Beste Kollega

Ons is almal so bietjie met ‘n blitsbal uitgevang met grendeltyd wat ons soos ‘n dief in die nag bekruip het. Ons ervaar elkeen ons eie emosies…

Persoonlik was dit vir my goed om ‘n bietjie stadiger tyd te kon ingaan. Mens hardloop oor soveel jare te veel rond. Dit is eers as ‘n mens gedwing word om tot stilstand te kom, dat meeste van ons besef het, hoe vining die lewe geword het. Dit is amper asof die tempo van die lewe onsigbaar jaarliks meer eise aan ons gestel het en die lewe net vinniger en vinniger geword het.

Soos wat ek met predikante kontak het , hoor ek die volgende:

Daar is in die tyd ‘n geleentheid om dieper by stiltetyd en die Bybel uit te kom;

Daar is meer tyd vir familie;

Dit is vir my persoonlik vreemd om in die aande by die huis te wees;

Elkeen kon ‘n paar ekstra boeke lees, waarna ons al lankal uitsien;

Ons moes onsself almal inskerp om elektronies op nuwe maniere te kommunikeer;

Daar is mense wat nie genoeg data het nie, so elektroniese kommunikasie werk nie vir hulle nie;

Ouer persone is bitter alleen en is nie altyd elektronies fiks nie;

Gemeentes het weereens na ons as predikante gekyk om die Groot planmaker te wees;

Daar is ‘n merkbare afname in gemeentes se finansies;

Kollektes Sondae het opgedroog;

Gemeentelede is bekommerd oor hul eie finansies en gaan moontlik hul werk verloor;

Daar is lidmate wat siek is, wat ons net glad nie kan besoek nie;

Ons het fiks geword om oor die foon te bid en pastorale werk te doen;

Sterfgevalle is ‘n reuse uitdaging, begrafnisse kan nie in kerkgeboue plaasvind nie. Ons kan nie die families persoonlik gaan vertroos nie;

Ons is bekommerd oor die gemeente se finansies en die feit dat dit direk ons finansies raak;

Baie predikante in KZN het klaar begin salaris opofferings maak;

Terwyl almal so stadig aan die grendel lig, is ons nog steeds beperk in ons normale werk;

Daar is ‘n goeie kans dat ons eers teen September normale eredienste op Sondae kan hou;

Al hierdie aspekte stel geweldige uitdagings aan elkeen van ons! Mens wonder hoeveel van die lidmate gaan teen September terug keer kerk toe? Gaan rantkerklikes nie die geleentheid gebruik om finaal die band met die kerk te sny nie? Gaan ‘n klomp lidmate nie aandring om verder net elektronies bedien te word nie, dat hul so gewoont geraak het om in hul huise bederf te word, dat hul dit verder verkies nie?

Al hierdie vrae maal onderliggend in ons koppe en elkeen kan aan nog ‘n paar sake dink wat miskien in jou konteks uitdagings is… In 2016 het ons Sinode die tema : IN CHRISTUS IS ONS HOOP aanvaar. Dit was die opvolg van die 2012 – 2016 tema: In Christus saam op pad. Hierdie twee tema’s help ons veral in hierdie moeilike grendeltyd. By Paulus vind ons twee aspekte van Hoop. Eskatologiese hoop en Gerealiseerde hoop. Laasgenoemde skuif veral die fokus van hoop van die hiernamaals, na die hier en nou. Hoe kan ek en jy die hoop wat in Christus is vandag ervaar? Paulus koppel juis hoop aan geloof en liefde.

Miskien ervaar jy iets van die kompleksiteit om ‘n draer van hoop te wees, as daar soveel bogenoemde vrae en onsekerheid deur jou kop maal. Die Petrusbriewe help ons verder as lyding direk aan Hoop gekoppel word. Vir ‘n baie lang tyd is die kerk in Suid-Afrika nie ‘n lydende kerk nie. Ek doen oor die laas jaar bietjie navorsing oor John Knox. Ons vergeet dikwels hoe die kerkhervormers almal gely het. Meeste van John Knox se moeisame opofferinge sou eers na sy lewe vrugte afwerp. Ons vergeet dat ons geroep is om in die bediening te staan, dat lyding direk aan bediening gekoppel word. Ons kan al die onsekerheid oor die bedieninge waarin ons vandag staan aan God oorgee. Hy sal op Sy unieke manier voorsien! Elke toe deur sal begroet word met ‘n oop deur, wat God self op Sy tyd sal oopmaak. Elke Gemeente is Sy gemeente, nie ons s’n nie, en dat Hy vreemde paaie oopmaak op Sy tyd, ook in die woestyn. Ons as predikante wik, maar God beskik op Sy tyd en op Sy unieke manier. Mag jy ervaar dat dit die Hoop is wat God in hierdie dae in jou hart ingraveer.

Die Moderatuur vergader elektronies volgende week en sal ‘n klompie praktiese sake bespreek. Daarna sal SVL elektronies vergader en kyk hoe ons verder Gemeentes kan help met finansies. Ons sal ook kyk of ons 8 – 10 September die Sinode bietjie moet aanskuif.

Baie dankie  vir soveel gemeentes wat reeds by noodverligtingsprojekte in jul gemeenskappe betrokke is. Jul kan weer die inligting van die Algemene Sinode hieroor lees en verder strategies daaroor reflekteer. Covid 19 maak vir ons ‘n groot geleentheid oop om by die nood van die gemeenskappe waarin ons leef, betrokke te raak. Kom ons dink kreatief daaroor. Ons dink ook hoe ons by mekaar kan leer om elektroniese kommunikasie te verbeter. Daar gaan duidelik ‘n “nuwe normal” wees na Covid 19. Ons is egter nog onseker wat die inhoud daarvan gaan wees vir ons as gemeentes.

Mag julle ervaar dat die Here jul versterk en vul met Sy Goddelike Hoop.

Groete in Christus

Barry Tolmay