Vrouemaand

(Geneem uit Vrydagnuus, nuusbrief van NG Kerk Wes-Kaapland)

In Vrouemaand is dit belangrik dat ons nie net die stories van persone met mag hoor nie – hulle is immers gewoond daaraan om hul sê te sê en gehoor te word. Dit is belangrik dat ons spasie skep en luister ook na diegene wie se stories nie altyd belangrik geag word nie. Die inspirasie vir hierdie artikel kom uit die gedeelde eerste lesers-gehoor van twee uiteenlopende figure in die Bybel - Esra en Rut. Lees Elmarie Dercksen se skrywe namens die Taakspan vir Gender Geregtigheid hier onder.

Dit skakel ook goed aan by Marileen Steyn se artikel wat verlede week in Kerkbode verskyn het. Dit was die eerste van ‘n reeks rubrieke wat in Augustus op etlike stemme fokus wat praat oor verskeie kwessies wat vroue raak. 

Kunswerk: Picasso

*****$&$*****

Vrouemaand met Esra en Rut

deur Elmarie Dercksen (namens GenderGeregtigheidTaakspan)

Mag en dominansie pla ‘n mens gewoonlik nie veel as jy die een is aan wie dit behoort nie. Die lewe is makliker met ‘n bietjie invloed: jy kan spasie opneem, sê wat jy wil sê en doen wat jy wil doen. Ons almal ken die sêding “kennis is mag”, maar ander faktore speel ook lekker daarmee saam: geld en klas, velkleur en voordeel, oriëntasie en geslag.

Liewe leser, as jy dus nou al kriewelrig voel oor wat ek skryf, vra ek mooi: miskien wil jy net nie oor mag gesels nie omdat dit jou nie pla nie – omdat jy daardeur bevoordeel word. Dit is een van die ander eienskappe van dominansie: mense gee dit nie sommer verniet weg nie. Boelies moet tot diepe selfinsig kom om op te hou boelie, en dit is nie maklik nie.

Ek wens dit was nie vir my kerk nodig om ‘n spesifieke maand te gebruik om op vroue te fokus nie. Ek wens almal se menswaardigheid was so vanselfsprekend soos dit behoort te wees. Maar ten spyte van die feit dat vroue die meerderheid lidmate in die kerk wêreldwyd is, is hul stories nie naastenby so dikwels vertel soos hul manlike eweknieë nie; hul woorde oor God (teologie) nie naastenby so gepubliseer nie; en hul gawes nie ten volle erken nie.

My eie Vrouemaand-inspirasie kom uit die Bybel op ‘n verrassende manier. Ek lees oor die herstel van Jerusalem en die tempel ná die Ballingskap, en spesifiek oor die priester Esra.

Hy was ‘n goeie ou. Hy het so geglo in God se heerskappy dat hy selfs kon bely dat God heidenkonings kon gebruik om Sy doel te bereik. Verder beklemtoon Esra dat God heilig is en dat Hy van Israel verwag om suiwer en in afsondering te leef. Esra glo dat die wet van God die primêre riglyn moet wees waarvolgens God se kinders leef. Sien, alles goeie dinge. Esra het sy lewe gewy aan die dinge waarin hy geglo het, en het ‘n groot bydrae gelewer in die herstel van Israel ná die Ballingskap.

Maar ten spyte van sy goeie bedoelings het hy te ver gegaan. Die laaste paar hoofstukke van die boek Esra in die Bybel is pynlik om te lees: die priesters en Leviete met vreemde vrouens moet hulle met hulle kinders wegstuur, sodat die land weer rein kan wees. Families word opgebreek, vroue sonder heenkome of inkomste word met hul kinders in die pad gesteek. Dit het regtig gebeur – ja, die Bybel is soms nie ‘n maklike boek om te lees nie. (Onthou asseblief ook dat sommige dele in die Bybel beskrywend is, en nie voorskrywend nie.)

My lang relaas het natuurlik ‘n MAAR.

Natuurlik was daar mense wat die onreg hiervan beleef en raakgesien het. Natuurlik was daar mense wat onthou het dat God wil hê ons moet geregtigheid én genade bedien. En in hierdie tyd van Esra is daar ‘n groepie mense wat onthou om Rut se storie weer te begin vertel, en mooi op te teken.

Rut: die Moabitiese meisie met die donker vel en vreemde voorouers wat op die ou end Dawid se oumagrootjie sou word; die lojale meisie wat aan haar skoonma kon verklaar: “U volk is my volk; u God is my God”. Die meisie uit die minderheidsgroep se storie word ‘n teenpool vir Esra se onbedoelde boelie.

