Die redaksie van die Posduif probeer nuut dink, en daarom ‘n paar veranderinge wat ons opgewonde maak. Eerstens het ons begin om die Posduif op WhatsApp uit te stuur, en ‘n groot aantal intekenaars het alreeds oorgeskakel.

Ons het verder besluit om die Posduif en die Pousduif (die nuusbrief aan predikante) te kombineer. Dikwels is daar inligting vir predikante waarin sommige lidmate ook sou belangstel, soos byvoorbeeld kursusse wat aangebied word.

Ons gaan poog om die Posduif in die vervolg elke Vrydag te laat vlieg.

Indien jy enige voorstelle het om die Posduif beter te maak, is jy welkom om vir my te skryf na WhatsApp: 076 476 8379 of e-pos: kommunikasie@ngkzn.org.za

Stuur asseblief ook enige nuusbrokkies en foto’s van jou gemeente vir my na die adres hier bo.

Geniet jou Posduif,

Louis Nel

 

░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░

 

In hierdie nuusbrief:

1 KZN Sinodesitting

2 Bybelmedia nuusMaak ‘n Impak

3 Boeke

3 Vir die Predikante

Pensieoenfonds inligting

Excelsus kursusse

4 Pos Beskikbaar

Rekeningkundige Beampte benodig

5 Ten Slotte

n Oordenking – Afspraak met jesus

 

░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░

 

KZN Sinodesitting

Ons Sinodesitting is nou vinnig besig om nader te kom! Dit gaan plaasvind in die Hayfields gemeente in Pietermaritzburg, waar ons sinodale sentrum ook geleë is. Die datum vir die KZN Sidodesitting is Maandag 24 Mei tot Woensdag 26 Mei 2021.

Maak asseblief seker dat alle geloofsbriewe betyds ingehandig is. Sien jou daar!

 

░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░

 

 

Beste Bybel-Media-vriend

Ek hoop dat dit met jou goed gaan. Ek skryf aan jou as iemand wat my liefde vir Jesus deel.

Mag jy in hierdie Paastyd opnuut bewus wees van die Vader se beloftes, Jesus se nabyheid en die Gees se vernuwing in jou lewe.

Ek reik weer versigtig na jou uit, deeglik bewus van die moeilike tye waarin ons leef. My brief is dalk nie nou ’n prioriteit in vergelyking met almal wat swaarkry nie. Maar dit is juis in sulke mense se lewe dat Bybel-Media ’n verskil wil maak. Ons bring vir hulle hoop, ondersteuning en Jesus-liefde. Jy kan my help.

Ek skryf vandag oor die toekoms van geloof in ons land. Ek is seker jy glo ook dat Bybelse geloof ons land kan heelmaak.

Ek wil ’n bietjie terugdink. Voor grendeltyd het Bybel-Media verbeeldingryke projekte aangepak om Bybelse geloof te bou by kinders, gemeenteleiers en gemeentes. Ons glo steeds dat hierdie projekte ’n wesenlike verskil sal maak.

Die vraag wat ons natuurlik moet beantwoord, is hoe om dit volhoubaar te doen. Baie van die kinders en volwassenes aan wie ons Bybels en ander geestelike boeke voorsien, kan nie kosprys daarvan betaal nie. In al die jare dat ek al hier werk, was ons as Bybel-Media nog nooit so bewus van hoe afhanklik ons van donateurs se ondersteuning is nie.

Gelowiges soos ek en jy het hierdie publikasiehuis gebou. Ons werk die afgelope jaar reeds in uiters moeilike omstandighede as gevolg van die Covid-19-pandemie. Daar lê vanjaar vir ons groot bouwerk voor. Dit is met jou hulp dat ons die reuse-uitdagings wat vir ons voorlê, sal kan oorkom.

Bou saam met ons

Ek herinner jou graag weer aan ons storie.

