Die stof het gaan lê na die onluste en plundery en nou lek ons ons wonde. En nee, om jou wonde te lek beteken nie om vir jouself jammer te voel nie, dit beteken eerder om retrospeksie te doen.

Ja, verséker is ons kwaad en geskok oor al die misdaad, plunder en geweld. Die astronomiese prys wat ons land betaal het in lewensverlies, beskadigde en selfs totaal verwoeste eiendom, duisende mense wat skielik sonder werk sit en algehele ontwrigting van ons lewens, is skokkend! Maar as gelowiges moet ons helder dink oor al die gebeure en veral wat dit vir ons beteken het.

As ons mooi dink daaroor, het dit ‘n uiters positiewe uitwerking gehad in ‘n sekere sin. Ons het gesien hoe dorpe oor alle kleur- en sosiale grense hande gevat het om saam te staan teen die magte van die bose (dis al hoe ons dit kan noem!) Lees byvoorbeeld die berig wat in Rapport verskyn het oor die mooi verhaal van Pongola. Hoe die inwoners saamgestaan het en selfs die honderde vragmotors op die pad beskerm het. Daar is talle soortgelyke verhale.

Maar dit het ook mense se harte en beursies oopgemaak om diegene in nood te help. Die Help KZN Fondsteen gister tot R970’000 gegroei, byna ‘n miljoen rand! Ons hoor ander verhale van gemeenskappe wat saamgestaan het om al die geplunderde goedere in hulle eie gemeenskap uit te snuffel en aan die regmatige eienaars terug te besorg.

Maar die belangrikste gevolg van die onluste is dat dit gelowiges met ‘n hegte band aan mekaar saamgesnoer het. Die band van liefde het ons weer aanmekaar gebind soos wat Jesus gevra het die nag voor Sy kruisiging.

So, het dit alles wel tóg ‘n positiewe kant? Ja, baie beslis!

Ek wil graag hierdie gedagte van Paulus in Filippense 4:8 by jou laat om jou aan te spoor om jou gedagtes met die positiewe te vul: “alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja, watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop.”

Groete,

Louis Nel

Hier onder ’n videoboodskap van Nelis Janse van Rensburg namens die Algemene Sinode. Hy gesels oor aktuele sake wat die kerk en breër gemeenskap raak. Kyk dit asseblief.

Willie Pieters

Ons vriend en kollega, Ds Willie Pieters, is verledeVrydag oorlede in St Annes hospitaal in Pmb nadat hy vir die afgelope week geworstel het om vanweë sy longprobleem genoeg suurstof te kry. Ons is dankbaar dat hy nou tuis is by sy hemelse Vader, waarna hy in die laaste tyd baie uitgesien het. Ons is ook dankbaar dat Janette en van die kinders die laaste oomblikke by hom in die hospitaal kon wees en dat Willie al sy sake vooraf in orde kon bring. Ons is egter ook hartseer om 'n vriend en kollega nie meer by ons te hê nie. Ons bid vir Janette en hulle vier kinders met hulle gesinne. Ons weet die Here sal hulle dra en krag gee in hierdie tyd.

n Gedenkdiens vir Willie is Woensdaggehou by die Winterton Klub.

 

Dr Henry Eagleton

Ons het pas met hrtseer verneem van die afsterwe van Dr Henry Eagleton hierdie week. Hy is gebore op 29 Maart 1953 en het sy graad in 1977 behaal. Hy was onder meer leraar in Edleen Gemeente (Kempton Park), Potchefstroom, Rooihuiskraal, The Reeds en uiteindelik in Fynnlands Gemeente in Durban, waar hy sy emiritaat ontvang het op 1 Februari 2015. Dr Eagleton is beskryf as ‘n Lewens Strateeg met die filosofie van “Soar like an Eagle” – Sweef soos ‘n Arend!

Ons bid vir sy vrou Antoinette en hulle familie in hierdie hartseer tyd.

n Pennie vir ‘n Kerk!