Dus is my pleidooi in Vrouemaand: maak asseblief spasie vir die Rut-stories in jou eie omgewing, in jou eie gemeente. Rut is dalk nie gewoond aan spasie opneem nie, dus moet ons dit skep vir haar. Kom ons bly ‘n bietjie stil en luister na diegene wat gewoonlik min te sê het. Let wel: die behoefte is nie wraak op Esra nie. Hy was ‘n goeie ou, wat in sy ywer net te ver gegaan het. Hy was waarskynlik onbewus van die voordeel van sy eie mag; help hom ook om weer ‘n bietjie te luister.

 

Kry hierdie e-boeke met oordenkinge oor Bybelvroue gratis, spesiaal omdat jy ‘n vrou is!

 

Ester – Koningin vir God – bit.ly/ebEster

Rut – Huwelik uit die Hemel – bit.ly/eboekRut

Vroue uit die Bybel - bit.ly/ebVroue1

Dit het só gebeur: een middag laat het Eva haar mandjie geneem en afstap na die tuin, wat die Here aan hulle gegee het, om groente en vrugte te gaan haal. Eers het sy geelwortels, kool en beet gepluk. Toe kom sy by die vrugtebome en daar kry sy die slang. Sy pluk van die vrugte wat die slang haar aanwys en sê: ‘Maar dis lekker; wag laat ek vir my ou man ook daarvan gaan gee!’”

Aldus die verhaal van die sondeval deur ‘n buiteposonderwyser iewers in Afrika aan die kinders opgedis.

Hannelize, ons argivaris grawe hierdie kosbare stukkie geskiedenis uit ons argief. Die artikel kom uit DIE SENDINGBLAD van Desember 1966 met die titel: Agab, Elia en die Motorfiets. Lees die oorspronklike, uiters komiese berig  HIER.

 

*****Sendingskets*****

Nog ‘n Sendingskets uit die pen van Ds PP Stander, Hoof van Teologieseskool Dingaanstat in 1949 – 1974.

Die gebed van Evangelis Nxumalo op Dingaanstat iewers in 1949:

 “Vader baie dankie vir die grond wat die base vir ‘n sendingstasie gegee het hier op die plek. Ons het toe egter gesê hulle het baie grond en kan dit maklik gee. Dankie ook vir die 100 osse wat die oubaas gegee het om die stasie te bou. Toe het ons gesê hy het baie beeste en kan dit maklik gee. Dankie vir die twee plase wat die oubaas vir die sending gegee het. Ons het egter ook gesê hy het baie plase en kan dit maklik gee. Maar nou Here, staan hy daar bo in die kloof. Hy is ‘n ou man en ‘n ryk man. Maar hy staan daar in ‘n tentjie om ‘n dam te bou sodat ons water kan hê. Here dit het ons baasgeraak!”

*****Sendingskets*****

Veelwywery is nog ‘n groot struikelblok in die weg van die sending onder die Zulu. In ‘n toets was die antwoord op ‘n vraag daaroor in een skrif: “Veelwywery is ‘n nare ding. Daar is altyd rusie in die stat. Buitendien het die Here Jesus gesê dat geen man twee Here kan dien nie.” (Vir sy openhartige eerlikheid het ek hom volmerke gegee!)

*****Sendingskets*****

Mnr R was ‘n klerk in die gevangenis te Pietermaritzburg. Hy en sy eggenote het met baie opoffering vir hulle ‘n huisie gekoop. Toe hulle in 1951 verplaas word na die kolonie het hul hul huisie verkoop. Die winsie van £60 het hulle opgestuur om ‘n evangelis mee op te lei wat namens hulle onder die Zulu kan werk.

*****Sendingskets*****

Die direksie het vergadering gehou op Dingaanstat. Twee lede het die klas kom bywoon en toegespreek. Een van die studente moes namens almal antwoord. Sy woorde was omtrent die volgende: U Blankes maak ons baie skaam. U vergeet dinge! U kom doen hierdie werke van barmhartigheid op hierdie plek van bloed. Ons Zulus is nie so nie. Ons sal selfs ‘n vermeende onreg onthou vir altyd! (Dis werklik die indruk wat die Dingaansending op baie van die Bantoe maak.)

Spesiale voorverskyningsaanbod: Koop Uit die Beek 2022 teen 20%-afslag

Bestel Uit die Beek 2022 voor 20 Augustus 2021 en ontvang 20%-afslag. Jy bespaar dus R45,00 op hierdie geliefde Bybelse dagboek

UIT DIE BEEK 2022

Gewone prys: R225,00

Afslagprys: R180,00

KOOP HIER | LEES MEER

Vanjaar verskyn Uit die Beek weer uit die pen van die bekroonde skrywer Barend Vos. Soos altyd word daar gepoog om die Bybel op ʼn verantwoordelike manier te lees. Dit maak hierdie geliefde Bybelse dagboek geskik vir persoonlike stiltetyd, huisgodsdiens en Bybelstudiegroepe.