Met die stigting van Bybelkor in 1971 het die bekende en wyse ds Jan Lange van Riversdal ons kerk help fokus op wat regtig belangrik is. Hy het gesê dit gaan in die kerk nie net oor baksteengeboue nie, maar veral oor lidmate se geloof wat uitgebou word – woorde wat vandag meer waar is as ooit tevore!

Ons keer nou terug na dié eenvoudige beeld met ’n simboliese bouprojek. Ek wil vra dat 1 660 Christene elke maand vir Bybel-Media BybelBouBlokke sal koop. Met ander woorde, ek vra ons ondersteuners om ’n maandelikse bydrae van R50 vir hierdie boublokkeprojek te maak en só saam met ons aan die toekoms te bou. As jy reeds maandeliks ‘n BybelBouBlok skenk, weet dat jy ‘n reuse verskil in iemand se lewe maak.

Die rede waarom ek persoonlik aan jou skryf, is dat Bybel-Media se fondswerwing apart funksioneer van ons bedryfsfonds. Soos jy dalk weet, is Bybel-Media se werksaamhede nie op die begrotings van die Algemene Sinode of streeksinodes van die NG Kerk nie. Ons moet dus geld insamel vir elke afsonderlike projek en hierdie BybelBouBlok-inisiatief sal dit vir ons moontlik maak.

Waar sal my en jou boublokke inpas?

Die simboliek van die boublokke is dat ons die geloof van kinders, gesinne en lidmate in hierdie ontwrigtende tyd wil opbou. Die fondse wat ons hiermee insamel, sal onder meer deel raak van ons toekomsfonds. Jou bydrae sal dus jare lank nog die geestelike werk van Bybel-Media ondersteun.

Ons teikenbedrag met hierdie projek is R1 000 000.

Ek wil jou vriendelik vra om die volgende te oorweeg:

Maak ’n bydrae van R50 per maand of R600 per jaar aan Bybel-Media.

Help ons om ’n verdere 1 659 ondersteuners te werf deur hierdie brief met jou vriende en familie te deel en só die BouBlokke-projek namens Bybel-Media te bevorder.

Indien jy ’n groter bydrae wil maak vir die opleiding van ongeskoolde kerkleiers kan ons jou van ’n Artikel 18A-belastingsertifikaat voorsien. Stuur gerus vir my ’n e-pos as jy hierdie opsie kies.

Waarom boublokke nou nodiger is as ooit

As mediamaatskappy is dit ons missie om hulpmiddels vir gemeentes, gesinne en kinders se geloofsopvoeding te ontwikkel en te versprei. Ons druk elke jaar genoeg boeke om Loftus Versfeld-stadion te vul as jy ’n eksemplaar op elke sitplek sou neersit.

Deur die werk van die Nehemia Bybelinstituut kon ons verlede jaar meer as duisend ongeskoolde kerkleiers deur afstandsleer teologies oplei. Die afgelope jaar het ons digitaliseringsprojek meer as 500 000 mense bereik en bedien. Dit het gebeur deur byna 3 miljoen besoeke aan ons webtuistes en apps.

Die koronavirus het die afgelope jaar groot ontwrigting in mense se lewe en in die ekonomie gesaai. En ons, soos die meeste ondernemings in Suid-Afrika, sien die afgelope jaar ’n drastiese afname in ons verkope. Ons verkoopsinkomste van die afgelope jaar het met ongeveer 50% afgeneem. Dit is in lyn met die verkope van ander uitgewers van Christelike boeke in ons land.

Ons inkomste uit donasies is ook minder as waarvoor ons begroot het.

Ekonomiese projeksies ten opsigte van die maande wat voorlê, gee ons min hoop dat ons gebruiklike inkomste spoedig sal herstel.

Die uitdaging waarvoor ons nou staan, is eenvoudig. Ons moet finansieel gesond bly te midde van hierdie pandemie. Bybel-Media se geskiedenis het ons geleer dat dit moontlik is. Ons het voortgegaan om ’n tydskrif tydens ’n wêreldoorlog uit te gee en ’n kerkkoerant tydens die Groot Griep drukkers toe gestuur. Dit wil gedoen wees! Ons kan nou dieselfde doen – een boublok op die ander.

