Beste kollega

My bede in hierdie stadium is dat dit met jou goed gaan ongeag al die uitdagings wat aandag en energie van jou vra. Jy as leraar en pastor, met ’n wye spektrum van verantwoordelikhede, moet op baie vrae antwoorde gee en aan baie behoeftes aandag skenk. Mag die woorde van Klaagliedere 3:21-23, wat in ’n tyd van beleg geskryf is, vir jou in ons tyd verseker van God se genade en trou:

Maar dit sal ek ter harte neem en om die rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke more nuut. U trou is groot.

Hierdie skrywe is ongewoon lank, maar ek is van mening dat dit belangrike inligting bevat vir jou om in ’n uitdagende tyd goed te kan funksioneer. Die ruimte waarin ons in die tyd van Covid-19 leef en werk, word deur allerhande reëls en regulasies gedefinieer. Ons uitdaging tans is dat hierdie maatreëls en die toepassing van die ramptoestand-regulasies nie genoeg sekerheid bied ten opsigte van die grense waarbinne ons met sekerheid sou wou leef en werk nie.

Dit is duidelik dat daar in die afgekondigde maatreëls vir vlak 5 tot 1 glad nie voorsiening gemaak is vir godsdienstige byeenkomste nie. Dit sal moontlik slegs ná vlak 1 hervat word. Die sake wat om hierdie rede tot die grootste onsekerheid lei en die meeste vrae ontlok, sluit in:

  • Al is “alle maatskaplike werk”, “berading” en “versorgings- en hulpverleningsaktiwiteite” nou as toegelate dienste onder vlak 4 opgeneem, is dit nie heeltemal duidelik wat dit alles behels nie.
  • Mag kerkkantore open selfs as godsdienstige byeenkomste nie toegelaat word nie?
  • Kan huwelike bevestig word terwyl die registrasie van huwelike by die Departement van Binnelandse Sake nie oral moontlik is nie?
  • Wat is toelaatbaar met begrafnisse?
  • Is die uitdeel van kospakkies en die uitreik na gemeenskappe buite gemeentegrense moontlik?
  • Wanneer sal erediensbyeenkoms weer moontlik wees?

Streke en amptenare interpreteer maatreëls en regulasies verskillend. Dit maak dat die konteks waarbinne ons ons getuienis en diens aan gemeenskappe wil lewer, grys en vaag is. Hierdie skrywe wil probeer lig werp op wat van toepassing is vir ’n leraar van die NG Kerk. Riglyne kan egter binne dae nie meer van toepassing wees nie omdat ons situasie geweldig vloeibaar is.

Die breë raamwerk waarbinne die reëls en regulasies geïnterpreteer moet word, is die nasionale ramptoestand wat afgekondig is. Op 15 Maart 2020 het president Cyril Ramaphosa ’n nasionale ramptoestand afgekondig. Hy het hierdie bevoegdheid in terme van die Wet op Rampbestuur 57 van 2002. Die doel van hierdie wet is om voorsiening te maak vir ’n geïntegreerde en gekoördineerde rampbestuursbeleid wat fokus op die voorkoming of vermindering van die risiko van rampe, die verligting van die felheid van rampe, noodgereedheid, vinnige en doeltreffende reaksie op rampe en na-rampherstel en rehabilitasie. Voorts maak dit voorsiening vir die instelling en werking van nasionale, provinsiale en munisipale rampbestuursentrums, vir rampbestuurvrywilligers en aangeleenthede wat daarmee verband hou.

Oor wat toelaatbaar is tydens vlak 1-5 kan ons kyk na die dokument wat deur Dewyk Ungerer en Bossie Minnaar voorberei is. Dit bevat ook dokumente en inligting oor hoe gemeentes vir TERS kan terugeis. KLIK HIER vir die volledige dokument.

Die dokument dek die meeste van die vrae wat in hierdie tyd gevra word. Wat hier volg, is ’n paar aantekeninge, aansluitend by bogenoemde dokument, oor vrae wat gereeld deur predikante gevra word.