Ons vriendelike argivaris, Hannelize van Wyk het hierdie interessante uittreksel van die Kerkbode van 1938 opgegrawe, waar daar van lidmate gevra is om ‘n pennie te skenk om uiteindelik daarmee ‘n kerk te bou! Vir die jongeres – ‘n pennie is in vandag se terme een sent. Maar jy kon vier Wilson’s toffies daarvoor koop!

Soos belowe, plaas ons nóg een van die staaltjies wat Hannelize opgespoor het uit die persoonlike versameling van Ds PP Stander, Hoof van Teologieseskool Dingaanstat in 1949 – 1974.

n Soutmyn

In 1949 is een van die diakens van die Sendinggemeente van Babanango na die Evangelisteskool, wat nog op Dingaanstat sou aangevoor word. Later in daardie jaar het hy ‘n dosyn beeste gehad. Die Boer op wie se plaas hy gewoon het, het nie genoeg ruimte gehad om sy beeste daar te hou as hy weg is nie. ‘n Ander boer in die distrik het egter ingewillig om sy beeste die drie jaar gratis op sy plaas te hou op voorwaarde dat Kefas by voltooiing van sy studies, op sy plaas sal kom evangeliste werk doen vir minstens drie jaar. Hyself staan in vir die salaris wat dieselfde sal wees as die van die ander evangeliste van die gemeente.

Gedurende die tyd wat hulle moes wag vir Kefas het die Bezuidenhout-familie op die plaas Nooitgedacht ‘n doelmatige Kerkgeboutjie opgerig wat in twee klaskamers verdeel is. Hierin het hulle ook op eie koste ‘n skool aan die gang gekry. Dit het beteken dat hulle vir etlike jare die salaris van die onderwyseres moes betaal, meubels moes aankoop en al die sorg van die skool self moes dra. Nou is daar ‘n twee-man staatsondersteunde skool.

Op 30 Desember 1951 kon hulle hulle evangelis sien bevestig word onder groot belangstelling van die Zoeloebevolking van die omgewing. Daar was ook baie van sektes en ander kerke.

Terwyl die sendeling na aanleiding van Titus 2:9 ook ‘n woordjie gespreek het oor die verhouding tussen werkgewer en werknemer het hy die evangelis opgeroep om op ‘n aantal ongewone vrae te antwoord tot verbasing en ontsteltenis van sommige toehoorders.

Wie het jou beeste opgepas terwyl jy studeer het?” “Mnr Frans, Mfundisi.”

Wat het jy hom betaal?” – “Niks.”

Was almal daar toe jy terugkom?” –“Ja.”

Het jy jou toestemming gegee vir die verkoop van die twee osse?” –“Ja.”

Het mnr Frans van die geld agtergehou wat hy vir hulle gekry het?” –“Nee.”

Toe jy gaan studeer het, het mense gesê dat jy jou beeste nooit weer sal sien nie. Geen witman sal vir jou jou beeste oppas nie. Het jy dit ook gehoor?” – “Ja.”

Ons meen dat een van die kwaadstokers in die kerk gesit het.

Kefas het ook ‘n kort toesprakie gehou na aanleiding van Mat 3:13. Hy het min of meer dit gesê:

Ek het maar altyd sout gekoop om my kos lekker te laat smaak en van bederf te bewaar; maar het nooit geweet waar die sout vandaan kom of hoe dit gemaak word nie. Ek praat egter van die sout waarvan die Here Jesus praat. Hy strooi my tussen julle om julle lewens te reinig en gelukkig te maak. Toe ek in 1949 na die oostekant gegaan het, het ek ‘n soutmyn gekry. Die geboue van die myn staan op ‘n plek waar baie bloed vergiet is en waar daar baie mensebene onder die klippe lê. Toe ons daar ‘n watervoor gegrawe het, het ons ‘n hele paar geraamtes oopgegrawe. Nou word daar sout gegrawe deur die man wat vir julle gepreek het en andere. Die sout word in die gemeentes rondgestrooi (onder die klippe daar rond vind ‘n mens nou nog verbleikte mensebene).