Baie dankie dat jy tyd gemaak het om hierdie e-pos te lees. Ek hoop dat jy en jou gesin veilig is in hierdie uitdagende tyd.

As jy enige verdere vrae of idees het, of graag wil help om meer ondersteuners te werf, kontak my asseblief.

Dit is altyd vir my lekker om hierdie video van ons bekende #BybelBouBlokOndersteuners te wys.

Ondersteun deur debiet-/kredietkaartbetaling

KLIK HIER om aanlyn met jou debiet- of kredietkaart te betaal of besoek www.bybelmedia.co.za.

Ondersteun deur EFT/stoporder

Rekeningnaam: BYBEL-MEDIA
Absa-rekeningnommer: 40-5118-1699
Tak: ABSA BANK WYNLAND
Takkode: 632005
Swift-kode: ABSAZAJJ
Verwysing: e-pos en naam

Ondersteun deur debietorder

KLIK HIER vir die aflaaibare vorm. Voltooi dit en stuur dit terug na boublokke@bmedia.co.za 

Vriendelike groete

Hannelie Matthee
Hoof: Finansies en Donateurskakel
Tel: +27 21 864 8238
E-posadres:
hannelie.matthee@bmedia.co.za

Laat julle as lewende stene opbou tot ’n geestelike huis, om ’n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is (1 Pet 2:5).

 

░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░

 

Die skoolvakansie is op hande. Hou die kleinspan besig met storieboeke, aktiwiteitsboeke asook plakkerboeke. Hier is ‘n paar boeke wat beskikbaar is by Bybelmedia vir die jongspan.

Die strokiesprent-kompetisie

PRYS: R65.00

Keegan kry die geleentheid om 'n plakkaat te ontwerp wat sy gunstelingskrywer se nuwe strokiesprent adverteer - en die wenner kan die boek se bekendstelling bywoon! Hy is vreeslik opgewonde ... maar die skool se boelie, Brent Petersen, dreig om al sy planne in die wiele te ry ...

KOOP HIER  |  MEER INLIGTING

 

Die nuwe vriend

PRYS: R65.00

Daar is 'n nuwe meisie in die skool en Keegan hou baie van haar. Samier en Samia is egter glad nie beïndruk dat Alysha beter as Samia in alles is nie, en Keegan sukkel om die vrede te behou.

KOOP HIER  |  MEER INLIGTING

 

Kiets in Parys

PRYS: R155.00

Kiets is anders as die ander katte in die agterstrate van Parys. Sy kan enige iets doen waarop sy haar kop sit. Selfs wanneer ander nie in haar glo nie.

Sy verlaat haar katfamilie en gaan ontdek die stad waar sy die aande om dans en sing. Op haar reis ontmoet sy die legendariese Édith Piaf en Josephine Baker.

Kort voor lank is sy ook beroemd. Maar is dit regtig die lewe wat sy wil hê? Katte het bowenal nege lewens, jy weet ...

KOOP HIER  |  MEER INLIGTING

 

Coucou, Lulu

PRYS: R165.00

Drome word waar in die laaste boek in hierdie gewilde meisiereeks!

Uiteindelik word Lulu se grootste droom bewaarheid: sy gaan Parys toe vir haar eie modevertoning, en die grootste name in die modewêreld gaan haar klere modelleer!

Die nare tweeling, Alex en Alet, daag ook onverwags op en Lulu is eers bang hulle gaan al haar planne in die wiele ry - maar dan loop iets GROOT verkeerd! Al die uitrustings wat sy gemaak het, raak weg en arriveer nooit in Parys nie!

Lulu en haar vriende en familie moet inderhaas ’n plan maak, maar Lulu is op die punt om moed op te gee. Kan sy nog ’n suksesvolle modevertoning doen en haar drome laat waar word?