Met Uit die Beek 2022 sit ons ons poging voort om Die Bybel binne vier jaar deur te lees. Ons lees vanjaar uit Eksodus, Rigters, Job, Spreuke, Jeremia en Amos. Asook Matteus, 2 Korintiërs, Efesiërs, Filemon, Hebreërs en Jakobus. Groot momente in die kerkkalender, soos Lydenstyd en die Pase, Pinkster, Koninkrykstyd en Advent word ook in ag geneem.

Bestel dadelik om te verseker dat jy Uit die Beek 2022 teen hierdie spesiale prys kan aankoop. Produkte sal ná 20 Augustus 2021 afgelewer word.

Bestel op een van die volgende maniere:
Koop aan:
www.bybelmedia.org.za
Stuur e-pos:
bestel@bmedia.co.za
Skakel ons: 021 864 8211

Ons Virtuele Hardloop en Stap vir Hoop in 2020 was ongelooflik suksesvol met meer as 2 000 atlete, stappers en fietsryers wat aan ons eerste virtuele geleentheid deelgeneem het! Met die bydraes wat ontvang is, kon ons 2 000 Bybels aan mense in nood, asook 2 000 stelle Bybelgebaseerde geletterdheidsboekies aan kinders voorsien.
Hierdie jaar wil ons nog beter en groter! Vanjaar se Hardloop & Trap vir Hoop-geleentheid wat op 21 en 22 Augustus plaasvind, ondersteun steeds die Bybelgenootskap se doelwit om, ter viering van ons 200ste bestaansjaar, twee miljoen Bybels te versprei.

Weens die voortslepende Covid-19-pandemie en die vinnige verspreiding van die virus, asook die huidige beperkings, word vanjaar se Hardloop & Trap vir Hoop-geleentheid weer virtueel aangebied. Jou veiligheid is vir ons baie belangrik.

Deelnemers kan die afstand van hulle keuse en waar dit ook al geleë is, hardloop, trap of stap. Ons moedig gemeentes aan om hierdie geleentheid te ondersteun, uiteraard met die nodige Covid-19-regulasies in plek, en so die Bybelgenootskap help om die Woord van God beskikbaar te stel aan plaaslike gemeenskappe wat nie Bybels kan bekostig nie.

Die verskillende afstande maak dit vir elkeen moontlik om deel te neem. Of jy elke dag 'n "stappie" geniet of 'n ernstige atleet of fietsryer is – wat jouself wil toets – die keuse van watter afstand om gedurende die twee dae te voltooi, is joune. So, maak dit 'n naweekaktiwiteit vir die hele gesin en registreer vandag nog!

Klik hier om vir die Hardloop & Trap vir Hoop te registreer

Elke inskrywing sal die Bybelgenootskap help om Bybelarmoede en die geletterdheidsbehoefte, as deel van die 2 miljoen Bybels-projek, in ons land aan te spreek. Vir meer inligting, besoek www.2millionbibles.co.za

Vriendelike groete

Francois Sieberhagen

Hoof: Kommunikasie & Bemarking

e: biblia@biblesociety.co.za

t: +27 21 910 8705

Lentekonferensie

2021

Die hoofsprekers by vanjaar se Lentekonferensie is:

Besoek gerus ons webblad by www.excelsus.org.za vir die volledige brosjure en vir die skakel om aanlyn in te skryf.

 

Excelsus-groete

Rika

Lukas 8:4-8

Die boskonsert begin vroegoggend al. Met eerste lig begin die voëltjies opwarm met hemelse musiek, terwyl die laaste klanke van die vorige aand se groot konsert nog wegsterf as leeu brom dat hy nou genoeg gehad het vir een nag, en dat hy nou gaan slaap. Hiëna sê: "Amen!" en duik sélf in sy kooi in. Die spreeus en tiptolle is eerste op die toneel om te kom kyk of die nagapies en vrugtevlêrmuise so 'n ou ietsie oorgelos het van die vorige aand se piesang, maar al wat hulle kry is 'n leë skil. "Iemand het die piesang gesteel!" skree Spreeu. "Hy's weg, hy's weg, hy's weg!" beaam Tiptol. Half deur die slaap strompel ek kaalvoet uit om 'n paar appels in die bome te sit, net om die spul se bekke stil te kry, en in die proses trap ek op 'n baie-eina-doring. Hinkepink op een been, gooi ek sommer 'n paar mieliepitte uit, net vir die wis en die onwis. Skaars tref hulle grond, of 'n paar tarentale raap hulle gulsig op.

'n Rooibeklyster kom aangetrippel. Hy hardloop vinnig vyf treetjies, stop skielik, gaan staan kiertsregop. Dan hardloop hy weer vyf treetjies, stop en staan weer kop in die lug. Laat my altevol baie dink aan Charlie Chaplin. Sy koddige, rukkerige lopies word oor en oor en oor herhaal, tot vervelens toe.