Na hom het Mnr George Bezuidenhout aan die gemeente gesê dat hy sien dat daar nog vir die evangelis ‘n huis gebou moet word. Hy persoonlik sal die koste van een rondawel dra. Hy maak ook bekend dat die plaas in sy testament bemaak is vir die voordeel van die sendinggemeente.

Toe ons hom en Tant Siena gelukwens met die verwesenliking van hulle ideaal, sê sy: “Die Here het ons baie geseën. Ons wil nie hê dat ons plaaswerkers eendag vir ons in die hemelpoort sal voorkeer en sê dat hulle vir ons gewerk het en ons het hulle nie die weg van Saligheid gewys nie.”

So sien ons die Godsryk nader, naderkom met elke dag.

Staaltjie uit die persoonlike versameling van PP Stander, hoof van Teologiese Skool Dingaanstat 1949 – 1974.

Aanstaande week DV nóg van Ds Stander se stories.

Ons sluit ons Indië-veldtog af met 'n gebedsbyeenkoms op Sondag 1 Augustus. Geopende Deure nooi u almal uit om saam met ons hierdie gebedsbyeenkoms te doen. Sluit aan by ons deur te registreer by die skakel hier onder.

Ons is verbind deur ons stryd, maar verenig in Christus! Sluit aan by Geopende Deure se virtuele voorbiddingsgeleentheid terwyl ons vir Christene in Indië, vir mekaar en vir ons eie land bid. Ons wil graag saam met u bid.

Klik hier om te registreer:

Vanjaar se Virtual Run & Cycle for Hope gaan groter en beter wees! Om 'n beweging vir hoop te skep, is belangriker as ooit tevore, en ons moedig u almal aan om by die beweging aan te sluit en op 21 en 22 Augustus die strate in te vaar!

Vanjaar gaan alles daaroor om dit so 'n lewenswerklike ware ervaring as moontlik te maak, en daarom verkoop ons wonderlike renprodukte! As u goedere vir u en u vriende wil bestel, maar net een keer vir porto wil betaal, het ons u in staat gestel om vyf artikels van wat u ook al wil bestel, met een inskrywing te bestel. Ons het ook 'n reeks pryse om dinge opwindend te hou! Klik op die knoppie hieronder om meer te wete te kom en u plek te bespreek.

Bespreek HIER

Lees die volledige berig HIER

Wat leer ons in hierdie tyd oor ras en versoening?

Die naskok oor verlede week se onrus, stroping en oproer in KwaZulu Natal duur voort. Maar wat leer ons in 'n tyd soos hierdie spesifiek oor ras en versoening? Die Algemene Sinode se Taakspan vir Versoening en Identiteit het hieroor gesprek met kundiges en betrokkenes gevoer. Kyk gerus na die video hier onder – goedgunstiglik geneem uit Grens.Pos, nuusblad van die NG Kerk in Oos-Kaapland.

Ekologie

Ons is besig om die pragtige planeet waarop God ons geplaas het te vernietig met ons lewensstyl. Nou praat ons nie eers van lug- en waterbesoedeling met ons gebruik van fossielbrandstowwe vir krag en vervoer nie. Ons het gewoond geraak daaraan om dinge slegs vir 'n beperkte tydjie te gebruik en dan weg te gooi. Plastiek is besig om ons oseane dood te wurg. Ons moet onthou dat God ons aangestel het om oor die planeet te heers, dit dus verantwoordelik te bestuur en nie om dit te vernietig nie!

Ek lees hierdie week 'n interessante artikel raak in Vrydagnuus – die NG Kerk van Wes-Kaapland se nuusbrief. Dit gaan oor eetbare bakkies, iets wat wegneemetes besoedelingsvry kan maak.