Kerklike byeenkomste

Die uitvoering van die ramptoestandregulasies is steeds onderhewig aan die Grondwet. Ten opsigte van die regulasie oor die verbod op byeenkomste sal die vraag deur die kerk gevra kan word of dit nie indruis teen die Grondwet nie. Kan kerke nie maar oopmaak en eredienste hou nie? Die Grondwet bepaal immers byvoorbeeld die reg op vryheid van beweging, vryheid van assosiasie in soverre geen “byeenkomste” toegelaat word nie en, in ons geval, godsdiensvryheid en die reg om gesamentlik ons geloof te beoefen. Die Grondwet maak ook voorsiening vir die beperking van fundamentele regte in artikel 36. Dit word toegelaat onderhewig aan sekere voorwaardes soos dat dit redelik, regverdigbaar en billik is gemeet aan die doelwitte wat bereik moet word. ’n Moslemgroep het juis in dié verband ’n dringende hofbevel aangevra. Die groep het, in die lig van vieringe rondom Ramadan, gevra vir die onmiddellike opening van moskees, hoewel onder sekere voorwaardes. Die hof het die aansoek van die hand gewys as niedringend op die grondslag dat almal op die oomblik opofferings moet maak vir die groter voordeel – nie net vir dié van die godsdienstige gemeenskap nie. Die hof het verwys na die Zion Christian Church wat hulle byeenkoms tydens Paasfees gekanselleer het, kinders wat nie skool toe kan gaan nie, besighede wat gesluit word, die informele indiensnemingsektor van die ekonomie, en so meer. Die uitkoms is vir ons en ander geloofsgroeperinge baie belangrik en bring duidelikheid oor die feit dat kerklike byeenkomste nie gou toegelaat sal word nie.

Bevestiging van huwelike

In sake die bevestiging van huwelike word onderskei tussen die materiële vereistes vir ’n geldige huwelik en die administratiewe regulering daarvan. Slegs eersgenoemde is bepalend vir die huwelik se status as “wettige” regsgeldige huwelik. Die huwelik is regsgeldig die oomblik wat bruid en bruidegom tydens die seremonie albei JA op die vrae van die bevestiger geantwoord het. Die vraag of die registrasie as inskrywing by die Departement van Binnelandse Sake geregistreer is, speel vir die geldigheid daarvan geen rol nie. Dit kan wel lastige bewysprobleme meebring indien dit sou bly ontbreek, want die bewyswaarde van die sertifikaat en registrasie is belangrik om die bewys van die huwelik makliker te maak. Nakoming van of gehoorsaamheid aan die regulasies het geen invloed op die geldigheid van die huwelik nie, maar oortreding daarvan stel almal bloot aan vervolging en die strawwe soos afgekondig. Hou dus by die voorskrif wat die beperkte getalle betref.

Wat die lokaal betref, is die enigste vereiste dat die deure tot die lokaal waar die huwelik bevestig word nie gesluit mag wees nie. Huwelike met ’n maksimum van 10 persone teenwoordig voldoen aan die regulasies. Die voorskrifte van die Covid-19-regulasies soos sosiale afstand, maskers en handreinigers moet eerbiedig word.

Die uitdeel van kospakkies

Die uitdeel van kospakkies is ’n uiters kontroversiële toepassing van die ramptoestand-regulasies. Die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Aangeleenthede (COGTA) gee volgens berigte slegs drie permitte per organisasie, en hierdie drie permitte mag slegs gebruik word vir die verspreiding na vyf mense elk. In Gauteng het die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling (DSD) aanwysings uitgereik dat alle voedselverspreiding in die provinsie gesentraliseer moet word en slegs van een sentrale opbergingsfasiliteit by Booysens versprei moet word. Vrystellings is moontlik onder baie streng voorwaardes, soos aansoeke 48 uur voor die tyd, en moet in samewerking met die departement geskied. Dieselfde geld in Emalahleni. Hier moet betrokke persone die stadsraad se uitdruklike goedkeuring hê, wat aandui watter kos versprei gaan word, aan wie en waar. Kospakkies moet ook eers deur ’n gesondheidsinspekteur ondersoek word. Dit gaan hier oor hulpverlening deur middel van kospakkies aan die breë gemeenskap en nie binne ’n gemeente nie.