'n Vlakvark kom opgewonde aangehardloop om te kom kyk wat die kospotte van Egipte opgelewer het. Maar hy is bitter teleurgestel - hierdie slag was die tarentale voor hom daar. Vyf koedoes tree te voorskyn: "Ons is hier vir ons rantsoene", sê die ou koei se bedel-ogies. Ek reageer nie, en sy stap 'n wye draai en pluk al die appels wat ek vir die voëls uitgesit het van hulle spykers af. Sy kom staan nou reg voor my en staar my stip in die oë: "Ek soek kos", sê haar oë kwaai, "Nou!" Ek ignoreer haar. "Ek voel soos 'n wurm!" bieg Mosbolletjie. Sy (dis nou die koedoe, nie Mosbolletjie nie) draai om en stap weg, gevolg deur haar meelopers.

Die tarentale is terug vir nog pitte. Ek kyk rond - daar is nêrens 'n vark in sig nie. Ek gooi 'n paar handevol mielies, en dit skarrel om elkeen 'n paar pitte te kry. Skielik uit die bloute is die vlakvark ook daar. Die tarentale is so honger dat hulle tussen die vark se bene deur pik. Hy vererg hom en swaai sy slagtande wild rond, en jy sien net vere spat. Maar hulle kom vir nog. Ek gooi nog pitte op 'n ander plek, en die hele lot, vark inkluis, hardloop in daardie rigting. Die tarentale kom naderhand agter dat daar mos nog pitte oor is op die eerste kolletjie, en hulle skarrel daarheen. Vark hardloop agterna en verjaag hulle. Hulle hol terug na die tweede hopie toe, en vark is weer agterna. Heen en weer maal die malle spul totdat daar nie meer 'n enkele mieliepit oor is nie!

Die tarentale beweeg veld-in, maar hulle sorg dat hulle binne maklike reikafstand bly, net vir ingeval hier dalk weer ‘n ou meevallertjie kom. Twee vlakvarke kom parkeer hulleself ook binne trefafstand, en grawe hulleself deeglik in onder ‘n blaarlose ou boompie. Styf teen mekaar lê hulle lepel, en die hele tyd koer-koer hulle mooi woordjies vir mekaar. Ek begin half bekommerd raak dat dit hier pornografies kan raak. Soos wat die dag aanstap, begin die tarentale al hoe meer ontspanne raak. Teen twaalfuur lê hulle rond op hopies, vlerke oopgesprei, plat op die grond. Een van die twee vroetelvarke staan elke halfuur of so op en kom maak ‘n draai voor die stoep, net om seker te maak dat hier nie dalk intussen kos gebeur het nie. Dan draai hy maar weer teleurgesteld om en gaan wurm hom langs sy maatjie in met ‘n groot gesteun en gekoer. En dan vat dit weer amper ‘n halfuur voordat hy uiteindelik sy lê kry, maar dan is dit al klaar weer tyd om te kom kosinspeksie doen. Intussen kom bedel ‘n halfdosyn varke, paar sebras, nog varke, ‘n kwêvoël en weer ‘n slag varke. Drie kameelperde kom verby gestap op stelte en kyk ons uit die hoogte aan, en die kwêvoël kom kerm dat die appel te skeef sit na sy smaak.

En dan wil jy nog sê dat daar nie boskonsert in die dag is nie!

Uiteindelik, teen half-vier is die konsert verby. Die tarentale het een-vir-een koers gekies en die voëls is almal weg (die appels het opgeraak). Dis nog net die twee vroetelvarkies wat in mekaar se ore lê en koer. Skielik is die bos stil, doodstil.

Ten spyte van hoe dit dikwels vir ons lyk of voel, is die wêreld vandag honger vir die Woord. Die probleem is egter dat daar so min gelowiges is wat bereid is om die Woord te saai - dalk is ons bang! Dit is veral in moeilike tye soos nou, dat mense soek na standvastigheid. En nóú is die tyd ryp vir ons as gelowiges om daardie wonderlike hoop en standvastigheid wat die Woord gee uit te deel aan diegene met wie ons in aanraking kom. As ek mielies strooi in die bos, is die diere daar. As ek die Woord uitdeel, is die mense wat honger is daarvoor ook daar.

Vra vandag vir die Here op watter manier jy die Woord kan saai - Hy gebruik elkeen op sy eie unieke manier. En strooi dan jou geloofspitte mildelik uit. Iemand sal dit wél met groot dankbaarheid oppik.

Gebed:

Here, maak my asseblief vandag bereid en onverskrokke om my geloofspitte uit te strooi.

Louis Nel

Uit: Ons Dag se Broodhttps:/dagstukkie.co.za