KOOP HIER  |  MEER INLIGTING

 

Jy sê, Ek sê, Ons sê

PRYS: R155.00

Verse vir tieners deur tieners

In hierdie unieke boek is versies opgeneem wat deur hoërskoolleerders geskryf is. Marita van der Vyver, bekroonde skrywer van Al wat ek weet, het die leerders begelei tydens die skryfproses.

n Voorbeeldversie:

Is jy regtig lief vir my?
Want jy’t nog tyd om rond te gly

Is jy regtig lief vir my?
Want jy laat my keer op keer seerkry

Is jy regtig lief vir my?
Just let me know and I’ll let you stay

KOOP HIER  |  MEER INLIGTING

 

Professor Fungus Omnibus 2

PRYS: R225.00

Kom kuier saam met Bennie en Jenny in professor Fungus se laboratorium en keer ’n blikbrein wat buite beheer is, maak kennis met ’n klomp vreemde ruimtewesens, ontmoet ’n skurk met ’n nare breinspoel-plan, duik saam onderwater op soek na ’n eienaardige seegedierte … en veg saam teen ’n weermag tuinkabouters!

Vyf fantastiese Professor Fungus-stories in een boek!
1. Professor Fungus en die robotkrisis
2. Professor Fungus en die jelliemonsters van Mars
3. Professor Fungus en die BreinDrein-eksperiment
4. Professor Fungus en die diepsee-dilemma
5. Professor Fungus en die vreeslik gevaarlike tuinkabouter

KOOP HIER  |  MEER INLIGTING

 

Lea Lief Uile

PRYS: R135.00

Hoe-hoe-hoekom gaan al die uile dood?

Lea se ma is ’n veearts en haar pa is ’n diereregte-aktivis en joernalis. Om diere te red, is in haar bloed!

Daar is ’n probleem in Lea-hulle se dorp: die uile is besig om dood te gaan! Terwyl al Lea se maats net dink aan die opwindende nuwe restaurant wat oopgemaak het, probeer Lea en haar ouers uitvind wat die uile doodmaak. Vinnig kom hulle agter: die dorp het ook ’n muisplaag en almal probeer van die muise ontslae raak! Is hierdie dinge dalk alles verbind, en wat kan Lea doen om al die diere te red?

KOOP HIER  |  MEER INLIGTING

 

Lea lief seeskilpaaie : Avonture by die akwarium

PRYS: R135.00

Lea lief alle diere!

Lea se ma is ’n veearts en haar tannie werk by die akwarium se seeskilpadredding- en rehabilitasie-sentrum – om diere te red, is in haar bloed! Toe sy die kans kry om saam met haar familie see toe te gaan om haar tannie te gaan help met die seeskilpaaie kan sy nie wag nie. Haar sussie, Lola, het egter net ooghare vir Amelia Ametis: die gewilde popsangeres wat ’n groot konsert hou!

Maar Lea beleef allerhande onverwagse avonture by die akwarium; van ’n siek pikkewyn, ’n skielike swem in die haaitenk en Amelia Ametis wat opdaag – met skilpaddopjuwele! Lea moet net iets doen om die seeskilpaaie te probeer red. Toe kry sy ’n blink plan ...

KOOP HIER  |  MEER INLIGTING

 

Lea lief honde: Hik, Hik, Hoera!

PRYS: R135.00

Hoera vir heldhaftige honde

Lea se ma is ’n veearts en haar pa is ’n diereregte-aktivis en joernalis. Om diere te red, is in haar bloed!

Lea en haar maats, Nikita en Hazel, is kliphard besig om gereed te maak vir die skool se groot honderatsheidskompetisie. Daar is net een probleem: Hik, die hondjie wat Lea gered het, wil net nie die toertjies leer nie! En Lea se ma het gesê as Hik nie maniere leer nie, dan moet hulle hom opgee om aangeneem te word ...

Om dinge erger te maak, vind Lea-hulle uit dat daar ’n hondemeule is wat honde in aaklige omstandighede teel net vir wins.
Sy en haar maats moet iets doen om hulle te red voor dit te laat is.