As deel van hulle veldtog om Plastiekvrye Julie te ondersteun, kyk die webwerf GoodThingsGuy na maatskappye wat besig is om 'n daadwerklike verskil te maak. Navorsing wys dat slegs 16% van Suid-Afrika se plastiek tans herwin word.

Onlangs het Munch Innovation onder hulle aandag gekom met die eetbare bakkies wat hulle vervaardig. Die bakkies word gemaak van organiese produkte soos klipgemaalde meel, kanola-olie en rooibosekstrak en is spesiaal gemik op die kos- en spyseniersbedrywe om enkelgebruik-plastiekhouers te vervang. Lees die res van die storie hier. 

Blydskap

Filippense 4:4-7

Die gebeure van die afgelope paar weke het baie mense se blydskap gesteel!

Maar onthou jy nog die liedjie: “Filippense vier vers vier sê: Verbly jou in die Heer! Verbly jou, verbly jou, verbly jou in die Heer!”? Dis onbegryplik dat ‘n man soos Paulus, wat in die tronk sit, vir ‘n gemeente kan skryf dat hulle bly moet wees, letterlik jubel! Maar hierdie is nie sommer net mooi praatjies nie, ons sien hierdie lewensvreugde deurgaans prakties in Paulus se lewe, selfs in die mees haglike omstandighede. Hy leef uit wat hy preek! Sy lewe is ‘n skrille teenstelling met die van ou Suurgevreet, die vlakvark.

Paulus het egter nie sommer maar hierdie mooi dinge geskryf sodat ons hom moet bewonder nie. Sy pleidooi is dat ek en jy as gelowiges daardie selfde blydskap, daardie lewensvreugde prakties in ons lewens sal ervaar en uitleef. In die eerste plek moet jy jou uiterlike omstandighede losmaak van jou innerlike gesteldheid, iets wat nie sommer vanself kom nie.

Die vraag is: waar kry jy hierdie blydskap vandaan? Paulus gee die antwoord in vers 4: In die Here! Ons kan dit slegs ervaar as jy bewus is van Jesus se teenwoordigheid in jou lewe, ook waar jy dalk in moeilike omstandighede is. Die bonus van so ‘n lewe van blydskap is dat dit aansteeklik is, en dat ander mense ook aangevuur word deur jou blydskap. Dit kan ‘n spannende atmosfeer totaal ontlont en die mense waarmee jy in aanraking kom in ‘n ander gemoedstoestand inlok.

Nou sal jy dalk wil vra: “Maar hoe kry ek dit reg om te borrel van blydskap as die bekommernisse van die lewe besig is om my te versmoor?” Eerstens moet jy besef dat dit nie sommer vanself kom nie, en dat dit van jou ‘n positiewe wilsbesluit vra. As jy hierdie besluit geneem het, is die volgende stap gebed. Nie ‘n gebed om te vra dat die probleme moet verdwyn nie, maar ‘n innige gebed dat die Here jou borrelende blydskap sal gee ten spyte van jou probleme. Dit is dán wat jy begin om die onbeskryflike vrede wat alle verstand te bowe gaan, daardie vrede waarvan Paulus in vers 7 skryf, te ervaar. Hierdie is nie maar net ‘n “gevoel” nie, maar dit is die ervaring van wat Jesus se vrede werklik beteken.

Hoe kan ek dan blydskap ervaar en uitleef, as ek weet dat ek steeds probleme het? Die hele gedagte dat God in beheer is, is al klaar genoeg. Dalk het Hy ‘n groot doel met jou probleme, en daarby kan jy berus, want al los Hy nie jou probleme op nie, sal Hy jou steeds krag gee om dit te verwerk, en sal Hy jou daardeur dra. Gee dus maar jou probleme oor aan God, en vul jou lewe met die liefde en blydskap wat alleen Hy kan gee. Drink dit in en geniet elke oomblik daarvan.

Groete,

Louis Nel

Uit: Ons Dag se Brood