Die fundamentele regte wat met dié beperkende toepassing van regulasies aangetas word, is veelvuldig: Vanuit die oogpunt van die individu word hulle menswaardigheid aangetas, wat gerespekteer en beskerm moet word; daar is ook die reg op lewe, want hongersnood dreig, die reg op kos en water (artikel 27(1)(b)), en die reg van kinders op behoorlike voeding (artikel 28(1)(c)). Vanuit die oogpunt van kerke beperk dit weer die reg op die uitleef van godsdiensvryheid. Die reëling beperk die NG Kerk, gedrewe deur sy missionale ekklesiologie, byvoorbeeld in die versorging van dié wat aan armoede en hongersnood blootgestel is. Organisasies is tans besig om voor te berei om hulle tot die hof te wend om die regsgeldigheid van die toepassing van regulasies te toets.

Soos reeds gemeld, is die interpretasie en toepassing van hierdie reëling wyd en vaag. Terugvoering in hierdie stadium is dat gemeentes en organisasies wel nog kospakkies versprei binne die raamwerk van die afgekondigde regulasies van die ramptoestand. Dit blyk dat indien daar ruimte is om direkte lewerings te doen, onder die een of ander vorm van beheer, dit moeilik sal wees om die kontrole-element uit te skakel. Die nodige registrasie moet gedoen word en wanneer daar ’n probleem ontstaan, moet dit op ’n hoër vlak met amptenare bespreek word. Daar bestaan egter nie regulasies wat die direkte hulpverlening deur middel van kospakkies verbied nie. Dit is ook die standpunt van groot landbou-organisasies in hierdie tyd wat direkte hulp aan gemeenskappe verleen.

Ander nuus van belang

Die Taakspan Missionale Diakonaat onder leiding van Nioma Venter, Rupert de Koning, Botha van Aarde en Johan Botha het ’n omvattende handleiding saamgestel om gemeentes op ’n baie praktiese manier te help om vanuit netwerke en die ekumene troos en verligting deur praktiese hulpverlening en pastorale bystand te bring. Die vraag waarmee die dokument werk is: Hoe organiseer ons onsself om op die doeltreffendste manier op die huidige Covid-19-realiteit te reageer? Hoe posisioneer ons onsself om ’n lewegewende verskil aan die langertermyn-werklikheid van ons gemeentes en elke persoon in ons land te maak? KLIK HIER vir die handleiding.

Die NG Kerk werk nou saam met verskeie ekumeniese vennote in hierdie tyd. Dit is belangrik dat ons hande vat met ander denominasies om gemeenskappe te ondersteun. In hierdie opsig is inligting oor die SARK se Pastoral Plan aan jou deurgegee, waarvan die funksionering van sogenaamde LEANS ’n belangrike onderdeel vorm. Bogenoemde handleiding sluit hierby aan. Ekumeniese samewerking is ook belangrik om ’n profetiese stem te laat hoor teenoor magsmisbruik en sosiale ongeregtigheid. In hierdie verband het ons deur die SARK protes aangeteken teen die magsmisbruik van die sekuriteitsmagte. Kwessies van sosiale ongeregtigheid soos die regering se weiering van hulp aan vreemdelinge het ook aandag geniet. Die NG Kerk het ’n brief gerig aan aartsbiskop Thabo Makgoba, as sameroeper van ’n komitee, met voorstelle hoe kerke geleidelik met verantwoordelikheid oopgemaak kan word vir hulle bedienings.

Ten slotte ’n woord van dank vir al die pogings waarby jy betrokke is. Wonderlike verhale van hoop speel oor ons land heen af en die NG Kerk staan in die middel daarvan. Dit bring ’n diep dankbaarheid oor waarby ons betrokke kan wees in ’n tyd soos nou. Dankie vir dit wat jy doen en die opofferings wat jy en jou gesin maak om hoop te bring.

Saam in Sy diens

Gustav Claassen
Algemene Sekretaris
Nederduitse Gereformeerde Kerk