KOOP HIER  |  MEER INLIGTING

 

Lea lief apies: Grypdiewe en gevaar

PRYS: R135.00

n Skooluitstappie soos min

Lea se ma is ’n veearts en haar pa is ’n diereregte-aktivis en joernalis. Om diere te red, is in haar bloed!

Lea en haar klasmaats is op pad na ’n primaatskuiling toe om vir ’n paar dae as vrywilligers te werk. Sy kan nie wag nie, maar ’n paar van die seuns het heeltamal die verkeerde idee en dink sowaar die apies is troeteldiere! Boonop dwing Suna en Mpho vir Lea, Hazel en Nikita om al hulle werk ook te doen en hulle moet ’n kamer deel. Glad nie pret nie.

Dan begin alles skeefloop: iemand het ’n paar van die apies gesteel! En net toe Lea uitpluis wat met hulle gebeur het begin die bos brand ...

KOOP HIER  |  MEER INLIGTING

 

Vir meer inligting en bestellings, kontak asb vir BYBEL-MEDIA HANDEL by 0860 26 33 42 of bestel@bmedia.co.za. Besoek gerus ook ons webblad by www.bybelmedia.org.za

Gemeentes is welkom om hierdie boeke op hulle gemeenterekening aan te koop.

 

░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░

 

 

Predikante Pensioenfonds inligting sessie:

4-6 Mei kom daar Finansiële adviseurs Natal toe om met alle Predikante wat sou belangstel te kom gesels oor jou pensioen. Hierdie persone is deur die PPF geakrediteur om dit te doen. Hulle gaan met jou persoonlik oor jou eie situasie gesels en vir jou uiters belangrike raad gee. Indien jy belangstel kontak asseblief vir Petrus Botha – 082 340 6600 om jou plek te bespreek. Daar is net ‘n beperkte aantal plekke. Afsluitingsdatum vir bespreking is 16 April 2021. Moenie wag totdat jou aftrede vir jou loer nie, kom gesels nou, bv Sal jy kan aftree op jou huidige bydrae vlak? Wat van annuiteite? En so meer.

Petrus Botha – 082 340 6600 – petrus@ngpongola.co.za

Ons bied die volgende werkswinkels in April aan:

 

12 - 14 April (Aanlyn per Zoom)

Sertifikaat in Bedieningsvernuwing : Module 3

Wie is God?

Dr Andries Kritzinger

Sluitingsdatum: 8 April

 

13 - 14 April (NG Stellastraat)

Opleiding van Begeleiers van 'n Bedieningsdiagnose in gemeentes

Prof Malan Nel

Sluitingsdatum: 8 April

 

20 - 21 April (Aanlyn per Zoom)

Kom ons lees die Ou Testamentiese profete.

Dr André Bartlett

Sluitingsdatum:  15 April

 

 

Indien jy nog nie ingeskryf het nie en graag deel wil wees van hierdie werkswinkels, besoek asseblief ons webblad www.excelsus.org.za om aanlyn aan te skryf.

 

Vir navrae kontak asseblief vir Rika by excelsus.org.za

 

Excelsus-groete

 

Rika

 

░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░

 

Rekeningkundige Beampte

Kantoor van die Algemene Sinode

 

Die kantoor van die Algemene Sinode (geleë in Hatfield, Pretoria) wag aansoeke in vir die pos van rekeningkundige beampte.

Diensaanvaarding: 1 Junie 2021

Sluiting van aansoeke: 20 April 2021

Hooffunksies van die pos

• 

Byhou van die rekeningkundige stelsel van die Algemene Sinode en die Algemene Bevoegdheidsraad.

• 

Boekhouding op Pastel Partner tot proefbalans.

• 

Suiwering van boeke deur rekonsiliasies en joernale.

• 

Bystand met opstel van begroting, finansiële state en oudit.

• 

Voorbereiding van kwartaallikse bestuursverslae.

• 

Hantering van debiteure en krediteure.

• 

Hantering van die jaarlikse registrasiefooie van predikante vir die Algemene Bevoegdheidsregister

• 

Voorbereiding , verkryging van goedkeuring en opstel van betalings.

