht (operasionele hoof by ekerk) 

* Reg van toegang voorbehou deur ekerk direksie 
Registreer by hierdie skakel.

TRANSORANJE-SKOOL VIR DOWES

Die skool, geleë in die weste van Pretoria, bied ’n dowe-vriendelike leeromgewing vir leerders met ernstige gehoorverlies.

Leerders word tot die skool toegelaat vanaf die ouderdom van drie jaar tot en met skoolverlatersouderdom. ’n Groot aantal leerders word gedurende die week in die koshuis gehuisves.

Die personeel bestaan uit opvoeders, ’n ondersteuningspan, deeltydse mediese spesialiste, gebaretaaltolke en huismoeders wat daarna streef om ’n geborge leeromgewing vir die dowe leerder te skep.

LEES DIE VOLLEDIGE NUUSBRIEF

Die verspreiding van God se Woord in uitdagende tye

Die Covid-19 pandemie het nie net Bybelverspreiding in Suid-Afrika nie, maar regoor die wêreld erg geraak. Bybelgenootskappe wêreldwyd kon nietemin daarin slaag om 30 miljoen volledige Bybels te versprei in 2020. Meer as 190 miljoen Bybels en Bybelgedeeltes wat Bybels, Nuwe Testamente, Evangelies en kleiner Bybelgedeeltes en -seleksies insluit, is wêreldwyd versprei. Dit is die boodskap van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe wat bestaan uit 150 Bybelgenootskappe wat in 240 lande en gebiede werk. Bybelgenootskappe is vir bykans 70% van die wêreld se volledige Bybelvertalings verantwoordelik.

LEES DIE VOLLEDIGE BERIG

Die inhoud van Freek Swanepoel se boek, “Die eerste tree”, gee belangrike historiese inligting oor die veranderinge vir die kerk in die demokratiese Suid-Afrika sedert 1994.

Ds Freek Swanepoel is in 1994 as gemeenteleraar tot Moderator van Algemene Sinode van die NG kerk verkies.

Hierdie boek word opgedra aan alle gelowiges van die NG Kerk, en ander kerke, wat in 1994 bygedra het tot die wonder van ’n vreedsame oorgang na die nuwe Suid-Afrika.”

[Kliek hier om die gedrukte boek te bestel]

n Digitale boek het ook die lig gesien. .