• 

Skakeling met finansiële - en beleggingsinstansies, versekeringsmakelaar en diensverskaffers.

• 

Skakeling met streeksinodes, taakspanne en ander instansies.

• 

Hantering van statutêre vereistes ten opsigte van SARS en finansiële instellings.

• 

Hantering van finansiële navrae.

• 

Byhou van bateregister en versekeringskedule.

• 

Administratiewe ondersteuning aan finansiële -, oudit- en beleggingskomitees.

Pos spesifikasies

Werksure: 07:00 – 13:00 (met die voorwaarde dat langer werksure vir vergaderings in die middag en in bepaalde druk tye verwag kan word).

Die persoon moet in staat wees om sy/haar eie werk te beplan, te organiseer en te implementeer. Goeie interpersoonlike vaardighede is 'n vereiste.

Kwalifikasie: ten minste een jaar toepaslike naskoolse opleiding

Praktiese opleiding: Grondige kennis van Pastel Accounting

Ondervinding: Twee jaar toepaslike rekeningkundige ondervinding. Kerklike ondervinding sal gunstig oorweeg word.

 

'n Volledige posbeskrywing en vergoedingskaal is op navraag beskikbaar.

Rig navrae aan dr Lourens Bosman (Algemene Bestuurder) by lourensb@ngkerk.org.za selfoonno: 0828398841

Die Sinode behou die reg voor om nie iemand in die pos vanuit die aansoeke aan te stel nie.

 

░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░░

 

'n Afspraak met Jesus

Lukas 24:13-35

Twee droewige manne is op pad. Dit is Sondagmiddag, en hulle harte is baie swaar waar hulle loop en gesels oor die verskriklike en uiters onverstaanbare dinge wat die afgelope paar dae gebeur het. Eers was dit Jesus, die Meester wat hulle die afgelope ruk gevolg het, wat deur die Joodse leiers gevang en tereggestel is, en toe, vanoggend die verskriklike ontstellende nuus dat Sy liggaam nou ook onverklaarbaar verdwyn het. Hulle verstaan nie, dit maak gládnie sin nie! Niks maak meer sin nie!

Kleopas en sy vriend het sulke hoë aspirasies gehad. Hierdie Messias was die Een wat hulle sou verlos van die Romeine. Maar toe begin dinge skeefloop, en al hulle drome verkrummel toe Hy gevange geneem word en soos ‘n misdadiger aan die vloekhout-kruis sterf. En nou, vanoggend se ontstellende gebeure! ‘n Paar vroue het vertel dat hulle engele gesien het wat glo vir hulle sou vertel het dat Jesus opgestaan het. Petrus en Johannes het ook gaan kyk na die graf, en slegs die doeke gekry het waarin Jesus toegedraai was.

Hierdie dinge het die twee manne só ontstel dat hulle besluit het om liewer uit Jerusalem pad te gee. Hulle bestemming is die dorpie Emmaus.

En toe kom Jesus by!

Die Here het eers die twee manne se oë toegemaak sodat hulle nie vir Jesus herken het nie, maar baie later, na ‘n lang gesprek maak Hy hulle oë oop sodat hulle Hom herken.

Hulle is opgewonde! Sulke wonderlike nuus mag nie eers bly tot die volgende dag nie. Hulle hardloop terug na Jerusalem waar hulle begroet worddeur ‘n ewe-opgewonde dissipelkring: “Die Here het regtig opgestaan!” word hulle meegedeel, nog voor hulle eers hulle eie wonderlike verhaal kan vertel.

Dit is alreeds 2000 jaar later, en ek is steeds opgewonde oor Jesus se opstanding. Daardie “kraakvars” nuus word steeds opgewonde oorvertel deur ‘n skare van gelowiges. Dit behoort by elkeen van ons ‘n obsessie te wees om dit oor en oor te vertel aan almal wat oor ons pad kom.

Hy het wáárlik opgestaan!

Louis Nel